Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jong mans sterf in gru-ongeluk by Kuruman
Alwyn Burger (22) van Kuruman, wat in ’n motorongeluk dood is. Foto: Verskaf

’n 22-jarige ambagsman van Kuruman in die Noord-Kaap en nog ’n jong man van Wrenchville buite die dorp het in ’n grusame botsing omgekom.

Die twee mans het Vrydagaand sowat 20 km buite Kuruman reg van voor teen mekaar gebots. Albei is op slag dood.

Alwyn Burger was volgens sy suster, Elizabeth, van Kathu waar hy gewerk het op pad terug huis toe toe die ongeluk gebeur.

Die identiteit van die ander oorledene kon nog nie deur die polisie bevestig word nie.

Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, het Sondagaand nog nie op Netwerk24 se navrae geantwoord nie.

Volgens Elizabeth was albei bestuurders alleen in hul voertuig. Burger het ’n Chevrolet Cruze bestuur. Albei voertuie het op die skouer van die pad in teenoorgestelde rigtings tot stilstand gekom. Die onbekende man is buite sy Toyota Corolla aangetref.

“My boetie het vir die Sishen-myn buite Kathu gewerk en het omstreeks 21:00 uit Kathu vertrek nadat hy eers by ’n vriend gekuier het. Die vriend sê Alwyn het nie (alkohol) gedrink voordat hy vertrek het nie.

Die wrak van Alwyn Burger se Chevrolet Cruze. Foto: Verskaf

“Ons weet nie wat gebeur het nie. Daar was geen remmerke op die pad nie. Die toestand van die voertuie is iets verskrikliks. ’n Mens kan verstaan dat hulle beswaarlik kon oorleef het as jy die wrakke sien,” sê sy.

Burger is ’n oudleerling van die Hoërskool Kalahari in Kuruman waar hy in 2014 gematrikuleer het. Hy het erekleure vir tweekamp gekry.

Hy was in sy matriekjaar in ’n motorongeluk en het ’n brief aan die plaaslike koerant, die Kalahari Bulletin, geskryf waarin hy almal vir hul vinnige optrede bedank het.

“Aan die man wat ’n U-draai voor my gemaak het, wil ek net sê: Ek vergewe jou en daar is geen kwade gevoelens aan my kant nie.”

Volgens sy suster was Burger ook al in ’n paar motorfietsongelukke.

“My boetie was ’n ligstraal in almal se lewe. Hy was ’n mens-mens en baie talentvol, vrygewig, lojaal en altyd vol grappe en stories.”

Sy ouers is Piet en Amanda Burger.

’n Roudiens word Saterdag om 11:00 in NG Oog-gemeente in Kuruman vir hom gehou.

Meer oor:  Kathu  |  Kuruman  |  Dood  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.