Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jy moet jouself liefhê, is nuwe Mej. SA se raad

Sy kan mooi sing, is gek daaroor om verskillende restaurante te beproef en Winnie Madikizela-Mandela is een van haar grootste rolmodelle.

Dis maar enkele van die feite oor haarself wat Zozibini Tunzi (25), die nuwe langbeen Mej. SA, Sondag in ’n mediaverklaring oor haarself verklap het.

Dié tweede oudste van vier dogters in die Tunzi-gesin, sê “Mama Winnie” is vir haar ’n inspirasie weens haar veggees gedurende die apartheidsjare toe haar man, Nelson, 27 jaar in die tronk was en sy hul kinders alleen moes grootmaak.

Zozibini Tunzi, die nuwe Mej. SA, by Alexis Dickson (7), ’n jong aanhangertjie van Pretoria.Foto: Verskaf

“Die feit dat sy in die voorste linies van die stryd en steeds ’n ma vir haar dogters was, is een van die redes hoekom ek glo daar is niks wat ek nie kan bereik of oorkom nie,” sê Tunzi. “Ek wil ook positiewe veranderinge meebring soos sy.”

Tunzi se ouers is haar ander groot rolmodelle. Haar pa, Lungisa, ’n bestuurder by die Gautengse departement van hoër onderwys, het haar “die belangrikheid van ’n opvoeding, harde werk en dissipline geleer”.

“My pa kon nog altyd ’n balans handhaaf tussen streng en liefdevol wees. Hy het my geleer hoe om ambisieus te wees en jou doelwitte te bereik. My ma (Philiwa) het my geleer hoe belangrik dit is om altyd goedhartig, nederig en hulpvaardig te wees.”

Philiwa is die skoolhoof van Bangweni JSS, ’n skool in die Bolotwa-nedersetting in die Oos-Kaap.

Tunzi se drie susters, Yanga (30), Sibabalwe (24) en Ayakha (13), is ook haar beste vriende, sê sy. Tunzi gaan eet ook graag by allerlei restaurante saam met haar susters en vriende, lees en kyk dokumentêre programme of ware lewensverhale.

“Ek lê ook graag op die strand of ry fiets daar. Baie mense weet nie dat ek kan sing nie. Ek doen dit nooit in die openbaar nie, maar ek is nogal goed.”

Die uitgaande Mej. SA, Tamaryn-Green, kroon ’n oorstelpte Zozibini Tunzi as haar opvolger. Foto: Deaan Vivier

Tunzi se gunstelinggereg is stampmielies en biefsmoor.

Sy erken sy is smoorverlief op Jesse Williams, die akteur wat die rol van dr. Jackson Avery in Grey’s Anatomy speel.

Tunzi, ’n boorling van Tsolo in die Oos-Kaap, werk en studeer nou in Kaapstad waar sy besig is met haar B Tech-graad in skakelwerk by die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie. Sy het reeds ’n nasionale diploma in skakelkunde daar verwerf. Sy doen ook voltyds skakelwerk by Ogilvy Cape Town.

Tunzi sê sy het vir die Mej. SA-kompetisie ingeskryf omdat sy nog altyd ’n doelgerigte lewe wou lei.

“Ons bestaan nie net om onsself te dien nie; ons moet ’n deel van ons lewe daaraan wei om ander te dien, veral diegene wat die meeste hulp nodig het. Ek kom uit een van die armste provinsies in Suid-Afrika en het al eerstehands beleef hoe net ’n klein bietjie hulp ’n groot verskil in iemand se lewe kan maak. Ek wil dit graag vir iemand doen.”

Basetsana Khumalo, wat in 1994 in Mej. SA wes, inspireer Tunzi omdat sy in die oorgang na die nuwe bedeling in Suid-Afrika ’n toonbeeld was vir wat ’n swart Suid-Afrikaanse vrou in die toekoms kan wees. “Sy moes veg om as ’n swart vrou iets buitengewoons te doen in ’n tyd toe dit byna onmoontlik was vir ’n swart vrou om te droom vir iets.”

Dit was is Tunzi baie betekenisvol dat sy juis op Vrouedag as Mej. Suid-Afrika gekroon is.

“Hierdie kompetisie het nog altyd vir my gegaan oor die bemagtiging en opheffing van vroue. Ons moet die werk voortsit van die vroue wat op 9 Augustus 1956 (na die Uniegebou in Pretoria) gemarsjeer het, om op te staan en deure vir ander vroue oop te maak.”

Tunzi glo skoonheidskompetisies is vandag nog baie sinvol. “Dis ’n wanpersepsie dat skoonheidskoninginne oppervlakkig is. Hulle doen ongelooflike dinge vir mense en gemeenskappe. Van die vorige Mej. SA-wenners het briljante breine gehad. Skoonheidskompetisies in 2019 gaan oor meer as net uiterlike skoonheid, dit gaan oor wat ’n individu aan die wêreld kan bied en hoe ander vroue bemagtig kan word.”

Tunzi beskryf haarself as “kalm, betroubaar en vasbeslote”.

“My boodskap aan jong meisies en vroue in Suid-Afrika is om jouself ten volle te ken omdat jy jouself dan onvoorwaardelik kan liefhê. Wanneer ons onsself liefhet, is die stryd reeds halfpad gewonne. Moenie bang wees nie. Skitter en staan vir jouself op.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.