Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jong Bloemfonteiner Saterdag begrawe ná ongeluk

Wit ballonne met boodskappe vir Philip Jackson (20) van Bloemfontein aan die linte sal Saterdag by sy begrafnisdiens die lug ingestuur word.

Jackson het Sondag in die vroeë oggendure in ’n motorongeluk duskant die Krugersdrifdam op die pad tussen Bloemfontein en Dealesville gesterf.

Philip Jackson Foto: Verskaf

Dié ongeluk is net meer as ’n week nadat sy oud-klasmaat Franco Cloete (19) in ’n motorfietsongeluk in die stad gesterf het.

Rosina Scholtz, Jackson se ma, het gesê mense sal Saterdag by die diens, wat om 11:00 in die NG kerk Bainsvlei begin, so ’n laaste boodskap aan hom kan stuur.

Begrafnisgangers word versoek om ’n wit, heliumgevulde ballon met ’n boodskap aan die lint saam te bring. Ballonne sal wel verskaf word en afskrifte van foto’s sal uitgedeel word. Boodskappe kan agterop die foto’s geskryf en aan die ballonne se linte vasgemaak word.

“Hy was ’n sonskynkind, hy het altyd geglimlag,” het ’n emosionele Scholtz bygevoeg. Sy het gesê hy wou altyd alles vir almal doen.

Die diens sal op Filippense 2 gebaseer wees, wat onder meer na die gesindheid van Jesus Christus verwys.

Scholtz het gesê sy het net haar Bybel oopgeslaan en daarop besluit. “Jealous of the Angels” is een van die liedere wat gespeel gaan word.

’n Stoet sal ná die diens na die Bainsvlei-begraafplaas vertrek, waar die teraardebestelling sal wees.

Jackson laat ook ’n broer, Dylan (23), agter.

Netwerk24 het vroeër berig dat Jackson en twee vriende, Michal Erasmus (21) en Ronaldo du Plessis (20), Sondagoggend op pad na Dealesville was toe die ongeluk gebeur het.

Erasmus, wat in ’n stabiele toestand is, is aanvanklik Maandagoggend uit die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein ontslaan. Hy is egter Woensdag na die hospitaal se ongevalle-afdeling gebring nadat hy inmekaargesak het, het sy ma, San-Marie Erasmus, gesê. Meer besonderhede oor sy toestand is nie bekend nie.

San-Marie sê Du Plessis, wat glo die voertuig bestuur het, is nog in ’n kritieke toestand, maar stabiel, in dieselfde hospitaal se waakeenheid.

Volgens haar het Du Plessis onder meer ’n ernstige longbesering opgedoen en hy word onder verdowing gehou.

* Jackson en Cloete was saam in die klas in die Hoërskool President Steyn in Bloemfontein, waarna Jackson in sy gr. 11-jaar na die Landbouskool Hendrik Potgieter in Reddersburg is.

* Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê die polisie het Sondag omstreeks 05:10 by die ongelukstoneel op die R64 aangekom. ’n Wit Mazda-bakkie wat omgeslaan het, is aan die kant van die pad aangetref. Paramedici het Jackson op die toneel dood verklaar.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Motorongeluk  |  Ongeluk  |  Begrafnis  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.