Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Julle is mos miljoenêrs!’

Die “miljoenêr”-plaaswerkers van Tokara, ’n wyn-en-olyfplaas in die Boland, het wel honderde miljoene verloor in die Steinhoff-debakel, maar hulle het nog nie hul vertroue verloor in die man wat jare lank al na hulle omsien nie.

GT Ferreira

GT Ferreira, die miljardêr-sakeman en eienaar van Tokara, het die Tokara-werkerstrusts opgerig kort nadat hy die wynplaas gekoop het.

Dit het die afgelope week aan die lig gekom dat die Tokara SEB- Trust en die Tokara-werknemers­trust van die groter verloorders was in Steinhoff. Luidens die JSE se aandeelhoudingsregister bestaan die trusts se genoteerde aandeleportefeuljes uitsluitlik uit Steinhoff. Die SEB-trust het 5,2 miljoen aandele in Steinhoff en die ander werkerstrust 4,9 miljoen. Dit het die Tokara-werknemers en -afgetredenes op papier multimiljoenêrs gemaak. Maar noudat die aandeelprys met 95% geval het, het die trusts en Ferreira in sy persoonlike hoedanigheid sowat R1 miljard verloor.

Wat dié pil bitterder maak, is dat die trusts ’n paar jaar gelede noemenswaardige aandele in PSG en Capitec gehad het, maar dit is geruil vir Steinhoff-aandele.

Ferreira wou nie vrae oor die trusts of oor watter ander bates in die trusts is, beantwoord nie. Hy het wel gesê hy het die afgelope week met sy werkers gepraat en aan hulle verduidelik wat gebeur het, berig Aldi Schoeman.

Volgens hom is daar nog genoeg bates in die trusts om te verseker dat dit nie enige van hul voordele soos toelae vir behuising, vervoer en skoolgeld sal beïnvloed nie. Hy het egter erken dat die toekomstige jaarlikse diskresionêre uitkerings uit die trusts aan die werkers nie so “rojaal” gaan wees as wat dit sou gewees het nie.

Quinton (Piksteel) Hendricks, wat tot verlede jaar op Tokara gewerk het, sê Ferreira het altyd goed na hulle gekyk. Hy hou gereeld inligtingsvergaderings om almal op die hoogte te hou.

“Kyk, ek is voorbarig. Ek het in ’n vergadering met mnr. Ferreira opgestaan en vir hom gevra hoeveel nulle is in ons aandele. En waar is die bewyse op papier, want wie gaan ons glo?”

Hy sê hulle het net geweet daar lê ’n klomp geld in die trusts, maar hulle het nie papiere daarvoor gehad nie.

Die trusts is opgestel om werkers wat drie jaar of langer op die plaas gewerk het, te beloon, en 120 werkers van drie plase is die begunstigdes. Volgens Hendricks het permanente werkers elke jaar R6 000 gekry vir hul kinders se skoolgoed. En aan die einde van die jaar nog ’n bonus. Een jaar was dit R50 000.

“Een van die werkers was nou die dag in FNB, toe sê die een agter die toonbank: ‘Julle is mos miljoenêrs!’ Hy staan en lag.”

Die 57-jarige Daantjie Pietersen woon op Tokara se onkoste in ’n kompleks in Idasvallei, Stellenbosch, waar talle werkers van Tokara huisvesting het. Hy sê hy het dekades gelede op Tokara begin, “toe daar net een huis en geen olyfboom of wingerdstok op daai plaas was nie. Ek het die instandhouding gedoen, waterpype, kragdrade, gelê. Ek het Tokara uit die grond uit help bou.”

Ses jaar gelede het hy medies ongeskik geraak ná ’n beroerte.

“Die Here het my uit ’n rolstoel gehaal. Ná die stroke vra ek toe: ‘Mnr. Ferreira, kyk hier, wat gaan nou aan?’ Hy sê toe vir my: ‘Daantjie, sit op jou gat by die huis, ék sal na jou kyk.’ Ek is gelukkig en word goed na gekyk,” sê hy.

“Soms kom mnr. Ferreira hier kuier. Kyk, daai man is plat op die aarde. Oor twee jaar is ek 60, dan word ook na my gekyk. Ek het die volste vertroue in mnr. Ferreira.”

Meer oor:  Gt Ferreira  |  Steinhhoff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.