Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Jy kan nie dié boosheid aan wit of swart koppel nie’

Die dubbele moord op die Bruwer-egpaar van Vanstadensrus getuig van ’n tipe boosheid wat nie gekoppel kan word aan kleur óf geleerdheid nie.

Só vertel ds. Frans Gottschalk van die NG Vanstadensrus-gemeente oor die moorde op Choppie (78) en Marian Bruwer (68), wat dié klein gemeenskap diep geruk het.

“Dit het niks te make met wit of swart en opgevoed of nie opgevoed nie. Dis mense wat nie aan die Here behoort nie en nie weet wat hulle doen nie”.

Choppie Bruwer (78) en sy vrou, Marian (68), is verlede Maandagnag op hul plaas sowat 3 km buite Vanstadensrus aan stoele vasgebind en in die kop geskiet. Foto: Ds. Frans Gottschalk

Gottschalk moes Sondag die Bruwers se roudiens lei net 23 maande nadat hy hulle in dieselfde kerk getrou het. Hy het hulle op 24 Augustus 2016 in die eg verbind. Hy het ook die troufoto van die egpaar geneem.

Die boodskap wat hy Sondag gedeel het, is dat die gemeenskap nie wraakgedagtes koester nie.

“Ons moet ophou kloek en eerder uitgaan in die wêreld en lig spreek,” het hy Sondag in die roudiens gesê. Hy het sy preek op Matteus 5:13 gegrond en ’n oproep op die gemeenskap gedoen om sout en lig te wees.

Hy sê die afgelope twee jaar was Marian se gelukkigste jare van haar lewe.

“Sy het Choppie se lewe reggeruk nadat hy sy vrou verloor het en totaal en al wanhopig was. Hy het nie eens meer sy lisensies hernu nie, maar Marian het hom gehelp om alles deur te werk.”

“Marian was ’n baie nugter, vaste mens, hulle albei was,” sê hy.

Die begrafnisbrief beskryf Marian met een woord en dit is “gee”, vertel Maureen Grobbelaar, haar skoonsuster. “Liefde, ondersteuning, hulp is wat sy gegee het,” sê sy.

“Choppie se woord was vergewensgesind. Hy was altyd daar vir almal.”

Vanstadensrus is een van die kleinste gemeenskappe in die Vrystaat. Volgens 2011 se sensus was daar 820 mense in die dorpie. Hiervan was 770 swart en 35 wit.

Volgens die ou Naledi-munisipaliteit is die werkloosheidsyfer onder jeugdiges in die dorpe Dewetsdorp, Wepener en Vanstadensrus soveel as 36%.

Die twee verdagtes is deur die polisie in Vanstadensrus en Wepener vasgetrek.

Inwoners van dié klein gemeenskap het baie vrae.

“Die werklikheid slaan my nou eers,” sê Kobus Fouché, die Bruwers se buurman wat ondersoek by die plaashuis kort ná die moord gaan instel het en die polisie ontbied het.

Sophy Plaas (55) was drie jaar lank die Bruwers se huiswerker. Sy woon in Gaba Square, ’n informele woonbuurt buite die dorp, waar een van die verdagtes enkele ure voor die begrafnis Sondag vasgetrek is.

“Ma, my hart is baie seer. Ek kan nie eens praat nie. Die trane loop net so af en af.”

Sy sê sy het baie lekker by hulle gewerk.

“As ek iets gesoek het, krag of enige iets, het hulle my altyd gehelp.”

Vakansies het sy na die Bruwer-egpaar se huis omgesien. “Ek het na hulle vier honde, katte en bobbejaan gekyk. Nou is ek by die huis. Ek het nie eens pap in my huis nie.”

Volgens Gottschalk is die egpaar se ouer skaaphond onder die sorg van Izak Wessels, ’n ander buurman.

Hul grysbruin basterhondjie, wat met die moord onder die eetkamertafel weggekruip het, is onder die sorg van ’n familielid.

Die bobbejaan, Amanda, wat volgens Grobbelaar altyd saam met Choppie agterop sy motorfiets gery het, word tans by die Bloemfonteinse Dieretuin gerehabiliteer.

Meer oor:  Egpaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.