Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jare se verwaarlosing maak RSG se stem stil

Dit was geen Aprilgrap wat die SAUK se radiostasies almal die oggend van 1 April vir ’n ruk van die lug laat verdwyn het nie, maar jare se versuim om rugsteunstelsels in stand te hou en op te gradeer.

Die uitsaaier het die skuld aanvanklik op “kragverskaffingskwessies by City Power” gepak, maar die afgelope week aan Rapport erken die reuserugsteunstelsel in sy Radiopark-gebou is die afgelope 20 jaar verwaarloos.

City Power is die Johannesburg-metroraad se kragnutsmaatskappy.

Luidens berigte het ’n boom vroeër daardie week op een van die kragverskaffer se groot kragpale geval. Dit het gelei tot verskeie onderbrekings in onder meer Auckland Park, waar Radiopark staan.

‘As ons van die lug af was, kon ons ons werk verloor.’

Mense wat in die gebou werk of voorheen daar gewerk het, het hul verbasing daaroor uitgespreek dat die reuserugsteunstelsels en kragopwekkers nie radiostilte gekeer het nie.

Die voormalige RSG-omroeper Cobus Bester sê dit was ongekend dat die radiostasie van die lug sou verdwyn.

“Ek het Monitor 17 jaar lank uitgesaai en dit het eintlik nooit gebeur nie. Daar was een keer ’n onderbreking van ’n paar minute, maar dit was ’n senderprobleem, nie ’n kragonderbreking nie,” sê hy.

“Wat vir my verstommend is, is dat die omroeper self skynbaar nie besef het dat hulle van die lug af is nie. Die ateljeepersoneel moes dit opgetel het, want daar is monitors daarvoor,” sê Bester.

Nog ’n persoon wat vroeër in Radiopark gewerk het en anoniem wou bly, sê die rugsteunstelsel het vroeër onmiddellik in werking getree wanneer daar ’n kragonderbreking was om sekere noodsaaklike stelsels aan die gang te hou totdat die kragopwekkers kon oorneem.

“Dit was naatloos,” sê die persoon.

’n Ingenieur wat tot 2018 ten nouste met kragverskaffing by die SAUK gemoeid was, sê enige onderbreking in die uitsending was in sy dae onaanvaarbaar.

“As die stasie van die lug af is, eis die adverteerder wie se advertensies uitgesaai moes word krediete en dit is groot bedrae.

“As ons van die lug af was, kon ons ons werk verloor.”

Aan die TV-kant was daar byvoorbeeld ’n night nanny deurnag aan diens wat al drie TV-kanale moes dophou en as dit selfs vir ’n paar sekondes van die lug af was, moes daardie persoon omvattende verslae skryf om dit te verduidelik.

Volgens die ingenieur, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het Radiopark ’n stelsel vir ononderbroke kraglewering. Daar is batterye wat tot 30 minute kan hou, asook vyf of ses kragopwekkers van 550-750 kVA elk wat gevoer word van ’n paar dieseltenks wat tot 30 000 liter elk kan hou.

Die mikpunt in sy dienstermyn was om tydens kragonderbrekings tot 48 uur se rugsteun te kon gee.

Van dié dieselenjins is reeds in 1972, toe die gebou betrek is, geïnstalleer. Hulle is oud en die onderdele moeilik verkrygbaar.

Die instandhoudingsbegroting was te klein en veral sedert 2010 het die SAUK hom min gesteur aan herhaalde verslae oor die noodsaak van instandhouding en die opgradering van die stelsels, sê die ingenieur.

In Mei 2019 het die dieseltenks oorgeloop en Radiopark moes ontruim word ter wille van die personeel se veiligheid. Luidens berigte is die 15de vloer heeltemal oorstroom.

Die SAUK het destyds die skuld op verouderde toerusting gepak.

Die uitsaaier het die afgelope week aan Rapport gesê dit is “ ’n bekende feit dat die korporasie se onsekere geldelike posisie, tesame met ander uitdagings, dit die afgelope 20 jaar nie in staat gestel het om infrastruktuur en steunstelsels gereeld te vernuwe nie”.

Desondanks, in 2014 het die destydse bestuurshoof, Hlaudi Motsoeneng, R42 miljoen gebruik vir “dankie sê”-bonusse aan personeel, bykomend tot hul gewone jaarlikse bonus.

Twee jaar later het hy homself ’n bonus van R11,4 miljoen betaal, wat die SAUK later probeer terugeis het.

In 2009 het die openbare uitsaaier adv. Dali Mpofu byna R12 miljoen betaal om sy pos as uitvoerende hoof neer te lê voordat sy dienstermyn verstryk het.

Volgens die SAUK is daar reeds met ’n projek begin om die steunstelsels by Radiopark te vernuwe en dit behoort binne tien maande afgehandel te wees.

’n Soortgelyke projek vir die TV-diens is reeds voltooi.

Die SAUK sê hy hou sy dieselvoorraad op “voldoende” vlakke.

Meer oor:  Sauk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.