Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jong rugbyspeler (17) dood nadat hy van perd afval
Waldo NelFoto: Verskaf

’n Belowende jong Luiperds-rugbyspeler is Dinsdag in ’n fratsongeluk dood toe hy van ’n perd geval en die perd in ’n vragmotor vasgehardloop het.

Waldo Nel (17) is ’n paar uur ná die ongeluk op die R52 sowat 3 km van Lichtenburg dood. Die perd het op die toneel gevrek. Dis nie seker of Waldo nog op die perd se rug was toe die perd in die vragmotor vasgehardloop het nie, want daar was nie toe ’n ooggetuie naby nie. Hy en die perd het albei naby die vragmotor gelê toe Waldo se vriende hulle kort ná die ongeluk daar aangetref het. Waldo kon aanvanklik nog opstaan en praat, maar sy toestand het vinnig versleg, vermoedelik weens inwendige bloeding.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag, het kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, gesê.

Waldo se skoolvriende het Woensdag verslae na die Nel-gesin se huis in Lichtenburg, Noordwes, gestroom. “Die kinders en Waldo se ouers is stukkend,” het Corlia du Toit, ’n vriendin van die familie, gesê. “Die kinders ken mekaar van babadae af. Waldo se dood voel so onwerklik. Hy was ’n ongelooflike, energieke kind.”

Du Toit sê Waldo het Sondag, nadat hy van ’n rugbytoer teruggekom het, spesiaal na hulle gery om haar dogter (Carlene) te groet. “Toe hoor ek hy vra: ‘Noenoe, is jou ma nog wakker? Ek wil haar net ook groet.’ Dis die soort kind wat hy was: Hy het jou nog gesoen en ’n stywe drukkie gegee wanneer hy gegroet het.”

Waldo was in gr. 11 aan die Hoërskool Lichtenburg. Hy het slot vir die Luiperds-o.17-span en in sy skool se eerste rugbyspan gespeel, en daarvan gedroom om in Italië rugby te gaan speel. “Hy wou ’n prokureur word,” sê Du Toit. Waldo het ook gholf gespeel en motorfiets gery.

Waldo Nel (heel regs) onlangs toe hy tydens die Classic Clash-reeks vir die Hoërskool Lichtenburg teen die Klerksdorp Hoërskool uitgedraf het. Foto: Verskaf
Waldo Nel (met die kaalgeskeerde kop) in ’n onlangse wedstryd waar hy vir sy skool se eerste rugbyspan uitgedraf het. Foto: Verskaf

Sy pa, Wally, sê die perd waarop Waldo Dinsdag gery het, het vermoedelik vir iets geskrik en vervaard begin hardloop, met Waldo op sy rug.

Waldo en nog vriende het Dinsdagmiddag op ’n ander vriendin, Anja Joubert, se ouers se plaas gaan perdry. Die kinders het blykbaar op die plaas gery, maar die perd het vermoedelik deur die drade in die pad gehardloop toe hy skrik.

“Ons het vroeër die middag in ons lapa geëet toe Waldo vra of hy by Anja kan gaan perdry,” het Wally Woensdag gesê. “Hy kon nie eintlik perdry nie, dit was seker sy tweede keer. Ek het vir hom gesê dis nie ’n goeie idee nie, want hy kan nie goed ry nie. Hy het die naweek eers teruggekom van die Luiperds se rugbytoer en volgende week moes hy weer begin oefen vir die skolerugby. Ek het hom gevra om rustig te wees, maar hy het gesê as ’n meisie kan perdry, kan hy ook.”

Wally het eers gedink dis ’n grap toe een van sy seun se vriende hom om 16:30 bel en sê die perd het Waldo afgegooi. “Ons het na die dokter in Lichtenburg gejaag toe Anja se pa (Johan) kort daarna bel en sê hulle neem hom soontoe.”

Waldo was nog by sy positiewe, maar het gekla van erge pyn en dat hy nie asem kry nie, vertel Wally.

“ ’n Ambulans het hom na die Wilmedpark-hospitaal in Klerksdorp gebring. Hy het sy bewussyn op pad soontoe verloor. By die hospitaal het hulle omtrent ’n halfuur vergeefs gespook om hom by te bring, maar sy beserings was te erg.”

Waldo se ribbe het in sy longe gesteek. Sy meisie, Mikayla Keyser (18), was ook Dinsdag in die Wilmedpark-hospitaal omdat haar verstandtande verwyder is. Sy het daar die skoknuus saam met Waldo se ouers by die hospitaal gekry.

Michael Bondeso, Waldo se rugbyafrigter by die Hoërskool Lichtenburg, sê hy was stil, teruggetrokke en hardwerkend. “Bakkies Botha was sy held.” Bondeso rig ook die Luiperds se Cravenweekspan af.

Wally het almal wat die familie bystaan, bedank. Waldo word ook oorleef deur sy ma, Petro, en sussie, Isandri (11). Hy word Dinsdag om 11:00 vanuit die Hervormde kerk Lichtenburg begrawe.

Meer oor:  Waldo Nel  |  Lichtenburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.