Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jooste galop nog na perde-sukses in Brittanje

Markus Jooste se plaaslike perde verminder by die dag soos wat Mayfair Speculators ontslae raak van sy bates ten einde sy skuld te betaal.

Dit sluit sowat 500 perde in Suid-Afrika in.

Die mans met kuile op is Markus Jooste se Europese perdvennote. Van links is Derrick Smith, John Magnier, Michael Tabor en Coolmore se afrigter, Aidan O’Brien. Die foto is geneem nadat hul perd, Ruler of the World, die Investec Derby in 2013 gewen het. Foto: Getty Images

Oorsee besit Jooste egter nog talle waardevolle perde in vennootskap met van die wêreld se grootste perde-eienaars en staan hy op die punt om aan ’n groot wedren deel te neem.

Jooste is die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, wat in Desember aangekondig het daar is “rekeningkundige onreëlmatighede” met sy jaarsyfers.

Sedertdien het Steinhoff se aandeelprys in duie gestort en krediteure het op Mayfair toegeslaan omdat aandele in onder meer Steinhoff as sekerheid vir enorme lenings aangebied is. Mayfair, waarvan Jooste tot onlangs toe ’n direkteur was, moet nou van sy bates, onder meer perde, verkoop.

Die enigste oorblywende direkteur van Mayfair is Stefan Potgieter, Jooste se skoonseun.

Volgens die Sporting Post, ’n internasionale nuuswebwerf vir die wedrenbedryf, bly Jooste aan die voorpunt van dié wêreldbedryf danksy sy aandeel in verskeie Coolmore-perde.

Coolmore word as die suksesvolste perde-eienaarsvennootskappe ter wêreld beskryf. (Sien kassie hieronder.)

Jooste-jokkies se kenmerkende groen klere met geel sterre op het die naweek wenkbroue laat lig toe dit gepryk het aan die jokkie wat sy perd Astronomer gery het.

Astronomer, wat Jooste in vennootskap met die Coolmore-drie besit, het wel net vierde gekom op die Curragh-resiesbaan in Ierland, maar twee van die vennootskap se ander perde, Rostropovich en Magic Wand, het volgens The Guardian die afgelope week in die Chester- klassieke reeks in Engeland groot gewen.

Sowel Rostropovich as Magic Wand word deur die Britse media as gunstelinge bestempel om volgende maand die Investec Oaks – een van die grootste klassieke perdewedrenne in Brittanje – te wen.

Jooste en Coolmore het Magic Wand glo in 2016 vir €1,4 miljoen gekoop.

Drie van Jooste en Coolmore se ander perde het in Februarie rekordpryse op die Tattersalls-veiling behaal. Smoulder het £825 000 behaal, Key To My Heart £787 500 en Pocketfullofdreams £712 500.

Benewens sy vennootskap met Coolmore besit Jooste perde saam met die China Horse Club en Qatar Racing.

Willie John, die perd wat aan Jooste en China Horse Club behoort het, het op die Tattersalls-veiling die hoogste prys behaal vir ’n perd in afrigting wat tot nog toe in Europa op ’n openbare veiling gekoop is teen sowat £2 miljoen.

Ten spyte van sy suksesse op die resiesbaan het The Jockey Club, die grootste Britse resiesgroep, hul kommersiële vennootskap met Steinhoff se Poundland beëindig. Poundland het verlede jaar die Epsom Hill-resies op die Investic Derbyfees geborg.

Wie is Colemore?

Die “Coolmore-drie” is John Magnier, Derrick Smith en Michael Tabor. Elkeen van die drie individue wat saam met Jooste in Europa perde besit, is suksesvol in eie reg, maar saam vorm hulle ’n reus in die perdebedryf en besit en teel van beste resiesperde op die planeet.

  • Die bekendste van die drie is die Britse sakeman Michael Tabor, wat sy tyd tussen Barbados en Monte Carlo deel. Rostropovich en Magic Wand het die naweek in Tabor se kleure gehardloop. Tabor is een van slegs vier perdeienaars in die wêreld wat al met ’n Kentucky Derby wenner en ’n Epsom Derby wenner gespog het.
  • John Magnier is die eienaar van die Coolmore-stoetplase in Ierland, Amerika en Australië. Op die resiesbaan word sy perde verteenwoordig deur sy vrou, Susan, wie se pa ’n beroemde perde-afrigter was.
  • Derrick Smith is Brits, maar woon ook in Barbados. Hy besit die Sandy Lane Hotel saam met John magnier en Michael Tabor en nog ’n vennoot.
  • Aidan O’Brien is nie een van die drie nie, maar hy rig al Coolmore se perde af en word beskou as een van die wêreld se beste perdeafrigters.

Bykomende bron: RacingPost.com

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Stefan Potgieter  |  Perdewedren  |  Perdewedrenne  |  Perde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.