Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jong ma, dogtertjie (2) dood toe huis in Centurion brand

Die gille van haar tweejarige kleindogter sal ’n ouma van Centurion nog lank bybly nadat haar dogter én kleindogter in ’n brand dood is.

Nicolene Pretorius (22) en haar dogtertjie, Leoné (2), is dood nadat ’n brand Sondag om 22:00 in hul meenthuis in Pierre van Ryneveld ontstaan het.

Clarize Pretorius, ’n familielid, sê Nicolene en haar twee kinders, Theo (4) en Leoné, het wakker geskrik van die vlamme.

“Sy kon nie die geslote kamerdeur wat na die res van die meenthuis lei, oopkry nie. Sy het geskree sodat haar ouers, wat saam met haar in die meenthuis woon, haar kon hoor.”

Christelle Nagel, haar ma, het gesê sy moet die kinders by die venster uitgooi. Sy het om die huis gehardloop om hulle te kry. Theo sr., haar stiefpa, kon intussen daarin slaag om die deur oop te breek. Die vlamme was in daardie stadium te erg vir hom om in te gaan, sê Clarize.

Nicolene Pretorius (22) en Leoné (2) is dood nadat ’n brand in hul slaapkamer in Centurion ontstaan het. Foto: Verskaf

“Nicolene het self die kamervenster gebreek en haar seuntjie uitgegooi.”

Benewens ’n paar skrape is Theo (4) ongedeerd.

Leoné het tussen die bed en die kamerkas vasgesit.

“Nicolene het die heeltyd probeer om Leoné los te kry totdat Christelle vir Nicolene deur die venster na buite geruk het.”

Clarize sê hoewel hulle die kind later kon uitkry, was dit te laat. Sy het verkool en is dood verklaar.

“Dit is Leoné se gille wat by haar ouma spook,” sê Clarize.

Nicolene is na die Tembiso-hospitaal se trauma-eenheid gebring, maar is Maandagoggend omstreeks 02:00 dood aan haar wonde.

“Ouma Christelle bly sê sy het twee kinders op een dag verloor,” sê Clarize. “Sy sal nooit weer na daardie meenthuis kan teruggaan nie.”

Theo sr. is in ’n geïnduseerde koma in dieselfde hospitaal se hoësorgeenheid. Hy word vir rookinaseming behandel.

Theo jr. is tans in die sorg van sy pa, Theo Geldenhuys, en Nicole, sy stiefma.

Christelle en Theo Nagel, Nicolene se ouers, wat ook tydens die brand in die meenthuis was. Foto: Verskaf

Nicole sê klein Theo vra kort-kort na sy ma en begin vandeesweek met berading.

AfriForum se trauma-eenheid staan die familie by.

“Ons is nie seker hoe hy alles verwerk en wat presies hy gesien het nie,” sê Nicole.

Johan Pieterse van die Tshwane-metro-nooddiens sê die meenthuis was reeds in vlamme gehul toe hulle Sondagaand by die toneel aangekom het.

Die rede vir die brand is nog onbekend. Die polisie ondersoek die voorval.

Reëlings vir Nicolene en Leoné se roudiens word Woensdagoggend op ’n familievergadering bespreek, sê Clarize.

Meer oor:  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.