Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jagter nog bedenklik nadat buffel hom takel

Die beroepsjagter wat ternouernood aan die dood ontkom het toe ’n beseerde buffel hom in Limpopo gegaffel het, is steeds in ’n bedenklike toestand in die Polokwane- provinsiale hospitaal.

FC Prinsloo (43) van Modimolle (Nylstroom) is Vrydag steeds aan ’n asemhalingstoestel gekoppel in die waakeenheid.

Prinsloo het Dinsdag ernstige veelvuldige beserings opgedoen toe ’n ou buffelbul hom bestorm het in die Makuya-gebied, sowat 300 km noordoos van Polokwane, digby die Krugerwildtuin.

FC Prinsloo (43), ’n beroepsjagter is ernstig beseer toe ‘n buffel hom in die noordooste van Limpopo gegaffel het. Foto: Verskaf

Sy vrou, Estelle, het in ’n boodskap aan vriende gesê hy het Donderdag “ ’n moeilike nag gehad. Hy het erg koors en sy hartklop is hoog. Sy lyf veg teen infeksie.”

Die egpaar behoort nie aan ’n mediese fonds nie. Sy het vir gebede vir haar man gevra.

Prinsloo is ’n beroepsjagter by Bushmans Quiver Quality African Safaris en was Dinsdag saam met Stephan van der Merwe, eienaar van die onderneming, op ’n jagtog. Van der Merwe sê hulle het nié die buffel gejag nie.

Die buffelbul het ’n draadstrik, wat deur stropers in die veld gestel is, aan sy linkerbeen gehad en uit die bosse op Prinsloo afgestorm.

Van der Merwe sê die buffel se horings het Prinsloo se regterbeen en bors deurboor. Van sy ribbe wat gebreek het, het ’n gat in sy een long gesteek.

Van der Merwe en spoorsnyers moes ’n draagbaar uit boomtakke en materiaal van hul geweersakke prakseer waarop hulle Prinsloo deur digte bosse gedra het.

Die handgemaakte draagbaar waarmee FC Prinsloo uit digte bosse in Limpopo gedra is nadat ‘n buffel hom gegaffel het. Foto: Verskaf

’n Private helikopter is ontbied en Prinsloo is in Makuya opgepik en na ’n teerpad in Masisi gevlieg waar ’n ambulans van die departement van gesondheid hom na die staatshospitaal in Musina vervoer het.

Prinsloo is in dié hospitaal gestabiliseer en per noodhelikopter na Polokwane gevlieg. Dokters het vir etlike ure op hom geopereer.

Die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika se bewarings- en-bemagtigingsfonds samel geld in sodat Prinsloo na ’n private hospitaal in Polokwane oorgeplaas kan word.

Vir meer inligting besoek https://phasa.co.za/ .

Van der Merwe sê sy mediese onkoste kan honderdduisende rande beloop.

“Gebede stroom van reg oor die wêreld in vir hom. FC is ’n yster en ons glo hy gaan volkome herstel.”

Meer oor:  Fc Prinsloo  |  Modimolle  |  Beroepsjagter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.