Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Redi Tlhabi wil voor Zondo getuig

Redi Tlhabi, TV-en-radio-aanbieder en joernalis, het aansoek gedoen om te getuig by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, asook om oudpres. Jacob Zuma te kruisondervra.

Dit kom nadat Zuma verlede week tydens sy getuienis by die kommissie gemeld het dat Tlhabi aan ’n fliek werk oor sy verkragtingsverhoor in 2007 waartydens hy vrygespreek is.

Redi TlhabiFoto: Argief

“Die fliek wat Redi Tlhabi maak, word gemaak in Amerika en is genoem ‘Raped by Power’,” het Zuma getuig.

Zuma het aan die kommissie gesê Tlhabi werk aan ’n fliek om na bewering ’n narratief dat hy ’n verkragter is, te bevorder.

Tlhabi het Maandag in ’n brief wat deur Webber Wentzel Prokureurs gestuur en deur News24 gesien is, die bewerings ontken en dit as “vals en lasterlik” beskryf.

Die brief sê ook die bewerings skep die indruk, inter alia, dat sy deur buitelandse agente opdrag gegee is om negatiewe propaganda teen Zuma te versprei.

“As gevolg van hierdie bewerings, het ons kliënt gely, en ly sy steeds skade aan haar reputasie as ’n gerespekteerde en vertroude joernalis en mediakommentator.

“Gevolglik beplan ons kliënt om ingevolge artikel 3.3.6 van die kommissie se reëls aansoek te doen om getuienis te gee en mnr. Zuma te kruisondervra om die bewerings van mnr. Zuma teen te werk en te verseker dat die kommissie al die relevante inligting het sodat dit in staat is om die waarheid van mnr. Zuma se bewerings te toets,” lees die brief.

Zuma is vrygespreek op die aanklag van verkragting wat deur Fezekile Ntsukela Kuzwayo, bekend as “Kwezi” gedurende die verhoor, aanhangig gemaak is.

Tlhabi het in 2017 die boek Khwezi: the remarkable story of Fezekile Ntsukela Kuzwayo uitgereik. Sy het saam met Kuzwayo aan die boek gewerk voordat sy in Oktober 2016 dood is.

Zuma het ook tydens sy getuienis beweer dat daar pogings deur seker individue was om sy “karakter te vermoor” en volgens hom was die media deel van die poging.

Die veteraanjoernalis het egter gesê dit is belangrik dat sy die geleentheid gegee word om haar kant te stel aangesien sy genoem is.

Volgens haar is haar aansoek om haar kant te gee betekenisvol en “... praat van die integriteit van die kommissie en wat daar gesê mag word; en wat relevant is om daar te sê.

“Ek sou nie gedink het ek is relevant vir die kommissie nie, maar ’n voormalige staatshoof het my genoem en ek dink dit is in beginsel belangrik dat ek sy bewerings toets,” het sy aan News24 gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.