Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Joost, Joost’ roep skare toe kis in tonnel verdwyn

Loftus Versfeld het Vrydagmiddag vir oulaas aan Joost van der Westhuizen behoort.

Die 1995-span dra Joost van der Westhuizen se kis by Loftus in Pretoria in. Foto: Deaan Viviers

Op sy tuisveld in Pretoria, waar hy as skrumskakel Blou Bul- en Springbok-ondersteuners soveel plesier verskaf het, is daar op ’n hartseer, maar baie stylvolle manier van Van der Westhuizen afskeid geneem.

Die 45-jarige Van der Westhuizen is Maandagmiddag dood nadat amiotrofiese laterale sklerose (ALS), ’n aggressiewe vorm van motorneuronsiekte (MNS), in 2011 by hom gediagnoseer is.

Die oud-Bokkaptein het in opdrag van pres. Jacob Zuma ’n provinsiale begrafnis ontvang uit erkenning vir sy bydrae tot Suid-Afrikaanse sport.

Sy eenvoudige kis is deur lede en beamptes van die Springbokspan gedra wat in 1995 die Wêreldbeker verower het.

Francois Pienaar, die kaptein, en die oud-Bokkaptein Morné du Plessis, die spanbestuurder van die ’95-span, het voor geloop en die kis gedra tot op ’n verhoog wat op die veld gebou is.

Baie mense in die paviljoen het by tye trane afgevee, maar daar was ’n groot gejuig toe Pienaar sy toespraak in Afrikaans begin het met “Joost was ’n Bul, ’n onverskrokke Blou Bul!”.

Joel Stransky, die man na wie Van der Westhuizen die bal uitgegee het vir die skepdoel waarmee Stransky die wenpunte in die eindstryd aangeteken het, was ook een van die draers, wat almal strak voor hulle uitgekyk het.

Op die verhoog is ’n Suid-Afrikaanse vlag deur offisiere van die polisie oor die kis gedrapeer.

Die oud-Springbok Stefan Terblanche, die seremoniemeester, moes noodgedwonge voorsing met die volkslied toe daar probleme met die musiek was. Terblanche het hom uitstekend van sy taak gekwyt.

Die toeskouers, die meeste in die Groen-en-goud, maar ook baie met Blou Bul- en Bulls-truie aan, het op versoek van Gavin Varejes, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbylegendes-vereniging, ’n minuut lank staande hande geklap om Van der Westhuizen te eer.

Die toeskouers het ook staande toejuiging gegee aan die oud-Bok se ouer broer, Pieter, wat hom die laaste paar jaar heeltyds versorg het.

Onder die toeskouers was talle bekende oud-Springbokke, onder wie Naas Botha, Victor Matfield en Fourie du Preez.

Mooi loop, Joost, baie dankie.
Fikele Mbalula, minister van sport

Kevin de Klerk, ’n oud-Bok en die president van die Leeus-rugby-unie, en Thelo Wakefield, die WP se grootbaas, asook verskeie bekende afrigters, onder wie Heyneke Meyer en Eugene van Wyk, was ook daar.

“Joost was ’n legende, maar ook ’n broer, ’n pa en ’n gesinsman,” het Pieter van der Westhuizen gesê.

Hy het begin huil toe die groep Touch of Class later “Hallelujah” gesing het. Joost se vervreemde vrou, Amor Vittone, wat ook op die verhoog was, het hom getroos.

Baie mense in die paviljoen het by tye trane afgevee, maar daar was ’n groot gejuig toe Pienaar sy toespraak in Afrikaans begin het met “Joost was ’n Bul, ’n onverskrokke Blou Bul!”.

Die sangeres PJ Powers het die temalied van die 1995-Wêreldbekertoernooi “World in Union” gesing. Toe sy klaar was, het Pienaar, wat op die verhoog langs Bill Beaumont, president van Wêreldrugby gesit het, opgestaan en haar ’n drukkie gegee.

Wêreldrugby was vir ’n oomblik weer verenig. Dié keer in hartseer oor ’n rugbylegende wat dood is.

Sumari Botha, ’n niggie van Van der Westhuizen wat spesiaal uit Australië gekom het vir die begrafnis, het ’n liedjie, “Mr. No. 9” gesing. Toe sy afsluit met die woorde “you played your last game”, het sy begin huil.

Fikele Mbalula, minister van sport, het die oud-Bok geloof en gesê hy het SA rugby met “waardigheid en trots” verteenwoordig.

Mbalula het in Afrikaans afgesluit: “Mooi loop, Joost, baie dankie.”

Terwyl polisieoffisiere die Suid-Afrikaanse vlag afgehaal en aan Van der Westuizen se ouers, Gustav en Mariana, oorhandig het, het die donderweer agter die oospaviljoen van Loftus gedreun.

Dit het geklink soos ’n kanonsaluut.

Net voor 15:00 het Joost van der Westhuizen vir oulaas in die tonnel van Loftus Versfeld verdwyn terwyl van die omstanders “Joost, Joost!” uitgeroep het.

Meer oor:  Joost  |  Loftus  |  Loftus Versfeld  |  Pretoria  |  Toneel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.