Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jammer om so ondiplomaties te wees, maar . . . skoert uit SA!

Sewe diplomate van Lesotho en vyf van hul gades moet padgee uit Suid-Afrika omdat hulle onwettig belastingvrye alkohol verkoop het.

Malika Sylviah Molapo-Mphofe, raad van Lesotho se hoë kommissaris in Pretoria.

Onder hulle is ’n diplomatieke raad, die flambojante Malika Syl­viah Molapo-Mphofe.

Die 12 is die afgelope week tot persona non grata in Suid-Afrika verklaar.

Hulle het dus nie meer diplomatieke immuniteit wat hulle teen inhegtenisneming of vervolging beskerm nie.

Suid-Afrika se departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het Lesotho se hoë kommissaris in Pretoria Donderdag skriftelik in kennis gestel die diplomate en hul afhanklikes het hul diplomatieke voorregte misbruik.

Hulle moet die land binne 72 uur, dus teen vandag, verlaat.

Die departement het die hoë kommissaris beveel om toe te sien dat die 12 se diplomatieke identiteitskaarte binne drie werksdae ingetrek word. Hul paspoorte moes dadelik aan die departement oorhandig word om hul tydelike verblyfvisums in te trek.

Teboho Charles Letsela, konsulêre attaché van Lesotho in Johannesburg.

Die diplomatieke voertuie wat hulle gebruik het, moet gederegistreer word, lui die dokument wat aan die hoë kommissaris gestuur is.

Een van die oortreders is ’n motorbestuurder. Die meeste is vroue.

Lesotho se ministerie van buitelandse sake en internasionale betrekkinge het Donderdag in ’n mediaverklaring gesê hy sal tugstappe teen die groep doen sodra hulle in Lesotho aankom. Hy doen ook stappe om toe te sien dat hulle binne 72 uur terug in hul land is.

Die ministerie het gesê hy is in die verleentheid gestel en teleurgesteld in sy diplomate.

Van die diplomate het in Pretoria gewerk en ander by Lesotho se konsulaat in Johannesburg.

Die Suid-Afrikaanse regering het ingevolge die Weense konvensie oor diplomatieke verhoudinge van 1961 opgetree omdat die diplomate Suid-Afrikaanse wette oortree het deur handel te dryf in belastingvrye alkohol, het Lesotho se ministerie gesê.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het die slenter blootgelê waarin diplomate groot volumes alkohol by belastingvrye handelaars gekoop en dit plaaslik verkoop het. Hierdeur het hulle die belastinggaarder met belastinggeld van sowat R100 miljoen per maand ingeloop.

Clayson Monyela, woordvoerder van Dirco, het Vrydag gesê alle diplomate van Malawi is ook uit Suid-Afrika geskop.

Ná ’n omvattende ondersoek is die diplomate van Lesotho en Malawi skuldig bevind aan onwettige drankhandel.

Malawi se regering het die skorsing van sy diplomate bevestig en hul optrede veroordeel.

Die Malawiese regering het gesê hulle het hulle besig gehou met aktiwiteite wat geen waarde vir sy buitelandse beleid het nie.

City Press, susterskoerant van Rapport, het betroubaar verneem nog verskeie diplomate van Rwanda, Lesotho, Ghana, Guinee en Burundi word ondersoek vir die verkope van alkohol en sigarette wat by belastingvrye winkels verkry word.

’n Dirco-amptenaar het gesê die departement, die SAID en ander wetstoepassers is amper klaar met die ondersoek. Die amptenaar het gesê die SAID het inligting van gelisensieerde belastingvrye winkels gekry oor die verkoopsyfers, hoeveelhede produkte en die besonderhede van die buitelandse diplomate wat die items kom koop het.

Meer oor:  Lesotho  |  Malawi  |  Dirco
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.