Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
James Small: Rebel met sagte hart

Hy kon wel ’n “komplekse” karakter wees, maar almal wat hom geken het, het diepe waardering vir James Small as rugbyspeler én as meelewende mens gehad.

Dit was duidelik ná die nuus dat Small, ’n held van die Springbok-span wat die Wêreldbeker in 1995 verower het, Woensdagoggend in die ouderdom van 50 dood is.

James Small omhels Francois Pienaar op die rugbyveld. Foto: Gallo Images

“Ons vermoed dit was ’n hartaanval, maar kan dit nog nie bevestig nie,” het Vaughn Small, sy ma, aan Jana Breytenbach gesê.

Small, wat gesukkel het om sy humeur op die veld te beteuel en die smalle weg van die veld af te bewandel, het as Suid-Afrikaanse rugby se “stout seun” bekend gestaan.

Maar volgens sy kollegas en vriende het daar meer in hom gesteek as wat sy openbare beeld laat blyk het.

“James was altyd onverskrokke op die veld en het van die veld af diepe deernis met mense gehad,” sê Francois Pienaar, kaptein van 1995 se triomfantelike span.

Nog een van sy 1995-spanmaats, die stut Os du Randt, is baie hartseer.

“Soos in jou rugbyloopbaan dink jy jy het nog baie tyd in die lewe ook oor. En dan, skielik, is dit verby. Die nuus oor James se afsterwe is baie sleg. Ons dink almal in dié tyd aan sy familie. Dis tragies om enigiemand op so ’n jong ouderdom te verloor,” sê Du Randt.

“Hy was omstrede, maar hy was nooit bang om homself te wees nie.”

Chester Williams, Small se vleuelmaat in die 1995-eindstryd, sê Small was een van sy beste vriende. “Hy was ’n goeie mens, op en van die veld af. Hy gaan gemis word.”

Hy was ’n goeie mens, op en van die veld af.
CHESTER WILLIAMS
James Small (derde van links) en sy Bok-spanmaats voor die afskop van die Wêreldbeker-eindstryd. Chester Williams is naaslinks en Os du Randt naasregs. Hulle het albei nog onlangs vir Small gesien en is geskok deur sy afsterwe. Foto: Gallo Images

Williams sê anders as die hardekwas-speler wat ondersteuners op die veld gesien het, was Small ’n saggeaarde mens.

“Hy was ’n sagte man. Hy het ’n groot mond, maar klein hart gehad. Hy sal as ’n legende van Suid-Afrikaanse rugby gereken word. Ja, daar gaan weer goeie vleuels kom, maar niemand soos James nie,” sê Williams.

Morné du Plessis, die spanbestuurder in 1995, sê Small was ’n lieflike en goedhartige mens.

James Small is deur Corné Krige as rebels beskryf, maar ’n speler wat hy eerder in sy span wou hê as om teen hom te speel.Foto: Gallo Images

“Hy was altyd gewillig om ander te help. Hy was ’n puik speler in baie Springbok-spanne, veral in 1995,” sê Du Plessis.

Nick Mallett, die Springbok-afrigter onder wie Small in 1997 gespeel het, sê hy was puik met jong, onervare Springbok-spelers en het sy rol as mentor geniet.

“Ek’s seker hy sou graag onthou wou word as ’n trotse lid van 1995 se Wêreldbeker-span wat die taak gehad het om die byna onstuitbare Jonah Lomu te merk.”

Gary Teichmann, een van Small se Bok-kapteins, bestempel hom as ’n puik speler.

“James kon die spel baie goed lees en was geweldig passievol.

“Hy het ’n fantastiese rugbybrein gehad,” sê Teichmann.

Corné Krige, wat saam met Small in die WP-span was wat die Curriebeker in 1997 verower het, sê hy was ’n speler wat jy “eerder in jou span as teen jou wou hê”.

“Hy was ’n rebelse ou en het nie van gesag gehou nie, maar ’n ongelooflike spanman,” sê Krige.

James Small was onverskrokke op die rugbyveld en het gereeld gebloei vir die spanne vir wie hy uitgedraf het.Foto: Gallo Images

Mervyn Taylor, hoof van die Noordwes-Universiteit se rugby-instituut en president van die Luiperds, onthou Small as iemand wat geen moeite ontsien het vir die spelers wat hy help afrig het nie.

“James het in 2015-’16 gehelp om die Pukke se Varsitybeker-span en die Luiperds se Curriebekerspan af te rig.

“Hy het ’n impak gehad op die ouens en hulle het waardering gehad vir hoe hy met hulle gewerk het.

“Hy het net nou die dag nog in Johannesburg kom kyk toe ons gespeel het.

“Hy het altyd moeite gedoen om te kom kyk as die Pukke daar speel.

“Ons was baie lief vir hom. Dis sleg om te hoor hy is dood – nog so jonk, en met twee kinders,” sê Taylor.

Lees ook:

Meer oor:  James Small  |  Rugbyspeler  |  Sterfgeval  |  Celebs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.