Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jan Taks weier om jammer te sê

Dit is “skokkend” dat die Inkomstediens (SAID) steeds weier om voormalige werknemers wat destyds onregmatig van wandade daar beskuldig is, om verskoning te vra, sê Johann van Loggerenberg, die voormalige hoof van ondersoeke by die belastinggaarder.

Johann van Loggerenberg. Foto: Deon Raath

Hy is deesdae sameroeper van die ondersteuningsgroep Survivors of State Capture at SARS.

Rapport het Van Loggerenberg om kommentaar genader nadat die ouditfirma KPMG aangekondig het dat hy huidige en voormalige SAID-werknemers sal vergoed wie se reputasies skade berokken is in sy omstrede verslag oor die SAID se geheime ondersoekeenheid (rogue unit).

Prof. Wiseman Nkuhlu, voorsitter van KPMG Suid-Afrika, het verlede Vrydag met die bekendstelling van sy outobiografie gesê KPMG het met die SAID ooreengekom dat hy ’n bydrae moet lewer om vergoeding te betaal aan werknemers wat skade gely het weens sy verslag.

“Die kwessie van vergoeding het hom voorgedoen toe die herstel van vertroue met die SAID bespreek is. KPMG het ooreengekom dat die firma ’n bydrae moet lewer tot herstelbetalings en om genesing vir mense te bewerkstellig,” het Nkuhlu gesê met die bekendstelling van sy boek Enabler or Victim? KPMG and State Capture.

Hulle én hul familielede kry nie werk nie.

KPMG het in 2015 ’n verslag opgestel oor die geheime ondersoekeenheid wat gedurende Pravin Gordhan se termyn as belastingkommissaris ondersoek ingestel het na welvarende individue. KPMG het te kenne gegee dat daar onwettig op mense gespioeneer is.

Tom Moyane, voormalige kommissaris van die SAID, het dié beskuldigings van KPMG gebruik as ’n rede om sy uitvoerende komitee te ontbind, van senior mense soos Ivan Pillay (voormalige SAID-hoof) en Van Loggerenberg ontslae te raak en die SAID se organisasiestruktuur te verander.

Sowat 45 werknemers is deur die verslag betrek.

KPMG het in 2018 om verskoning gevra vir die verslag en aangebied om R23 miljoen aan die SAID te betaal. Hulle sou ook die R40 miljoen wat hulle uit werk vir die Guptas verdien het aan liefdadigheid skenk.

Siphithi Sibeko, SAID-woordvoerder, het by navraag gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die kwessie nie. “Die Belastingwet verbied my om enigiets te bevestig of te ontken aangesien individuele belastingbetalers hier ter sprake is,” sê hy.

Van Loggerenberg sê hy verwelkom Nkuhlu se uitsprake maar hy is terselfdertyd geskok oor die SAID se stilswye oor die aangeleentheid. “Nkuhlu het ondubbelsinnig verskoning gevra en erken dat KPMG se verslag heeltemal gediskrediteer is en groot skade vir mense veroorsaak het. Ek waardeer dit dat KPMG die 45 mense en hul families wil vergoed wat hieronder gelei het.

“Dit is mense wat probeer het om hul eie lewens te neem, wat al hul spaar- en pensioengeld verloor het om hulself te probeer verdedig of wie se gesinne versplinter het weens die druk en spanning wat die verslag veroorsaak het.

“Hierdie mense se reputasies lê aan skerwe, hulle én hul familielede kry nie werk nie. Die nuus dat hulle vergoed gaan word kon nie op ’n beter tyd kom nie,” sê van Loggerenberg.

Hy sê dit is wel ontstellend dat KPMG en die SAID in die geheim hieroor vergader en dat die slagoffers geensins hierin geken is nie.

Hy sê die SAID roem homself daarop dat hy omgee vir sy werkers, maar dit word nie gerugsteun deur sy besluit om net stil te bly nie.

“Waarom is die SAID nie bereid om in die openbaar verskoning te vra nie? Waarom is niemand bereid om vir elke amptenaar persoonlik jammer te sê wat gely het weens staatskaping nie?”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.