Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'Juffrou was die diamant in Diamantveld-hoërskool'

“Juffrou het baie vinnig baie diep in ons harte ingekruip. In ’n kort tydjie het juffrou ’n groot impak in ons lewe gemaak. Baie dankie vir al juffrou se moeite, opoffering, ondersteuning, liefde en omgee. Sonder u is die skool maar net ‘veld’, want juffrou was die ‘Diamant’ in ‘Diamantveld’.”

Leerlinge het Maandag in ’n erewag vir Mareth Hugo, uittredende hoof van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley, gestaan en haar ná ’n afskeid-saalbyeenkoms met ’n dawerende applous gegroet. Agter Hugo is haar man, ds. FD Hugo, uitvoerende hoof van Caritas-gemeenskapsfokus, ’n geregistreerde niewinsgewinde organisasie in Kimberley, wat ook uitgetree het. Hulle gaan in die dorpie van McGregor, naby Robertson in die Wes-Kaap, aftree.Foto: Christiaan Cloete
Mareth Hugo, uittredende hoof van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley, pik Maandag ‘n traantjie terwyl sy vir oulaas deur ’n leerling van die skool omhels word. Hugo het na bykans 33 jaar by die skool, waarvan sy vier en ’n half jaar as skoolhoof gedien het, uitgetree.Foto: Christiaan Cloete
Mareth Hugo, uittredende hoof van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley, ontvang Maandag tydens ’n spesiale saaldiens ’n geskenk by een van haar leerlinge. Hugo het na bykans 33 jaar by die skool, waarvan sy vier en ’n half jaar as skoolhoof gedien het, uitgetree.Foto: Christiaan Cloete

Met hierdie roerende woorde het leerlinge van die Hoërskool Diamantveld Maandag (31/07) vir Mareth Hugo, skoolhoof vir die afgelope vier en ’n half jaar, vaarwel toegeroep.

Hugo, wat in September 2012 die leisels by Johan du Toit, vorige skoolhoof van Diamantveld (1997–2012) oorgeneem het, gee bykans reeds die afgelope 33 jaar (sedert 1985) ononderbroke by Diamantveld skool.

Sy en haar man, ds. FD Hugo, pas uitgetrede uitvoerende hoof van Caritas-gemeenskapsfokus, ’n geregistreerde niewinsgewinde organisasie in Kimberley, verlaat eersdaags die Diamantstad en gaan op die klein Wes-Kaapse dorpie McGregor (naby Robertson in die die Kaapse wynlande) aftree.

Leon Victor, adjunkhoof, sal in haar plek waarneem tot ’n nuwe hoof gekies is.

Volgens Jannie Louw, voorsitter van die Hoërskool Diamantveld se beheerliggaam, sal onderhoude reeds vanaf volgende week gevoer word vir die pos van skoolhoof.

Louw het Maandag (31/07) in ’n toespraak tydens ’n spesiale saalbyeenkoms vir Hugo se afskeid gesê dat as dit van die skool se beheerliggaam afhang, hulle ’n hoof soortgelyk aan Hugo sou kies om haar pos te vul.

Hy het Hugo bestempel as ’n hoof wat omgegee het, ondersteuning gebied het, betrokke was en mense gehelp het. Volgens hom was Hugo ’n goeie luisteraar, ’n persoon wat op haar voete kon dink en die vermoë gehad het om probleme te kon oplos.

Louw het ook gesê dat Hugo baie goed geweet het wat die skool se visie is en konsekwent was in haar optrede. Volgens hom het sy die skool in ’n beter toestand agtergelaat as wat sy hom gekry het.

Hugo het in ’n emosionele afskeidstoespraak leerlinge bedank vir hul vriendelikheid en bedagsaamheid teenoor haar.

“Ek wil vir julle baie dankie sê dat julle my dikwels herinner het dat ons grootmense al te gemaklik is met grys areas. Vir julle is ’n ding of wit of swart en julle het julle nie opgehou met daardie grys gebiede nie.

“Telkens, of dit nou was wanneer ek moes betug of wanneer ek moes prys, het julle my laat onthou dat ons nie so moet omgaan met grys gebiede nie. Dit is dalk die grootste voorreg wat onderwysers het wat daagliks met hoërskoolkinders werk,” het Hugo aan leerlinge gesê.

“Ek wil vanoggend ook vir julle jammer sê. Ek wil jammer sê as ek te kwaai was. En as iemand dalk gevoel het dat ek hom of haar veroordeel en nie net die stoutigheid wat gepleeg is - ek het dit nie so bedoel nie. As jy so gevoel het, vergeet dit asseblief dat ons op ’n skoon bladsy kan weggaan van mekaar af,” het Hugo gevra.

Aan 2017 se matrieks het Hugo gesê: “Ons het saam begin, julle in die hoërskool en ek in die kantoor. Ons het vier en ’n half jaar met mekaar bemoeienis gemaak.

“Matrieks, ek maak staat op julle! Ek is nie bekommerd oor julle as ek hier uitloop nie, want ek weet uiteindelik sal julle doen wat gedoen moet word. En net so een versoekie: skok asseblief almal met die wonderlike uitslae wat julle aan die einde van die jaar sal behaal,” het Hugo gevra.

Sy het ten slotte gesê dat dit haar wens vir elke leerling van die Hoërskool Diamantveld is om sy of haar plekkie in die son te vind en in te neem en dat leerlinge sal verstaan hoe waardevol elkeen se bydrae op daardie plek is.

Leerlinge het ná die saalbyeenkoms by die Cerf-saal ’n erewag gevorm om respek en vaarwelwense aan Hugo te betoon.

Sy is met ’n dawerende applous gegroet.

Meer oor:  Skoolhoof  |  Aftree
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.