Jonathan Ball (69), gesiene uitgewer van talle van Suid-Afrika se gewigtigste boeke oor politiek en openbare kwessies, is gistermiddag in Kaapstad dood. Longkanker is vroeër vanjaar by hom gediagnoseer.

Jonathan Ball
Hy het Jonathan Ball Publishers in 1976 begin nadat hy enkele jare in die uitgewersbedryf gewerk het voordat hy besluit het om ’n onafhanklike uitgewery te begin.
Sy uitgewery het in 1978 op die publikasietoneel ontplof toe hy ’n boek gepubliseer het met opspraakwekkende onthullings oor die destyds geheime Afrikaner-Broederbond (AB). The Super-Afrikaners deur die Sunday Times-joernaliste Ivor Wilkins en Hans Strydom het vir die eerste keer die sluier gelig oor die binnewerking van die AB, wat vir dekades invloedryk was in Afrikaner-politiek en ná 1948 ook in wyer verband. Die boek het ’n lys bevat van voormalige en destydse AB-lede.
Ball het tydens die publikasieproses gesukkel om diensverskaffers te kry. Ná publikasie het hy besoeke van die Veiligheidspolisie ontvang.
Die boek was ’n topverkoper.
Die uitgewery se volgende deurbraak was toe Ball-hulle die reg verkry het om die Oxford-professor Thomas Pakenham se gesaghebbende The Boer War hier uit te gee. Mettertyd het Ball se uitgewery onder meer biografieë en boeke van leidende figure soos Frederik van Zyl Slabbert, Helen Suzman en Tony Leon uitgegee. Hy was ook die uitgewer van Mark Gevisser se omvattende biografie oor Thabo Mbeki, The Dream Deferred.
Ball het die voormalige Britse premier Harold Macmillan geken. Macmillan was in Suid-Afrika bekend om sy befaamde “Wind of Change”-toespraak in die Suid-Afrikaanse parlement in 1960. Ball het hom by ’n paar geleenthede in Brittanje ontmoet. Ball was Macmillan Publishers se vennoot in Suid-Afrika.
Naspers het Jonathan Ball Uitgewers in 1992 gekoop as deel van sy strategie om ’n wyer voetspoor buite die Afrikaanse uitgewersbedryf te vestig. Ton Vosloo, oudvoorsitter van Naspers onder wie se leiding die transaksie gedoen is, het gesê hy is baie hartseer oor Ball se afsterwe.
“Ons het hegte vriende geword.
“Jonathan was ’n bobaas-storieverteller met ’n ensiklopediese kennis van die geskiedenis. Sy meesterlike gebruik van Engels het iets van Winston Churchill gehad.”
Sy vrou, Pam, is in 2018 dood. Hy word oorleef deur drie stiefkinders en twee kleinkinders.