Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Joost verloor sy stryd
Joost van der Westhuizen, Springbokheld, is Maandag oorlede aan motorneuronsiekte. Hy was 45.

Joost van der Westhuizen het Maandag sy stryd teen motorneuronsiekte verloor.

Van der Westhuizen is om 13:30 by sy huis in Johannesburg dood, berig Erika Gibson. 

Barend van Graan, hoof- uitvoerende beampte van die Blou Bulle, het dit ook aan Netwerk24 bevestig dat Van der Westhuizen dood is. Amor Vittone en sy broer, Pieter, was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.

Die oud-Bokkaptein is Saterdag in 'n kritieke toestand na die Life Fourways-Hospitaal in Johannesburg gehaas. Sy toestand is Saterdagaand laat gestabiliseer. Die J9-stigting het Sondag op Facebook gesê dit gaan beter met Joost, maar dat hy moeg is en rus. 

Vittone het saam met haar en Joost se kinders, Jordan (13) en Kylie (10), Saterdag meer as 12 uur by die hospitaal saam met Joost deurgebring. Hulle het Joost Sondag weer besoek. 

Van der Westhuizen het sedert 2011 'n dapper stryd teen motorneuronsiekte gevoer. 

Sowel Vittone en Van der Westhuizen se broer, Pieter, het oor die naweek gesê Joost veg terug in ware Joost-styl. 

Van der Westhuizen sal vir baie dinge onthou word, maar vir rugby-ondersteuners sal hy altyd een van die beste skrumskakels van alle tye wees. Blou Bul, Springbok, Wêreldbeker-wenner, Bok-kaptein.

Van der Westhuizen het rugby-ondersteuners al in sy jong dae gaande gehad en het in 1993 Springbok geword as lid van die toerspan in Australië.

Joost van der Westhuizen, skrumskakel van die Springbokke, stuit Jonah Lomu in die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland in 1995 op Ellispark. Foto: Gallo Images

Maar hy het eers die volgende jaar die rugbywêreld behoorlik aan sy voete gehad toe hy twee drieë vir die Springbokke teen Skotland op Murrayfield gedruk het.

Dié drieë, en Van der Westhuizen se vertoning op die Bok-toer in Europa, het gewys dat hy inderdaad ’n spesiale speler is.

Hy had dalk nie die suiwerste aangee of die akkuraatste skopvoet nie, maar hy was dodelik as hy eers na ’n gaping begin soek het.

Dié vertoning het vir die eerste keer gewys dat die Springbokke dalk ’n span was waarmee rekening gehou sou moes word in 1995 se Wêreldbeker-toernooi.

Van der Westhuizen was een van die Bokke se sterre in dié toernooi. Hy het in die eindstryd met ’n gebreekte ribbebeen gespeel, maar dit het hom nie gekeer om onder die All Blacks se vreesaanjaende makro-vleuel Jonah Lomu in te seil nie.

Joost van der Westhuizen in 2014 by 'n geleentheid waar hy vereer is met 'n Suid-Afrikaanse sportprys. Foto: Christiaan Kotze

En dit was hy wat die bal na Joel Stransky aangegee het vir die skepskop wat die eindstryd in bykomende tyd met 15-12 in Suid-Afrika se guns beklink het.

Drie jaar later was Van der Westhuizen weer ’n sleutelspeler in die eerste Springbok-span wat ’n Drienasies-reeks gewen het.

Sy verstommende driedruk-vermoë het hom ook nie in die steek gelaat nie. Hy het die Bokke se enigste drie in die naelskraapse oorwinning van 14-13 oor Australië in Perth gedruk.

En teen die All Blacks in Durban was hy ook een van die driedrukkers toe die Bokke ’n agterstand van 5-23 uitgewis het om met 24-23 te wen.

In dieselfde jaar het Van der Westhuizen die eerste keer Curriebeker-glorie as ’n Blou Bul gesmaak toe die Pretorianers teen die verwagting in met die Westelike Provinsie in die eindstryd op Loftus Versfeld afgereken het.

Van der Westhuizen het destyds nogal die wenkbroue laat lig toe hy gesê het dié sege is baie lekkerder as die Wêreldbeker-triomf van 1995.

Die Bokke kon die Wêreldbeker nie in 1999 suksesvol verdedig nie. Van der Westhuizen is kort voor dié toernooi as kaptein aangewys toe Gary Teichmann op verrassende wyse gepos is.

Van der Westhuizen het ’n groot rol in die kwarteindstryd teen Engeland gespeel met ’n drie en as die skrumskakel wat die bal aan Jannie de Beer moes aangee toe hy vyf skepdoele deur die pale gejaag het.

Rekordhouer
Joost van der Westhuizen het 38 toetsdrieë gedruk, ’n rekord vir die Springbokke wat eers in 2012 deur Bryan Habana verbeter is.

Van der Westhuizen het in 2002 weer Curriebeker-glorie as Blou Bul gesmaak en het ’n jaar later aan sy derde Wêreldbekertoernooi deelgeneem.

Baie mense het teen dié tyd egter gemeen dat sy beste dae verby is en dat hy nie saam met die Bokke na Australië toe moes gegaan het nie.

Die omstredenheid rondom Van der Westhuizen is vererger omdat hy geen fout gevind het met die veelbesproke Kamp Staaldraad waaraan die spelers voor die toernooi onderwerp is nie.

Hy het sy laaste wedstryd in die kwarteindstryd teen Nieu-Seeland gespeel.

Van der Westhuizen het 170 keer in die Ligblou-trui uitgedraf in ’n loopbaan wat in die amateur-era begin het.

Hy het van 1993 tot 2003 in 89 toetse vir die Bokke gespeel. Hy het 38 toetsdrieë gedruk, ’n rekord vir die Springbokke wat eers in 2012 deur Bryan Habana verbeter is.

In sy Bok-loopbaan het hy onder sewe afrigters gespeel.

Statistieke beteken seker nie veel nie. Maar Van der Westhuizen het Suid-Afrikaners oneindige plesier op die rugbyveld verskaf.

Daarom sal sy naam altyd genoem word as die bestes ter sprake kom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier