Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jong atleet wat moeë mededinger help, gryp harte aan
Ronen Oosthuizen (regs) het groot lof ontvang vir sy goeie daad Saterdag toe hy in ’n wedloop ’n mede-atleet, Mpho Mitchell, wat aan uitputting gely het, tot by die eindpunt gehelp het. Foto: Rynardt van Rensburg, Spektor Fotografie

’n Gebaar van ’n jong atleet wat ’n ander een, duidelik in pyn van uitputting, tot by die eindpunt help, het sosiale media aan die praat met mense wat dit aanprys as ’n puik voorbeeld van nasiebou.

Die 17-jarige Ronen Oosthuizen van Rustenburg het Saterdag op die Suid-Afrikaanse landloopkampioenskap vir klubs in Potchefstroom groot lof vir sy barmhartige daad ontvang. Hy het vir die Protea-atletiekklub in Rustenburg deelgeneem.

Volgens sy pa, Marius, het Ronen in die pylvak van die 6 km-wedloop vir seuns o.17 aangehardloop gekom toe Mpho Mitchell van Noord-Gauteng voor hom inmekaarsak. Mitchell is o.16. Hulle en die o.17’s het in dieselfde wedloop gehardloop.

“Ronen het eers verbygehardloop, maar toe gestop, omgedraai en die atleet opgehelp en vir die sowat 150 m tot by die eindpunt ondersteun. 

Ronen het self nie ’n goeie wedloop gehad nie en was dalk net fisiek moeg.
Marius Oosthuizen

“Dis die tipe kind wat hy nog altyd was. Saterdag was ’n goeie voorbeeld daarvan. Hy sal eerder iemand in nood help as om hom te wil klop. Die sportmangees wat hy openbaar het, was net ongelooflik mooi,” het Marius gesê.

Volgens hom was dit baie warm en moeilike toestande om in te hardloop. 

“Ronen het self nie ’n goeie wedloop gehad nie en was dalk net fisiek moeg.”

Ronen is ’n goeie atleet wat vanjaar ’n silwermedalje in die 1 500 m op die nasionale skolekampioenskap behaal het.

Hy is ’n gr. 11-leerling aan die Bergsig Akademie in Rustenburg en is volgende jaar onderhoofseun.

Albei sy ouers was ook atlete met sy ma, Adéle, wat die Comrades vyf keer voltooi het.

“Mense reageer geweldig op Facebook. Dis seker maar omdat dit ’n swart en wit seun is wat een word. Die mooi kommentare kom hom toe.”

Ek wonder hoe dit nou met hom gaan. Afgesien van die hitte was dit ’n strawwe baan.
Ronen Oosthuizen

Ronen sê sy daad was nie vir enige erkenning bedoel nie. 

“Ek wou bloot net iets goeds vir iemand probeer doen. As ek kon bygedra het tot nasiebou, is dit wonderlik. Toe ek sien hy gaan nie vanself opstaan nie, móés ek hom net gaan ophelp en tot by die eindpunt ondersteun. Dit sou net nie reg gewees het om hom daar te los nie. Hy moes ook hard gewerk het om vir die SA’s te kwalifiseer.”

Volgens Ronen is Mpho by die eindpunt deur paramedici behandel en het hulle nie met mekaar gepraat nie.

“Ek wonder hoe dit nou met hom gaan. Afgesien van die hitte was dit ’n strawwe baan.”

Volgens André Gobey, voorsitter van landloop in Noord-Gauteng, gaan dit nou goed met Mpho en was dit maar net ontwatering en moeë bene. Hy het gesê ’n paar ander atlete het ook by die eindpunt ineengesak.

Allan Smith, die nasionale verkoopsbestuurder by Asics Suid-Afrika wat die foto’s op Facebook gedeel het, het gesê hy wil die twee seuns graag byeen probeer kry.

“Dit was so ’n aandoenlike gebaar: ’n Seun, wat vir ’n plek hardloop, maar ’n ander een van ’n ander provinsie wat hy nie eens ken nie, ophelp en tot die eindpunt ondersteun.

“Ek wil hulle graag byeen probeer kry vir ’n wedloop waarin ek hulle met iets wil verras,” het Smith gesê. 

Die Facebook-inskrywing het in die eerste 20 uur nadat Smith dit gedoen het, meer as 1 800 kommentare ontvang en is meer as 8 900 keer gedeel.

  • Die foto is deur die voormalige Olimpiese 800 m-atleet Rynardt van Rensburg geneem wat sy lyf fotograaf by die eindpunt gehou het.

Meer oor:  Potchefstroom  |  Atleet  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.