Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Juanita, oudwerkers voor KVBA
Juanita du Plessis Foto: VERSKAF

’n Dispuut tussen die sangeres Juanita du Plessis se platemaatskappy en twee voormalige werknemers dien Maandag voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) vir moontlike bemiddeling.

Dit volg op ’n aanbeveling van die departement van arbeid, nadat geen ooreenkoms tussen Juanita Records BK en Willem Kruger en sy seun, Marius, bereik kon word oor werkloosheidsversekering nie.

Ardu Theron, die BK se prokureur by ’n arbeidspesialismaatskappy, het op navrae geantwoord dat hy nie in dié stadium kan kommentaar lewer voordat die saak voor die KVBA afgehandel is nie.

Hy het twee e-posse onderskeidelik afgesluit met: “Ek verneem graag na enige verdere inligting waarmee ek wel van diens kan wees” en “Ons deel graag die volle waarheid sodra hierdie aangeleentheid afgehandel is”.

Die Krugers voer egter aan dat hulle vir byna tien jaar vir Juanita Records BK gewerk het. Hulle het onder meer die klank by konserte hanteer.

In 2017 is hulle afgelê en het op 23 Junie 2017 skeidingspakkette onderteken.

Hiervolgens erken “die partye” dat daar ’n diensooreenkoms tussen Willem en Marius Kruger en die werkgewer was waarvolgens “die werknemer sekere verantwoordelikhede moes opneem inruil vir vasgestelde betaling per maand”.

Die rede vir die skeidingspakkette was omdat Juanita Records BK “weens operasionele vereistes” sy arbeidsmag moes verminder.

Die vier weke-kennistydperk sou op 1 Junie 2017 intree.

Beide werknemers se pakket het hul een week se betaling vir elke voltooide werkjaar gebied.

In Willem se geval behels dit die tydperk sedert die diensooreenkoms in September 2007, tot 28 Junie 2017, wat neerkom op nege voltooide werkjare – dus nege weke se betaling.

Marius se diensooreenkoms is in Februarie 2008 aangegaan, en hy ook ’n skeidingspakket van nege weke se salaris kry.

Punt 8 op die skeidingspakketooreenkoms voeg by: “Die werknemer sal ook voorsien word van bewys dat werknemer werkloosheidvergoeding by Werkloosheid Versekerings Fonds kan gaan verhaal (sic)”.

Die Krugers het die ooreenkoms aanvaar.

Toe hulle egter die dokumentasie vir werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) ontvang, blyk dit dat Juanita Records BK dit net vanaf 1 Julie 2016 tot 30 Junie 2017 betaal het.

Dit is ook die “periode van diens” wat op hul dienssertifikate aangedui is.

Sedertien probeer die pa en seun om die – volgens hulle – ander jare se werkloosheidsversekering te verhaal.

Volgens dokumentasie het hulle verskeie navrae hieroor aan Juanita Records BK, onder meer aan Ardu Theron, die BK se prokureur by ’n arbeidspesialismaatskappy, en Doepie, Juanita se man, gerig.

Toe dit na bewering op niks uitloop nie, is die pa en seun na die departement van arbeid.

Teboho Thejane, ’n woordvoerder van die departement, het bevestig dat ’n inspekteur van die arbeidsentrum in Julie 2017 ’n navraag van die Krugers ontvang het.

“Gegrond op die inhoud van die e-pos van die klaers het die inspekteur probeer help deur die werkgewer te kontak in ’n poging om die saak vriendskaplik op te los.

“Die werkgewer het die vereiste vorms voltooi, maar die klaers het aangedui dat die aanvangsdatum (van werk) verkeerd was.

“Op 13 Desember 2017 het die inspekteur ’n e-pos aan die klaers gestuur dat die werkgewer weier om die aanvangsdatum te verander,” het Thejane verduidelik.

Die Krugers se klagte is verwys na ’n werkgewer-oudit-inspekteur.

Die inspekteur het Juanita Records BK se boekhouer gekontak, sowel as die sekretaresse.

“Die werkgewer-oudit-inspekteur het ook na die werkgewer se perseel gery om die kennisgewing van oudit in persoon af te lewer. Die afgespreekte besoeke is nie (deur die werkgewer) nagekom nie. (Hulle) beweer dat hulle nie die eerste kennisgewing ontvang het nie, en het die tweede besoek uitgestel,” het Thejane gesê.

Daar is later, ná samesprekings met die sekretaresse en die boekhouer, ooreengekom dat Juanita Records BK ge-oudit sal word.

Die ouditinspekteur het ook besluit om die aangeleentheid na die KVBA te verwys as ’n dispuut.

Luidens ’n dokument van die KVBA sal die “proses” van konsiliasie Maandag begin.

Meer oor:  Juanita Du Plessis  |  Kvba  |  Skeidingspakkette
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.