Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jongboer van die Jaar ‘opgewonde oor boerdery in SA’
JP van den Berg Donderdagaand in Kempton Park waar hy as Toyota SA en Agri SA se Jongboer van die Jaar aangewys is. Foto: Toyota SA

Hy is opgewonde en positief oor boerdery in Suid-Afrika en slaggereed om geleenthede in dié sektor aan te gryp, sê JP van den Berg, van Noordwes, wat pas as Toyota SA en Agri SA se Jongboer van die Jaar aangewys is.

“Ek is baie dankbaar, ek het waardige teenstanders gehad,” het Van den Berg (31) gesê nadat daar Donderdagaand in Kempton Park aan die Oos-Rand aangekondig is hy is nou die draer van dié gesogte titel.

Jong boere van oor die land heen neem jaarliks aan dié kompetisie deel. Agri SA bied dit in samewerking met Toyota, die hoofborg, aan. Van den Berg is baie opgewonde oor die splinternuwe Toyota-enkelkajuitbakkie wat hy gewen het.

Kriteria

Prof. Carlu van der Westhuizen, sameroeper van die paneel van beoordelaars, sê die belangrikste kriteria was om te bepaal watter tegniese vaardighede die kandidate gebruik om hul bestuursfilosofie in die praktyk toe te pas.

“JP gebruik sy hulpbronne, veral sy grond en water, optimaal sonder om die langtermynkapasiteit en -produktiwiteit daarvan te benadeel. Hy is trots daarop dat hy goed vir sy werkers sorg en dat hulle lojaal is aan die onderneming. Hy beskou almal as ewe belangrik in die produksieketting.”

Van der Westhuizen beskryf Van den Berg as ’n “uitnemende persoon en tipiese voorbeeld van ons passievolle, jonger geslag boere”.

Hy boer al 11 jaar in vennootskap met sy pa, Koos, op die familieplaas Buttermere in die Tosca-Vergeleë-distrik (naby die Botswana-grens). Sy drie ouer susters en hul mans is ook betrokke.

“My vrou (Linné) ondersteun my geweldig. Sy het ook haar eie loopbaan as dokter in Vryburg.”

Hy sê hy en ander jong boere is deeglik bewus van die uitdagings in die landboubedryf, soos grondhervorming. “Ek laat nie toe dat dit my besluite negatief beïnvloed nie. Daar is te veel emosie by die debat betrokke. Ek is bereid om saam te werk (in die proses van grondhervorming), solank dit nie tot nadeel van voedselsekerheid en die ekonomie is nie.”

Van den Berg wil met sy suksesvolle boerdery in een van die droogste dele van die land ook sy werkers en die onmiddellike gemeenskap bemagtig. Die hooffokus van die boerdery is die verbouing van saadaartappels, maar die familie boer ook met vee, hoenders en grassaad.

Van den Berg se filosofie is om uitnemend te bly boer, maar terselfdertyd in die gemeenskap terug te ploeg. “Boerdery gaan nie net oor selfverryking en om winste te jaag nie. ’n Mens moet ’n verskil in jou omgewing maak. Ek wil mense inspireer en my sukses deel deur ook plaaswerkers en die gemeenskap te bemagtig. Dit gaan toenemend so word dat daar saam besluit moet word oor boerdery.”

Dan Kriek, president van Agri SA, sê Suid-Afrika se jong boere is “wêreldklas, positief en aanpasbaar”, ondanks die uitdagings. “Hulle is lief vir boer en diep by hul gemeenskappe betrokke. Hulle is nie naïef nie, maar het ’n onverskrokke geloof in die toekoms.”

Meer oor:  Boerdery  |  Landbou  |  Jongboer Van Die Jaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.