Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jong man se hond voor hom doodgemaak in plaasaanval

Plaasaanvallers het ’n jong man van Pretoria se geliefde hond voor sy oë met ’n tou voor ’n venster opgehang en toe die bostonterriër in sy nek geskiet.

Heinrich Nel (21), Woensdag in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg.

Heinrich Nel (21) moes Maandagaand hulpeloos toekyk hoe Jimmy (7) in die gru-aanval op die Natshana- private wildreservaat in die Rust de Winter-omgewing doodgeskiet is.

James Nel, sy pa, sê sy kind is geweldig geskok en getraumatiseer.

“Hy was ontsettend lief vir Jimmy. Daai hondjie was altyd in sy arms, hulle twee was altyd saam.”

Heinrich is steeds in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg. Hy is Woensdag aan sy regterarm, waarin hy onder meer geskiet is, geopereer. Hy moes ook Dinsdag inderhaas geopereer word om die koeël in sy bors te verwyder.

“Ons is baie dankbaar dat die operasies suksesvol was,” sê Nel.

Heinrich en Karel Viljoen (73), ’n kollega van hom, is Maandagaand omstreeks 22:00 in ’n woonhuis op die wildreservaat deur vier mans oorval. Viljoen is in sy een enkel geskiet.

Die rowers het die huis geplunder en met televisies, geld en elektroniese toerusting gevlug. Hulle het eers Dinsdagoggend 03:30 in ’n Toyota Land Cruiser en ’n wildbesigtigingsvoertuig van die plaas af gevlug.

’n Gewonde Heinrich het omstreeks 04:00 Dinsdagoggend dit reggekry om sy vasgemaakte hande los te sny en hy moes sowat ’n kilometer bebloed deur die veld strompel om hulp te gaan soek. Hy het na die veiligheidswagte by die ingang van die plaas gegaan waar hy sy pa gebel het.

Sy pa, wat in Kameeldrift in Pretoria woon, het hom na die toneel gehaas.

“Toe ek daar kom, het Jimmy dood op die vloer gelê,” sê Nel.

Die skietery op sy seun is die derde voorval van misdaad waaronder hy deurloop. In Januarie is drie renosters op die Natshana-wildreservaat, wat aan Nel behoort, vir hul horings doodgeskiet.

Jimmy die bostonterriër wat in die plaasaanval doodgeskiet is.

“Toe is daar by my huis in Kameeldrift ingebreek en nou is my seun geskiet. Ek is móég vir misdaad.”

Viljoen is in ’n bestendige toestand in die Mediclinic Muelmed in Pretoria.

Intussen het ’n grafiese foto van waar die dooie Jimmy op die bloedbesmeerde teëlvloer van die huis lê Woensdag woede op sosiale media ontlok.

Ansie de Bruyn skryf op Facebook: “Die arme onskuldige diertjie.”

Stephanie de Kock beskryf die aanvallers as “monsters”.

Ian Cameron, veiligheidshoof van AfriForum, sê die uiterste geweld van dié aanval spook by hom. Marina Joubert het foto’s van die bloedbesmeerde mure van die huis op Facebook geplaas en geskryf: “Jammer almal, maar mense moet sien wat aangaan.”

In die plaasaanval verlede maand op Casper Burger (46) van Mamogaleskraal, buite Brits in Noordwes, is sy honde vergiftig. Burger, wat groente aan die maatskappy McCain verskaf, is in sy maag geskiet. Sy milt moes verwyder word. Hy het een van die drie aanvallers doodgeskiet.

Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder in Gauteng, sê niemand is nog vir die aanval op Nel en Viljoen in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Rust De Winter  |  Hond  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.