Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Jammer, g’n eis – jy’t mos al afslag gekry . . .’

Sy het haar splinternuwe metaalsilwerkleurige Etios Sprint twee jaar gelede met ’n toegeruste Cartrack-opsporingstelsel by die motorhandelaar NTT Delmas gekoop.

Maar toe Isabel Taljard se motor net meer as ’n maand gelede by haar werk in Hatfield, Pretoria, gesteel word, moes sy hoor sy is nie geregtig op die R150 000-uitbetalingswaarborg wat Cartrack belowe as hulle nie jou motor terugkry nie omdat sy nie die volle kleinhandelprys vir die eenheid betaal het nie, maar dit teen ’n afslagprys gekry het.

By Cartrack is ons so vol vertroue, ons sal jou betaal as ons nie jou kar kan opspoor nie.

Dit was die eerste keer dat Taljard van die “afslagprys” hoor. Nêrens op die kontrak wat sy met die opsporingsmaatskappy geteken het toe sy die motor gekoop het, is melding hiervan gemaak nie.

Johnny Smith, Cartrack se opsporingsbestuurder, het in ’n e-pos aan Isabel laat weet sy het nie die volle kleinhandelprys vir die eenheid betaal nie, maar ’n afslagprys. Die afslag was R30 – pleks van die volprys van R219 vir die eenheid het Isabel R189 betaal.

“Daarom is ons jammer om jou te laat weet jy kwalifiseer nie vir die beperkte opsporingswaarborg nie.”

Op sy webwerf spog Cartrack sy opsporingswaarborg is ’n eerste in die land. “By Cartrack is ons so vol vertroue dat ons jou kar sal opspoor, ons voeg daad by woord en sal jou tot en met R150 000 uitbetaal as ons nie kan nie. Die waarborg geld vir aankope van Cartrack se gesteelde-voertuigopsporingsprodukte.”

Boonop het IntegriSure, die versekeringsmaatskappy waarby haar motor verseker was, die motor by die bank afgelos, maar sy het nie ’n sent uitgekry nie.

Isabel was verpletter. “My hart was stukkend toe ek hoor ek kry niks van die versekering af nie omdat my kar nog te nuut was,” sê sy.

Harry Louw, Cartrack Suid-Afrika se uitvoerende hoof, het Vrydag telefonies aan Rapport gesê hy dink nie die kliënt is regverdig behandel nie en haar saak is heropen.

In ’n e-pos sê hy hulle het die spesifieke voorval hersien. “Ons bemark ’n verskeidenheid pakkette. Die opsporingswaarborg is uniek, en die regte pakket is nie aan die kliënt verkoop nie. Daar was ’n mate van dubbelsinnigheid by die verkoop van die motor en ons onderhandel met die kliënt om ’n bevredigende uitkoms te verseker.”

Louw sê hul kommunikasie oor produkpakkette kan verbeter en hy het onderneem om dit noukeurig te ondersoek.

Meer oor:  Motordiefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.