Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jy betaal vir hoës se DStv, waspoeier

Al ooit gewonder wie betaal vir ministers en adjunkministers se skoonmaakmiddels, internetdienste, DStv en selfone?

Jy.

Dondo Mogajane ... glo verplig om twee BMW X5’e in te ruil.

Selfs oudministers en hul adjunkte se gratis vlugte kan die belastingbetaler soveel as R17 miljoen per jaar kos, volgens bepalings in die bygewerkte weergawe van die ministeriële handboek, wat op 8 Junie deur die kabinet goedgekeur is.

Die ANC het aanvanklik probeer keer dat opposisiepartye die handboek te siene kry, toe plaas iemand dit die afgelope week op die internet.

Volgens die nuwe handboek sal die staat vir “toerusting” soos die “huur van selfone”, faksmasjiene, DStv en internet- en WiFi-dienste vir ministers, hul adjunkte, premiers en LUR’e betaal.

Besteding aan DStv Premium alleen kan dus altesame R129 000 per maand kos.

Die ministeriële handboek is vir die eerste keer in 12 jaar verander nadat dit aanvanklik in 2007 onder oudpres. Thabo Mbeki opgestel is.

‘Nuwe reëls bring nie groot besparings mee nie.’

Die nuwe handboek laat die staat toe om R250 000 aan sekuriteit by ministers se private wonings te bestee – veel hoër as die R100 000 in die ou handboek.

Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, sê die nuwe reëls “bring geen noemenswaardige besparings mee nie”.

Besteding aan motors word ook nie ingekort nie, behalwe dat ’n motor eers ná 120 000 km of vyf jaar vervang mag word.

Schreiber sê egter die ANC-regering “ignoreer” dié bepaling al vir jare.

Rapporthet verlede week berig ANC-ministers en hul adjunkte het in net 24 ministeries die afgelope drie jaar byna R50 miljoen aan luukse motors bestee.

Dit het aan die lig gekom danksy parlementêre vrae deur die DA.

In die vorige weergawe van die ministershandboek was die perk op motors gelykstaande aan 70% van ’n minister se jaarlikse salaris – sowat R1,6 miljoen.

Elke minister is ook geregtig op 15 werknemers, adjunkministers op 11, en premiers en LUR’e op 13.

Dit sluit twee huiswerkers en een bestuurder per ampsdraer in, wat volgens die departement van staatsdiens en administrasie se bepalings op ’n vlak-3-salaris aangestel moet word van minstens R100 545 per jaar.

Ook plaaslike en internasionale vlugte word gedek. Besigheidsklas is net toelaatbaar as jy die goedkoopste van drie kwotasies kies.

Volgens die ou ministeriële handboek kon ministers in eersteklas rondrits.

Benewens vlugte vir amptelike doeleindes is bevoordeeldes van die ministeriële handboek se gunste en gawes geregtig op 30 binnelandse eenrigtingvlugte in besigheidsklas.

Dié kaartjies mag in sommige gevalle aan familielede of huiswerkers oorgedra word – maar dan vlieg hulle ekonomiese klas.

Kinders is geregtig op ses binnelandse vliegkaartjies per jaar, maar die staat betaal darem nie as kinders oorsee reis nie.

Gades mag slegs op twee internasionale reise per jaar saamgaan.

Schreiber se groot bekommernis is dat belastingbetalers ook vir oudministers en hul adjunkte se besigheidsklasvliegkaartjies moet opdok.

Oudministers kry 48 besigheidsklaskaartjies per jaar en hul gades 24, terwyl voormalige adjunkministers 36 en hul gades 18 elk kry.

“Teen gemiddeld R4 000 per kaartjie, beteken dit Suid-Afrikaners betaal R192 000 per jaar vir elke voormalige minister se vlugte,” sê Schreiber.

“Die vorige kabinet het 36 ministers en 36 adjunkte gehad, wat beteken dat belastingbetalers kragtens die nuwe handboek elke jaar meer as R17 miljoen kan bestee om oudministers en hul adjunkte in styl rond te vlieg.”

Plek-plek het staatsdepartemente wel besuinigingsmaatreëls aangekondig.

By die departement van finansies het Tito Mboweni, die minister, glo sy direkteur-generaal, Dondo Mogajane, beveel om twee BMW X5’e ter waarde van R1,2 miljoen in te ruil op ’n Mercedes-Benz C-Class, wat R600 000 kos.

Mboweni ry met sy eie motor.

Meer oor:  Dondo Mogajane  |  Leon Schreiber  |  Besparing  |  Ministers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.