Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Covid eis legende wat Naas klits
Naas Botha met die opgeswelde lip waarmee Jannie Els hom op 13 Junie 1987 in ’n wedstryd teen die Vrystaat gelaat het.

Die Vrystaatse rugby-legende Jannie Els, wat bekendheid verwerf het toe hy Naas Botha platgeslaan het, is aan Covid-19 dood.

Els (60), voormalige losvoorspeler van die Vrystaat, is Sondagmiddag na die 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein geneem nadat hy positief getoets is vir die koronavirus. Hy is Woensdagnag dood.

Els het bekendheid verwerf toe hy Naas Botha, losskakel van Noord-Transvaal, op 13 Junie 1987 op die Vrystaatstadion tot in die hospitaal gemoker het.

Intussen is Dougie Heymans, voormalige rugbystut van die Cheetahs, ook in die waakeenheid in Bloemfontein opgeneem weens Covid-19.

Dougie se dogter, Liane, het op Facebook voorbidding vir haar pa gevra.

“Bid asseblief vir die man wat Covid skrum in ICU,” skryf sy.

Dit was ’n moeilike dag vir Vrystaat-rugby. Een speler van die Cheetahs is positief getoets ná die wedstryd teen die OP Olifante Saterdag. Elf spelers van die OP is daarna positief getoets.

Die wedstryd teen die Pumas wat Vrydag sou plaasvind, is ook afgestel weens onsekerheid oor hoeveel Cheetahs dalk die virus opgedoen het.

Chantell Esterhuizen, weduwee van Els se beste vriend, Ters, sê die nuus van sy afsterwe is vir haar ’n groot skok.

Jannie Els op sy seun, WP, se troue met Williche.

Esterhuizen se man is twee en ’n half maande gelede, op 14 Maart vanjaar, aan kanker dood.

“Dis onwerklik om te dink die twee is so kort ná mekaar oorlede. Ek het nog net gister vir Jannie foto’s gestuur van my kleinkind wat in die afgelope week gebore is.”

Els het tot sy dood op Brandfort gewoon.

Die Vrystaat-legende Helgard Müller, ’n spanmaat van Els, sê hy was ’n vreeslik aangename man.

“Hy het altyd tyd vir jou, ’n lekker kuier en ’n ou grappie gehad. Hy was almal se vriend, weet jy?”

Hy sê Els het sy eintlike roem verwerf die dag toe hy Naas Botha in ’n wedstryd tussen die Vrystaat en die Ligbloues met die vuis geklits het.

“Soos gewoonlik het die kleinste manne op die veld die geveg begin en toe Naas aangehardloop kom, het Jannie hom met ’n vuishou platgeslaan.

“Die beste van daardie wedstryd was toe ons daarna teen die WP in die Kaap gaan speel het, daar Kaapse smouse op straat gestaan en bumper stickers verkoop het waarop gestaan het I love Jannie Els. Hy was mense se held, want Naas was daai tyd mos die vyand.”

Els het in ’n onderhoud met Joe Venter op 10 Junie 2014 in Volksblad gesê dit was eintlik ’n ongeluk dat Naas slae gekry het. Maar, het hy bygevoeg, daar is baie ander rugbymense vir wie Naas vyand nr. 1 op die veld was.

“The man you loved to hate.

Jannie Els het in 2014 in ’n onderhoud met Joe Venter in Volksblad gesê die hou waarmee hy Naas Botha in 1983 op die Vrystaatstadion platgeslaan het, was eintlik ’n ongeluk. Foto: Argief

“Kyk, hy was ’n skitterende losskakel. Hy het menige span se moed met sy skepskoppe gebreek. Net as dit begin lyk het of jy die wedstryd gaan wen, kom hy met een van daardie blitsige skepdoele en die trane rol vir die teenstanders. Om saam met hom in dieselfde span te kon speel, was seker ’n yslike plesier. Maar om teen hom te speel was ’n nagmerrie,” het Els vertel.

“Op daardie ongelukkige dag het die spelers mekaar behoorlik gevat. Die skeidsregter, Fransie Muller, het ’n moeilike dag beleef. Noord-Transvaal het hom selfs by die Suid-Afrikaanse Rugby-base verkla. ’n Minuut of wat voor die einde van die wedstryd het die voorspelers mekaar gepak. Ek het van ’n losskrum af opgestaan en gesien hoe van die Ligbloues een van ons manne slaan. Ek wou ons ou gaan help, maar ongelukkig was Naas se kop in die pad.

“Snaaks hoeveel ouens het vir my geskenke gestuur. Seker rugbymense wat onder Naas se dodelike skopstewel deurgeloop het. Ek het ’n paar kaste wyn ontvang.”

Els is van die veld gejaag, maar twee Ligbloues het ook die trekpas gekry.

Naas Botha het in 2000 op ’n manne-aand by Grey Kollege in Bloemfontein gesê hy het Els weer raakgeloop en hulle het vrede gemaak.

“Ek en Jannie het mekaar snaaks genoeg raakgeloop en was op dieselfde vlug na Bloemfontein. Hy het my dié keer gelukkig met ’n glimlag en handdruk ‘gegroet’,” het Botha geskerts.

Els het tussen 1983 en 1988 in 22 wedstryde vir die Vrystaat uitgedraf.

Els word oorleef deur sy seun, WP, skoondogter, Williche, en broer, Willie.

* Jannie Els is op 21 Oktober 1960 in Philippolis gebore. Hy was in Schweizer-Reneke en Vryburg op skool. Hy het in 1976 vir Griekwaland-Wes se Cravenweekspan gespeel.

Dit was in die jare dat Stellaland as ’n provinsiale span begin speel het en Jannie het in 1977 en die jaar daarna vir die span aan die Cravenweek deelgeneem.


Meer oor:  3De Vlaag  |  Covid-19  |  Jannie Els
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.