Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Jare’ se gekibbel oor vroue op kansel ‘uiters hartseer’

Die gesprek oor vrouepredikante wat nie toegelaat word om in doppergemeentes te preek nie, is nog lank nie verby nie.

Só meen vrouepredikante van die NG Kerk (NGK), nadat die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) Woensdag sy bande met dié kerk op hul algemene sinode in Potchefstroom herbevestig het.

“Solank ons huidige besluite staan, moet ons, in ons verhouding, mekaar se huishoudelike besluite respekteer,” het ds. Cassie Aucamp verduidelik nadat hy die verslag “Deputate Ekumenisiteit Binnelands – Verhoudinge NGK en NHKA” voorgehou het.

Dr. Elsje BüchnerFoto: Verskaf

Hy verwys onder meer na die besluit dat NG vrouepredikante nie in gereformeerde kerke mag preek nie, omdat die GKSA nie die vrou in die amp erken nie.

“Die memorandum kan nie as ’n agterdeur vir die gereformeerde kerk dien om die vrou op die preekstoel te kry nie,” het Aucamp gesê.

Volgens dr. Douw Breed, voorsitter van die vergadering, is kansel-uitruilings tussen die twee kerkverbande dus nie ’n uitgemaakte saak nie.

Hy sê die onus berus op elke plaaslike kerkraad om te oordeel of hy ’n spesifieke persoon op sy preekstoel wil toelaat, of nie. “Dit word op grond van standpunte beoordeel, nie omdat die persoon in die NG Kerk is nie.”

Die GKSA onderneem om verder in gesprek met die NGK te bly oor dié dinge wat verdeeldheid skep.

Luidens die verslag is gesprekke met die NGK “die afgelope termyn oorheers deur die NGK se besluite van 2015 en 2016 oor selfdegeslagverhoudings”.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NGK en verteenwoordiger by vandeesweek se sinode, sê “hierdie is een van daardie dinge waaroor ons nog met die GKSA in gesprek is, net soos wat hulle met ons in gesprek is oor die gay-kwessie”.

Dis wel ’n saak waaroor ons baie sterk voel en dit is vir ons ’n teleurstelling dat ons vrouepredikante nie deur hulle aanvaar word nie.

“Dis wel ’n saak waaroor ons baie sterk voel en dit is vir ons ’n teleurstelling dat ons vrouepredikante nie deur hulle aanvaar word nie.”

Dr. Carin van Schalkwyk, ’n predikant in die Vrystaat, het Netwerk24 gewys op haar Facebook-inskrywing van 2015 toe die samewerking tussen die NGK en GKSA gevestig is.

“Hoekom is ons opgewonde oor hierdie ooreenkoms met die GKSA? Verduidelik asseblief waarom dit iets is om oor te juig as hul amptelike standpunt nie vroue in die bediening erken nie. Het ons nie eerder ’n profetiese taak om in solidariteit te gaan staan by diegene wat uitgesluit is nie?” lui Van Schalkwyk se inskrywing wat sy aan die destydse moderator van die NGK, Nelus Niemandt, gerig het.

“Die probleem is ná jare nog nie opgelos nie,” sê dr. Elsje Büchner, ’n NG predikant. “Hulle (die GKSA) verstaan nie hoe ernstig dit is nie. Dis nie net ’n posisie nie, hierdie sny baie, baie dieper. Dit is geslagsdiskriminasie.”

Sy sê die een keer wat sy wél in ’n Gereformeerde gemeente in Linden, Johannesburg, gepreek het, het die predikant aan Beeld gesê dit was nie ’n “formele erediens nie”.

“Maar ek het niks anders gedoen as wat ek elke Sondag in die kerk doen nie!

“Die NG Kerk sal versigtig wees om ekumeniese bande met kerke wat rassisties is, te smee. Hoekom geld dieselfde nie vir gender nie? Dit wil sê ras en geslag lê nie op dieselfde vlak nie,” sê Büchner.

Yolanda Dreyer, professor in Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria, meen “hierdie is ’n simptoom, nie die siekte nie”.

“Die siekte is mans wat dink hulle is beter as vroue, en hulleself sekere regte en voorregte toe-eien as gevolg daarvan. Mense se menslikheid is hier in gedrang,” sê Dreyer.

“Dit is vir my wonderlik dat ek as jong vrou deur die Here geroep is om voltyds in Sy diens te staan. Dis wel ongelooflik hartseer dat my roeping in twyfel getrek word net omdat ek ’n vrou is,” sê prop. Jorina Redelinghuys van die NG gemeente Kollegepark in Vanderbijlpark.

Die NG Kerk is vinnig op haar agterpote omdat die GKSA nie vroue wil toelaat nie, maar die NG Kerk is self nog op baie plekke hieraan skuldig.

“Die NG Kerk is vinnig op haar agterpote omdat die GKSA nie vroue wil toelaat nie, maar die NG Kerk is self nog op baie plekke hieraan skuldig,” sê Redelinghuys.

Sy vertel van twee vakatures in die Vrystaat verlede jaar waar dit in die bewoording van die vakature gelyk het of ’n vrou nie mag aansoek doen nie. “Die woorde wat gebruik word is “die predikant en sy vrou” of “die predikant se vrou moet betrokke wees”.

By die Universiteit van die Vrystaat, waar Redelinghuys studeer het, is al bykans 40% van teologiese studente vroue, sê prof. Fanie Snyman, dekaan van die Fakulteit Teologie.

Prof. Kobus Schoeman, praktiese teoloog aan dieselfde fakulteit, meen ’n ekumeniese verhouding beteken “kerke moet mekaar aanvaar soos hulle is, sonder voorwaardes”.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie. Sy kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Vroueregte  |  Ng Kerk  |  Gksa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.