Die TV-kanaal VIA het met ’n projek begin om jong, opkomende klein en middelslagondernemings te steun.
“VIA wil op ’n praktiese en proaktiewe manier Jeugdag herdenk,” sê die Afrikaanse leefstylkanaal in ’n verklaring.
Die eienaars van sulke ondernemings word genooi om hul storie te vertel en ses ondernemings word dan gekies om die volgende te ontvang:
• Die maak van ’n TV-advertensie van 30 sekondes wat deur VIA geskep sal word en geskik sal wees vir alle platforms.
• Kommersiële lugtyd ter waarde van R300 000 op VIA vir een jaar.
• Blootstelling in Media24-tydskrifte ter waarde van R250 000.
• Twee plasings op sosiale media op een van VIA se aanlyn platforms.
• ’n Onderhoud van twee minute op VIA se ontbytsakeprogram, Besigheid wat saak maak.
VIA sê hy streef daarna om ’n platform te wees waar daar geen plek vir rassisme is nie. Die kanaal wil ’n inklusiewe tuiste wees vir alle sprekers van Afrikaans en terselfdertyd respekvol wees teenoor alle Suid-Afrikaners.
Ondernemings wat wil deelneem aan die projek, kan ’n motivering vir waarom hulle gekies moet word, stuur na Zinzi.Velelo@media24.com.
Jy moet in 500 woorde vertel wat die aard van jou onderneming is, wanneer dit begin is en wat jy wil bereik. Vertel ook wat jy reeds bereik het.
Die sluitingsdatum is 30 Junie 2020 en bepalings en voorwaardes geld.