Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jerusalema-koors is hoog

‘Ek leef nou my grootste wens uit, die Here het dit waar gemaak vir my.’’

Die Cape of Good Hope-DBV wys hul #Jerusalema­Challenge. Foto’s: Facebook

Só sê Nomcebo Zikode (34) in die diep stem wat wêreldwyd bekend geword het danksy haar supertreffer “Jerusalema”, wat sy verlede jaar saam met die platejoggie Master KG bekend gestel het.

Jy moes dit al iewers gesien het – by skole, hospitale, hotelle, dierebeskermingsverenigings, partytjies, kerke en eetplekke – wêreldwyd doen almal die #JerusalemaChallenge.

Waar die dansie begin het, weet sy nie presies nie, maar danspassies op dié liedjie bring mense oor kleur- en kultuurgrense heen saam. Dit maak hulle gelukkig in die vreemde tye van Covid-19.

Wat min mense dalk besef, is dat dit eintlik ’n gospelliedjie is. “Jerusalem is my huis, moenie my hier los nie, my huis is in Jerusalem. Lei my, neem my saam met Jou,” lui die woorde.

Ronaldo, Janet Jackson deel op Instagram.

Zikode sê sy het nie vrede in haar hart ervaar nie en het toe die lirieke van die liedjie geskryf. Sy het gevoel as sy vrede wil ervaar, moet sy dáár wees, daar in Jerusalem naby waar Jesus in Bethlehem gebore is.

Nou is die liedjie al meer as 115 miljoen keer op YouTube gekyk en mense wêreldwyd doen die dansie. Die dansie is redelik eenvoudig en herinner aan Amerikaanse lyndanse, wat ’n groep mense maklik saam kan doen. Dit herinner ook aan ’n ou gunsteling, die Macarena-dans, sonder die armbewegings.

Selfs die sokkerster Cristiano Ronaldo, wat die meeste Instagram-volgelinge ter wêreld het, het ’n video op Instagram met sy 237 miljoen volgelinge gedeel waarin “Jerusalema” in die agter-grond speel. Janet Jackson het ook ’n video van ’n dogtertjie wat op dié liedjie dans met haar 5 miljoen volgelinge op Instagram gedeel.

Hotelle het ook ingespring. Die personeel van die Victoria Falls Safari Lodge in Zimbabwe doen die dans teen die agtergrond van asemrowende beelde van die Victoria-waterval.

Al die werkers van The Palace by Sun City het saam die #Jerusalema­Challenge gedoen.

’n Video van Sun City-werknemers wat voor The Palace dans, het ook groot aftrek gekry.

“Die personeel was so opgewonde om terug te wees by die werk ná meer as 150 dae van inperking, dat hulle besluit het om die Jerusalema Challenge buite The Palace te doen.

“Dit is ’n merkwaardige oomblik vir ons, dis nie net om die heropening van Sun City te vier nie maar die hervatting van die hele Suid-Afrikaanse toerismebedryf,” sê Brett Hoppé, Sun City Resort se bestuurder.

Verder het priesters in Knoxville, Tennessee, gesondheidswerkers in Frank­ryk en klopdansers op eie bodem hul eie weergawes van die dansie gedoen en op sosiale media gedeel.

Nomcebo Zikode en Master KG.

“Ek is só gelukkig, ek wag al so lank vir hierdie oomblik. Ek werk al so lank in die bedryf, vandat ek baie jonk is het ek altyd geweet ek wil eendag my gesig op televisie sien en my stem oor die hele wêreld hoor.

“Ek het al moed verloor, maar die Here het dit vir my moontlik gemaak. Ek is so nederig en geseënd hiermee.”

Sy sê sy het die Here gevra of hy haar sal toelaat om vir die wêreld te sing. “En hy het!”

Zikode sê die dag nadat sy en Master KG verlede jaar die liedjie opgeneem het, het sy ’n boodskap gekry dat dit supersuksesvol gaan wees. “Ek het vir Master KG gebel en vir hom gesê, hiérdie liedjie gaan dit maak.”

Meer oor:  Jerusalema  |  #Jerusalemachallenge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.