Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'Jou myn mag open' – toe sleep polisie die hoof hof toe

Mark Munroe, uitvoerende hoof van Impala Platinum se Rustenburg-bedrywighede, is een van minstens tien mynbase wat skriftelike toestemming van die departement van minerale bronne gekry het om hul myne geleidelik in bedryf te bring.

Die skriftelike toestemming van die departement van minerale bronne.

Sy inhegtenisneming Vrydag was klaarblyklik intimidasietaktiek van ander afdelings in die regering wat ontevrede is daaroor dat Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, die mynbedryf toelaat om operasionale bedrywighede geleidelik te hervat.

Die gebiede waar Implats se myne is noordwes van Rustenburg en rondom die Bafokeng-stamgebied is waar meeste van die 24 mense woon wat tot dusver in Noordwes positief getoets het vir Covid-19. Geen van dié mense is egter werknemers van Implats of gesinslede van Implats se werknemers nie.

Implats het reeds voor verlede naweek begin om werkers te vra om terug te keer werk toe.

Dinsdagoggend sou 6 000 van sy 42 000 werkers by sy Rustenburg-skagte aanmeld. Hulle sou met mediese ondersoeke en heroriëntering begin om in die volgende maand skagte geleidelik in bedryf te bring.

Dit was noodsaaklik omdat dit geruime tyd duur om skagte in bedryf te stel ná so ’n lang onderbreking. Die maatskappy, wat sy eie smelters gebruik, loop ook gevaar dat die erts­konsentraat vir smelters kan opraak indien hy nie betyds met die oriënteringstyd begin nie.

Maar toe die 6 000 werkers Dinsdagoggend by die skagte begin opdaag, het die Noordwes-polisie padversperrings opgerig by al die toegangspaaie na die skagte, sê Johan Theron, woordvoerder van Implats. Hulle het die werkers voorgekeer en beveel om na hul woonplekke terug te keer.

Munroe se inhegtenisneming dui op tweedrag in regering.

Munroe, ’n myningenieur van beroep met jare lange ervaring in top- uitvoerende poste by van die land se grootste mynmaatskappye, is Vrydagoggend in hegtenis geneem omdat hy werkers met SMS-boodskappe raad gegee het oor hoe om te midde van die inperking by Implats se Rustenburg-skagte uit te kom.

Hulle is aangesê om hul personeelkaarte te gebruik wanneer hulle deur wetstoepassers voorgekeer word omdat die maatskappy toestemming het om te begin werk.

Munroe is onder polisiebegeleiding na die landdroshof in Tlhabane naby die skagte waar die werkers moes aanmeld gebring en daarvan aangekla dat hy die regulasies van die Rampbestuurswet oortree het. Hy is nie gevra om te pleit nie en op borgtog van R60 000 vrygelaat.

Nog vreemder was ’n verklaring van Sahlulele Luzipo, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor minerale bronne, waarin hy Munroe se inhegtenisneming “verwelkom” en wetstoepassers vra om “beslissend” teen mynbestuurders op tree wat die inperkingsregulasies oortree. Hy vra of Munroe regtig op sy eie opgetree het en of daar nie ook teen die res van Implats se bestuur opgetree moet word nie.

Mantashe het egter reeds voor die Paasnaweek met die Mineraleraad (vroeër die Kamer van Mynwese) ooreengekom op ’n prosedure om mynmaatskappye toe te laat om ná die Paasnaweek aan die gang te kom, mits hulle nie meer as die helfte van hul produksievermoë in bedryf stel nie.

Die Mineraleraad het as tussenganger in die aansoeke opgetree vir toestemming om operasies te hervat.

“Van die myne wat reeds sonder enige voorvalle begin werk het, is die reusagtige Sishen-ysterertsmyn van Kumba by Kathu in die Noord-Kaap en Anglo American Platinum se Mogalakwena-myn naby Mokopane in Limpopo,” sê Charmane Russell, woordvoerder van die Mineraleraad. Sy kon nie ’n presiese syfer verstrek van hoeveel myne reeds weer begin werk het nie, “maar dis beslis meer as tien”, het sy gesê.

Alle myne is toegelaat om vir die volle tydperk van die Covid-19-inperking noodsaaklike dienste soos waterpompery en smelters aan die gang te hou. In ’n brief op die departement se briefhoof word selfs skriftelik bevestig dat Implats toestemming kry om op ’n beperkte skaal met operasionele werk te begin. Dis onderteken deur Thabo Mokoena, direkteur-generaal van die departement. Die brief het selfs Vrydag kort ná Munroe se hofverskyning op sosiale media die ronde gedoen.

Die myngroep het Vrydag weer met die heroriënteringsprogram van die 6 000 werkers begin.

Niël Pretorius, uitvoerende hoof van DRDGold, sê die regulasies is “haastig geskryf en nie altyd duidelik nie”. “Dis bietjie soos die Ou Testament, elkeen interpreteer dit anders. Maar die mynbedryf steun die regulasies en glo dit laat genoeg ruimte vir myne om aan die gang te bly. Daar is geen standoff nie.

“Die gevoel in die bedryf is dat die departement en die minister ontsettend hard werk om die situasie te normaliseer. Hy is intens bewus dat ’n punt bereik kan word waar die skade van te lank gesluit wees onomkeerbaar word. Maar hy moet baie versigtig wees dat ons die risiko behoorlik bestuur. Daar is geweldig baie opgeoffer met die inperking, en dit was suksesvol gewees, maar om dit nou ongedaan te maak deur oorhaastig op te tree deur mense onnodig aan risiko bloot te stel, dan maak jy alles ongedaan. En die Mineraleraad ondersteun hom 100%.”

Meer oor:  Gwede Mantashe  |  Myn  |  Mynbedryf  |  Implats
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.