Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jurie se man skep by Saru

Frikkie Erasmus
Jurie Roux Foto:
Die Springbokagsteman Duane Vermeulen met ’n BokPulse-drankie.
Die Springbok-kragmanne Siya Kolisi en Eben Etzebeth met een van Frikkie Erasmus se BokPulse-produkte. Foto: Facebook
Foto:

Die prokureur van die be­leërde rugbybaas Jurie Roux verkoop honderdduisende rande se aanvullingsprodukte aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) sonder om lisensiegeld vir die gebruik van die gesogte Springbok-kenteken te betaal.

Die produkte wat al twee jaar lank ingevolge dié buitengewoon gunstige kontrak gelewer word, word onder meer deur die Springbokke en die Springbok-sewesspan gebruik.
Rapport verneem betroubaar Saru se besluit om sake te doen met ’n maatskappy waarvan die direkteur noue bande met Saru-hoës het, het ongemak en ongelukkigheid onder sommige Saru-amptenare en -werknemers veroorsaak toe die nasionale rugbyunie die BokPulse-produkte in 2013 begin aanskaf het.

Frikkie Erasmus, wat al in die verlede namens Saru in regsaangeleenthede opgetree het en wat Roux en Rassie Erasmus (geen verwantskap), Saru se hoof van rugby, in hul persoonlike hoedanigheid van regshulp bedien, is die alleendirekteur van die maatskappy EE Sport­consult Nutrition.

Die maatskappy verskaf hersteldrankies, energiejels, ete-aanvullings en proteïendrankies aan Saru onder die handelsnaam BokPulse. ’n Besending BokPulse-produkte is byvoorbeeld die afgelope week na die VSA gestuur waar die Blitsbokke binnekort in aksie sal wees by die Internasionale Rugbyraad (IRR) se Las Vegas-sewestoernooi. Die produkte word ook vir Saru se senior en junior Springbokspanne en die nasionale vroue-sewesspan aangekoop.

Daar was nooit enige bedoeling om die inligting uit die openbare oog te hou nie.
Frikkie Erasmus

Frikkie en Rassie is ook mededirekteure van die byna gelyknamige maatskappy EE Sportconsult, maar Rassie het volgens Frikkie en Saru geen belang in EE Sportconsult Nutrition nie.

Frikkie se medeaandeelhouer in EE Sportconsult Nutrition, die sakeman Fernando Lage, het gister gesê Rassie  was bloot ’n “goeie ambassadeur” vir die BokPulse-reeks toe die produkte deur Saru se afdeling vir rugby – waarvan Rassie aan die hoof staan – getoets is voordat Saru dit amptelik aanvaar het.  

Die BokPulse-produkte spog met ­Saru se wêreldbekende Springbok-handelsmerk op hul verpakking en word as “amptelik gelisensieerde produk van SA Rugby” erken.

Maar anders as wat normaalweg die geval is met maatskappye wat die SA Rugby-handelsmerk op hul produkte plaas en lisensiegeld in ruil daarvoor moet betaal, het EE Sportconsult Nutrition tot dusver nog nie ’n sent aan Saru betaal nie, het Lage gister erken.

Hy sê hulle het ’n spesiale “ooreenkoms” met Saru beding waarvolgens die maatskappy eers begin betaal wanneer die produkte “uiteindelik begin verkoop”.

Volgens Lage is die BokPulse-reeks nog nie winsgewend nie, ondanks die honderdduisende rande se produkte wat Saru die afgelope twee jaar by EE SportConsult Nutrition aangekoop het en die feit dat die produkte al bykans twee jaar lank in Dis-Chem-apteke landwyd verkoop word.

Saru het daarteenoor verlede Vrydag in e-pos gesê die verskaffer van BokPulse betaal wel lisensiegeld.

“BokPulse is een van sowat 80 lisensiehouers van SA Rugby en betaal ’n tarief vir die gebruik van die handelsmerk net soos enige ander lisensiehouer,” het Andy Colquhoun, Saru se hoof van korporatiewe aangeleenthede, geskryf.

Saru verdien amper R13 miljoen per jaar uit handelsmerkgeld, maar maak nie die bydrae van individuele lisensiehouers bekend nie, sê Colquhoun.

Hy het egter gister in ’n WhatsApp-boodskap toegegee dat die maatskappy nog nie betaal het nie.

“Hulle betaal wel ’n tarief, maar het nog nie begin nie,” sê hy.

Daar is klaarblyklik onenigheid oor presies hoe BokPulse as ’n amptelike produk van SA Rugby gelisensieer is.

Signet Licensing and Marketing, ’n Kaapse maatskappy wat normaalweg Saru se lisensiëring behartig, was glo nie by dié proses betrokke nie.

“Die lisensiëring van BokPulse is nie deur ons gedoen nie,” sê Natalie Hiddes, ’n direkteur van Signet.

Frikkie Erasmus ontken dit ten ­sterkste.

“Jou inligting dat Signet Licensing nie betrokke was nie, is ook nie korrek nie. Signet was inderdaad betrokke met die totstandkoming van die lisensieooreenkoms,” sê Frikkie.
Saru se eie gedragskode en protokoldokument oor belangebotsings stel baie duidelike riglyne en vereistes oor die hantering van moontlike belangebotsings ten opsigte van Saru se finansiële bedrywighede.

Die gedragskode vereis van Saru-amptenare en -werknemers om enige sakebelang te verklaar wat met Saru se belange mag bots. Saru-amptenare mag ook nie hul posisie gebruik om hulself of ander te bevoordeel nie.

Voorts mag Saru-amptenare nie hul posisie gebruik om vir hulself of familie of vriende ’n materiële voordeel deur middel van hul assosiasie met ­Saru te beding of te verkry nie.
Saru én Frikkie ontken dat bogenoemde voorskrifte oor belangebotsings oortree is in die aanloop tot en aanstelling van EE Sportconsult Nutrition as verskaffer van aanvullings­produkte aan Saru.

Saru se uitvoerende komitee het in Maart 2013 besluit “dat die moontlikheid ondersoek moes word om aanvullers te vervaardig wat aan uiters streng voorskrifte voldoen vir gebruik deur die Springbokke,” sê Frikkie.

Dit was ná die opkikkerskandaal van 2010 toe die Springbokke Chiliboy ­Ralepelle and Bjorn Basson positief getoets is vir ’n verbode stimulant wat glo in ’n bekende aanvullingsproduk voorgekom het.

Frikkie sê hy is gevra om te help vanweë sy kennis oor wetgewing rondom verbode middels, verpakkingsvoorskrifte en farmaseutiese en voedselvervaardigingsaanlegte.

Sy maatskappy het toe die BokPulse-reeks in samewerking met die Amerikaanse chemiese reus DuPont vervaardig, verduidelik hy.

“Die rol van Frikkie Erasmus, wat al deur SA Rugby gekontrakteer is en by geleentheid deur die uitvoerende raad aangestel is om hom te verteenwoordig . . . sowel as (die feit dat hy) die regsverteenwoordiger van Jurie Roux en Rassie Erasmus is, was aan die uitvoerende raad bekend voor die lisen­siëring van BokPulse,” sê Colquhoun namens Saru.

“EE Sportconsult Nutrition het ons verseker dat geen Saru-amptenaar of lid van die uitvoerende raad enige direkte of indirekte persoonlike of private sakebelang in mnr. (Frikkie) Erasmus se maatskappy het nie en dat (geen Saru-amptenaar of lid van die uitvoerende raad) hul posisie (in Saru) vir private gewin of tot die onbehoorlike voordeel van enigiemand of om materiële voordeel vir hulself of vir enigiemand anders te beding, gebruik het nie,” sê Colquhoun.

Frikkie het Rapport verwys na ’n koerantberig oor die BokPulse-reeks wat in Maart verlede jaar in Die Burger verskyn het as bewys van “die deursigtigheid waarmee die hele aangeleentheid hanteer is.”

“Daar was eenvoudig nog nooit enige bedoeling om die inligting uit die openbare oog te hou nie,” sê Erasmus.

Die berig verwys egter slegs na Du­Pont se rol in die vervaardiging van BokPulse, terwyl Frikkie Erasmus beskryf word as “die prokureur wat toesien dat regsvoorskrifte streng nagekom word.” EE Sportconsult Nutrition word nie vermeld nie. 

pieter-louis.myburgh@rapport.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.