Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Jong vrou 28 uur in wrak vasgepen

’n Jong vrou van Mbombela het ná ’n motorongeluk ’n nag van angs en onuithoudbare pyn deurgemaak en was uiteindelik 28 uur lank in haar motor se wrak vasgepen.

Selanna Biggs (19), wie se motor buite Kaapschehoop in Mpumalanga teen ’n steil helling afgerol het, sal Dinsdag ’n operasie aan haar gebreekte dybeen ondergaan.

Sy is sedert Sondagaand in die waakeenheid van die MediClinic Mbombela nadat sy per noodhelikopter daarheen geneem is.

Die ongeluk het Saterdag omstreeks 15:00 gebeur en sy is eers Sondag omstreeks 16:30 opgespoor.

Selanna Biggs (19) van Mbombela voor die motorongeluk.

Haar ma, Melissa, het Maandagmiddag gesê die gesin is getraumatiseer en moet berading kry.

“Dit was ’n nagmerrie. Ek kan vir niemand sê hoe erg dit was nie. Ons is heeltemal uitgeput, maar so dankbaar, want dit is ’n wonderwerk dat sy gevind is. Sy sou nie veel langer in die wrak oorleef het nie.”

Sy het haar dogter, wat ly aan Hashimoto se siekte (chroniese limfositiese tiroïditis), ’n outo-immuunsiekte wat die tiroïedklier aantas, Saterdag omstreeks 14:00 die laaste keer gesien.

Biggs het ’n ent in haar silwer Suzuki S-Presso gaan ry.

“Sy is baie lief vir Kaapschehoop en ry gereeld daar in die bergagtige gebied.”

Kaapschehoop is sowat 30 km buite Mbombela.

Melissa het bekommerd geraak toe haar dogter nie later die middag by die huis opgedaag het nie en ook nie haar selfoon antwoord nie. Sy het haar by die polisie as vermis aangemeld.

Intussen is foto’s van haar oral op sosiale media versprei en ’n uitgebreide soektog na haar is begin.

Die voorkant van Selanna Biggs se motor.
Die wrak van Selanna Biggs (19) se motor.

Volgens Albert Gryvenstein van Bossies-gemeenskapsveiligheid, wat deel was van die soektog, was almal uiters bekommerd.

“Ek het geweet sy is siek en dit is hoekom ons net nie handdoek wou ingooi nie.”

Die polisie se lugvleuel en ’n private helikopter het ook deurnag gehelp soek.

Volgens Gryvenstein het Biggs beheer oor haar motor verloor, waarna dit tussen 100 en 150 m ver tussen bome in ’n plantasie afgerol het.

Die motor het etlike kere gerol en Selanna was in die wrak vasgepen.

Volgens haar ma het Selanna gesê sy het haar oë net ’n oomblik lank van die pad gehaal en al wat sy kan onthou, is dat sy beheer oor die motor verloor het.

Selanna Biggs (19) se broer, Asher (21), by haar in die hospitaal in Mbombela.

Sy was vasgepen en kon nie uit die wrak klim of by haar selfoon uitkom nie.

Die voorkant van die motor is verfrommel.

’n Man het Sondagmiddag toevallig die motorwrak gesien toe hy op die pad na Kaapschehoop gery het.

“Hy het gesien daar is baie motors en motorfietse wat heen en weer op die pad ry en het van die mense voorgekeer en gevra of hulle na iemand soek wat in ’n ongeluk was. Dís hoe hulle by haar uitgekom het.”

Selanna Biggs se dybeen is in die motorongeluk gebreek.

Melissa het gesê dit het ook ure geneem om haar dogter uit die wrak te bevry.

Die motor moes eers met toue tussen die bome gestabiliseer word.

Volgens Gryvenstein, wat op die toneel was, was Biggs nie by haar volle bewussyn nie. “Sy was erg ontwater en het erge pyn in haar gebreekte been gehad.”

Sy is eers gestabiliseer voordat sy per noodhelikopter na die MediClinic geneem is.

Volgens Melissa het haar dogter gesê sy het die hele tyd in die wrak aan haar gesin gedink.

En sy het die hele tyd vir haarself gesê iemand sal haar wel kry. "Sy het positief gebly, maar sy is baie getraumatiseer.”

Melissa het gesê die plaaslike gemeenskap is ongelooflik. “Mense wat ons nie eens ken nie, het gehelp om na haar te soek. Ons kan nie genoeg dankie sê nie.”

Meer oor:  Selanna Biggs  |  Mbombela  |  Vasgepen  |  Motorongeluk  |  Angs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.