Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jonathan Ball wou meer Afrikaanse boeke publiseer

Jonathan Ball, die kleurryke uitgewer wat sy lesers geken het, het gewaag om uitdagende boeke te publiseer, maar toe nooit sélf die boek geskryf wat hy soms gedreig het hy moet nie. Ball (69), wat Saterdag in sy huis in Kaapstad dood is nadat longkanker drie maande gelede by hom gediagnoseer is, wou graag meer Afrikaanse boeke uitgee, vertel van die skrywers wie se boeke hy uitgegee het.

Jonathan Ball was verbasend tweetalig vir iemand wat in Johannesburg gebore is, vertel Eugene Ashton, uitvoerende hoof van Jonathan Ball-uitgewers.

“Hy kon gesprekke voer in Afrikaans en sy standpunt presies stel, al was dit met ’n aksent. Jonathan het altyd erkenning gegee daaraan dat meer as die helfte van die boeke wat in Suid-Afrika uitgegee word in Afrikaans is en hy het daarom geleenthede aangegryp om boeke van Jonathan Ball-uitgewers in Afrikaans te vertaal.

“Dit wissel van Thomas Pakenham se Die Boereoorlog, wat hy reeds in 1978 in Afrikaans uitgegee het, tot sy passie-projek om Philip Kerr se eerste drie romans te laat vertaal. Daar was altyd die een of ander boek wat hy wou laat vertaal en al het dit nie noodwendig kommersiële sin gemaak nie, het hy geglo dit is ’n belangrike aspek van die uitgewery.

Jonathan het altyd erkenning gegee daaraan dat meer as die helfte van die boeke wat in Suid-Afrika uitgegee word in Afrikaans is en hy het daarom geleenthede aangegryp om boeke van Jonathan Ball-uitgewers in Afrikaans te vertaal.

“Hy het geglo in die mag van tale en boeke en die plek wat dit inhou in die samelewing, ’n formidabele uitgewer wat geweet het wat gepubliseer moet word,” sê Ashton.

The Super-Afrikaners: Inside the Afrikaner Broederbond, geskryf deur die joernaliste Ivor Wilkins en Hans Strydom en wat in 1978 uitgegee is, was die boek “wat in baie opsigte sy beginsels openlik en permanent gevestig het”, skryf Ashton in sy doodsberig oor Ball.

Hy sê die boek was onmiddellik ’n treffer en Ball en sy verkoopsdirekteur, Nick Britt, het dag en nag gewerk om te help met die boekbindery, want enigiemand met bande met die Broederbond het geweier om die boek te bind en hulle was aangewese op ’n byna-bankrot boekbindery om die boek op straat te kry.

Volgens Ashton het Ball in onlangse jare opdrag gegee vir boeke deur ’n aantal hoëprofiel-Afrikaanssprekendes, insluitend Ton Vosloo, koerantman en voormalige voorsitter van Naspers, se memoires en Ebbe Dommisse, wie se boek oor Afrikaner-magnate einde vandeesmaand verskyn.

jonathan ball
Jonathan Ball met ’n Afrikaanse kopie van Thomas Pakenham se boek ‘Die Boereoorlog’, wat hy uitgegee het.

Dommisse, oudredakteur van Die Burger, sê Jonathan Ball was ’n groot gees in die wêreld van boeke.

“Hy het my ingekatrol vir sy laaste opdrag, ’n boek wat vandeesmaand as Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate gepubliseer word. Sy aanvanklike voorstel vir ’n titel, The Rise and Rise of Afrikaners in Business, het gedeeltelik behoue gebly in die Engelse weergawe, Fortunes: The Rise and Rise of Afrikaner Tycoons.”

Ball, wat homself as ’n liberaal beskou het, hoewel miskien meer in die realpolitik-tradisie, het min geduld met politieke korrektheid en huigelary gehad. Hy was ook bekend om sy humorsin, wat op Naspers se bestuurskonferensies soms groot vrolikheid veroorsaak het. “Soos die keer toe hy ’n stekie teen die groep se internettegnokrate ingekry het met ’n rympie oor drank en e-pos wat sy lewe verwoes het,” vertel Dommisse.

“Meneer Bal, soos ek hierdie onkonvensionele en ruimhartige Engelsman speels genoem het sonder dat hy beswaar gemaak het, wou graag meer Afrikaanse boeke uitgee – naas die talle wat dae lank die hoofonderwerp van besprekings oor Suid-Afrikaanse kwessies was. Sy heengaan laat ’n groot leemte in die uitgewerybedryf, want ’n lamp met ’n helder lig het verdwyn.”

Bun Booyens, ook ’n oudredakteur van Die Burger, sê ’n staaltjie wat Ball goed beskryf, is op ’n huldigingsete aan hom vertel: Toe Ball in die uitgewersbedryf begin het, het hy adresse nagespoor van skouhuise, daar ingegaan en gekyk watter boeke op hul boekrakke is.

“Sy beste eienskap was dat hy pront reguit sy mening kon lug sonder om aanstoot te gee. Jy kon op sy eerlike en konstruktiewe mening op ’n bestuursvergadering staatmaak.”

Jonathan Ball
Jonathan Ball is die naweek oorlede.

Ball het die Afrikaanse mark en psige verskriklik goed verstaan, soos hy gewys het deur Die Burger se eeufeesboek, asook meer onlangs die boek 50 Jaar met Fred (’n versameling van Die Burger se spotprenttekenaar se beste spotprente) te publiseer. “Hy het die Afrikaanse humor in Fred se spotprente raakgesien,” sê Booyens.

Tony Leon, wie se boek Future Tense: Reflections on My Troubled Land, pas deur Jonathan Ball-uitgewers uitgegee is, sê hy het altyd vir Ball aangepor om sy lewenservarings self te boekstaaf. Dit het nooit gebeur nie.

“Miskien sou dit te veel skandes in gehad het, of dalk te lasterlik wees, maar dit sou nie voorspelbaar of doodgewoon wees nie.”

Sy beste eienskap was dat hy pront reguit sy mening kon lug sonder om aanstoot te gee. Jy kon op sy eerlike en konstruktiewe mening op ’n bestuursvergadering staatmaak.

Leon sê geen ontmoeting met Ball, gewoonlik gepaard met ’n ete, was vervelig of voorspelbaar nie. Ball sou in sy kleurvolle styl allerlei staaltjies oorvertel van skrywers, politici, van hul gemeenskaplike vriende en ook hul gesamentlike vyande, wat volgens Leon vele kere daartoe gelei het dat hy Ball probeer oortuig het om tog maar te begin om die boek te skryf, wat Ball gesê het hy wel nog wou doen.

Die bekroonde skrywer Jonny Steinberg, onder meer bekend vir The Number: One Man’s Search for Identity in the Cape Underworld and Prison Gangs, sê sy loopbaan as skrywer is deur Ball begin, met Midlands, wat handel oor die moord op ’n wit Suid-Afrikaanse plaasboer: “Ek was jonk en ongepubliseerd, baie senuagtig en onseker. Hy het my manuskrip gelees en dit met soveel entoesiasme, wysheid en ervaring hanteer.”

Ball was ’n jong skrywer se droom met sy passie om werk uit te gee wat hy die moeite werd geag het. “Dit is ’n passie wat nie aangeleer of nagemaak kan word nie, dit was die kern van wie hy was,” volgens Steinberg.


'Meneer Boek'

Die mediaveteraan Ton Vosloo sê hy het met baie hartseer van Ball se sterfte verneem. Hy het na hom verwys as “Meneer Boek” vanweë sy “fantastiese” kennis van boeke.

Hy sê Ball se stokperdjie was geskiedenis. Ball het veral belang gestel in die Suid-Afrikaanse politiek en geskiedenis.

“Hy het gehalteboeke uitgegee. Hy het as Engelssprekende goed aangepas by Naspers en hy was ’n aanwins vir die maatskappy.”

Vosloo sê hulle het ná Ball se aftrede in 2015 nog goeie vriende gebly, en was gereeld in kontak met mekaar.


'Groter as die lewe self'

Koos Bekker, Naspers se voorsitter, skryf:

Jonathan was ’n vreugde. Hogarth kon hom geteken het: groter as die lewe self, bloesende wange, wat jou herinner aan die Britse Ryk en ’n tydperk toe geen uitgewer met selfrespek hom van die tafel verskoon het voordat etlike bottels van uitsonderlike uitsoekwynjare daarmee heen is nie. ’n Mens het selde sy geselskap verlaat sonder om jou te verkneukel. En hy het die buitengewone vermoë gehad om trefferboeke raak te sien, wat die ongelooflikste gawe in die uitgewersbedryf is. Ek sal hom mis!


LEES OOK:

'Ek gaan Jan Bal erg mis': Hy gaan die uitgewer Jonathan Ball erg mis, skryf Kerneels Breytenbach, ouduitgewer van NB-uitgewers, oor sy vriend en kollega wat die naweek aan kanker dood is.

Meer oor:  Jonathan Ball  |  Huldeblyk  |  Uitgewer  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.