Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Juffrou geopereer ná mesaanval
Mmaphefo Matsemela, LUR vir onderwys in Noordwes, vroeër vanjaar. Foto: Susan Cilliers

’n Onderwyseres in Brits, Noordwes, is Dinsdagmiddag geopereer nadat ’n onderwyser haar na bewering verskeie kere met ’n mes in die nek en rug gesteek het.

Caroline Phele (47) se oom, Isaac Boikanyo, sê haar familie is erg getraumatiseer ná die aanval op haar Maandagoggend by die Tolamo Primary School in ’n nedersetting naby Brits.

Volgens Boikanyo is Phele nie in lewensgevaar nie, maar sy het inwendige bloeding. Sy word in die waakeenheid van die Mediclinic Brits verpleeg.

“Ek kon haar nog nie sien of met haar praat nie.”

Phele is getroud en het ’n seun wat op hoërskool is. Volgens haar oom leef sy vir haar werk.

“Sy werk tot laat smiddae en hou daarvan om ouers leiding oor die hantering en versorging van hul kind te gee.”

Phele is al jare lank in die onderwys.

Elias Malindi, woordvoerder van Noordwes se onderwysdepartement, sê kinders en onderwysers by die skool wat die aanval op Phele aanskou het, is erg getraumatiseer en kry berading. Hy sê bouwerk word tans aan die skool gedoen en die kinders word tydelik in die skoolsaal onderrig.

“Die 64-jarige verdagte het glo Maandagoggend, toe die skole heropen het, geweier om sy hande te ontsmet en sy koors te laat meet toe hy by die saal wou ingaan. Hy het glo ’n klapmus opgehad. Die verdagte het glo die onderwyseres na buite geroep, waarna ’n stryery ontstaan het. Sy is toe verskeie kere in die nek en rug gesteek.”

Volgens Malindi het ander personeellede die verdagte gevang en die polisie gebel.

Mmaphefo Matsemela, LUR vir onderwys in Noordwes, het die voorval ten sterkste veroordeel.

“Ons is ontsteld en teleurgesteld. Geslagsgegronde geweld sal nie in ons skole geduld word nie. Enigiemand wat hom of haar daaraan skuldig maak, sal met die volle mag van die wet te doen kry. Dankie aan die ander personeellede wat die aanvaller gevang het.”

Matsemela het die skool Dinsdag besoek.

Ons is ontsteld en teleurgesteld. Geslagsgegronde geweld sal nie in ons skole geduld word nie. Enigiemand wat hom of haar daaraan skuldig maak, sal met die volle mag van die wet te doen kry. Dankie aan die ander personeellede wat die aanvaller gevang het.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die verdagte is nou onder polisiebewaking in ’n plaaslike hospitaal.

“Lede van die gemeenskap het hom na bewering aangerand toe hulle hom gevang het. Hy sal in die hof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.”

Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) het die voorval ook veroordeel.

“Dit wys ons lede en werkers in die onderwysbedryf is kwesbaar,” sê George Themba, Sadou se sekretaris in Noordwes. “Ons het daarom ’n veldtog, ‘I am a School Fan’, van stapel gestuur, wat verskillende belanghebbendes wil betrek om standpunt teen die toenemende geweld by skole in te neem.”

Die veldtog se mikpunte sluit onder meer in om skole veilige hawens te maak, geweld teen onderwysers te beëindig en geweld en geslagsgegronde geweld in skole en gemeenskappe in die algemeen stop te sit.

“Geweld teen onderwysers moet tot ’n nasionale krisis verklaar en op die hoogste vlak hanteer word,” sê Themba. “Ons doen ’n beroep op die onderwysdepartement om voorkeur te gee aan veiligheid by skole en om toegangsbeheermaatreëls te verskerp. Psigososiale ondersteuning en berading moet ook (waar nodig) aan die hele skoolgemeenskap voorsien word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.