Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jong juffrou sterf 2 weke ná baba se geboorte
Simoné van Zyl (26) is Sondag dood toe haar babadogtertjie net twee weke oud was. Foto: Verskaf

“Die ding wat sy die meeste wou hê, was ’n babatjie – en nou sal sy nooit ’n ma kan wees nie.”

Juri van Zyl (27) se stem is sag wanneer hy praat van sy vrou, Simoné (26), ’n wiskunde-onderwyseres van die Laerskool Dr. Havinga in Witpoortjie, Roodepoort.

Sy is Sondag dood, presies twee weke nadat sy die lewe geskenk het aan die egpaar se eersteling, Juané (nou 16 dae oud).

“ ’n Mens verloor jou beste vriend, maar al is dit hóé seer, moet ons nou voortbou op die mens wat sy was,” sê Van Zyl.

Simoné is op 2 April weens erge hoofpyn en geswelde voete in die hospitaal opgeneem. HELLP-sindroom is byna dadelik by haar gediagnoseer.

“Die hospitaal het gesê ’n keisersnee moet dadelik gedoen word. Die sindroom veroorsaak dat die bloedplaatjietelling verlaag en dit lei tot bloedarmoede. Sy moes voor die geboorte eers bloedoortappings kry,” sê Van Zyl.

Simoné en Juri van Zyl op hul troudag in Desember 2019. Foto: Verskaf
Juri en Simoné van Zyl was ook beste vriende. Foto: Verskaf
Simoné van Zyl op haar troudag. Foto: Verskaf

Juané (’n kombinasie van haar ouers se name) is op 4 April op 29 weke gebore. Volgens Van Zyl sal sy tot minstens die middel van Junie in die hospitaal bly.

Van Zyl sê Simoné is ná die geboorte vir haar simptome behandel en op Donderdag 8 April ontslaan.

Teen Saterdag 10 April het haar simptome egter vererger.

“Ons het die Saterdag vir ons babatjie in die hospitaal gaan kuier, maar hulle wou Simoné nie opneem nie.

"Die Sondag is ons terug hospitaal toe en ons het geweier om te loop en daarop aangedring dat hulle haar opneem. Van toe af het sy net agteruitgegaan, en haar liggaam was moeg,” sê Van Zyl.

Simoné het Sondagoggend ’n epileptiese toeval en kort daarna ’n hartaanval gehad, wat tot haar dood gelei het.

“Sy was ’n absolute onselfsugtige mens en het altyd vir ander gesorg. Sy was ’n opregte mens. Daar was vir haar ’n duidelike lyn tussen reg en verkeerd, en ’n mens het altyd geweet waar jy met haar staan,” sê Van Zyl.

“Sy laat ’n groot leemte. Ek het seker gemaak dat wanneer sy in die middag om 14:30 by die huis kom, was my werk klaar sodat ons saam tyd kon deurbring.

“Ons het saam 30 Seconds gespeel, Bybelstudie gedoen en televisie gekyk. Ons was mekaar se beste maatjie.”

Van Zyl sê dat sy kort voor haar dood nog bekommerd was oor haar punte wat ingehandig moes word. “Dit wys net weer hoe onselfsugtig sy was.”

Marius Swanepoel, die skoolhoof van die Laerskool Dr. Havinga, sê sy was geliefd onder die kinders en het op so ’n jong ouderdom reeds ’n reuse-impak op haar kollegas gehad.

Sy was self hier op laerskool en dit is nóg moeiliker vir van haar kollegas omdat hulle ook vir haar skoolgehou het,” sê Swanepoel. “Sy was ingegrawe in ons gemeenskap en dit gaan moeilik wees om haar te vervang.”

Van Zyl sê die see was Simoné se gunstelingplek en dit is waar hy haar as gaan strooi.

Wat is HELLP-sindroom:

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, sê HELLP-sindroom (hemolise, verhoogde lewerensieme, lae plaatjietelling) is ’n baie seldsame siekte wat moeilik is om te diagnoseer.

“Dit kom by swanger vroue voor en drie dinge gebeur. Die pasiënt se rooibloedselle, wat suurstof dra, verminder, daar is verhoogde lewerensieme in haar liggaam en haar bloedplaatjietelling is laag, wat tot bloeding kan lei,” sê Coetzee.

Dit kan veroorsaak dat die vrou se lewer bars of die plasenta losraak.

Volgens Coetzee is dit daarom belangrik dat die pasiënt so gou as moontlik die baba in die lewe bring.

Sy sê Simoné se epileptiese toeval en hartaanval was waarskynlik te wyte aan die min suurstof in haar bloed.



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.