Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Jy moet trek en vanaand uit wees’
Lynette Francis, gespreksleier van die Jakes Gerwel-gespreksreeks, gesels met die paneel wat gister gedwonge verskuiwings bespreek het. Die gespreksreeks is deel van die Suidoosterfees en die paneel het bestaan uit, van links, Pierre de Vos, grondwetkenner aan die Universiteit van Kaapstad, Thokozana Nomnga, provinsiale koördineerder van die Federation of Urban and Rural Poor, Herman Bailey, oudburgemeester van Wellington, en Melanie Manuel, wat haar insette telefonies gelewer het. Foto: Jaco Marais

Die politiek-gedrewe verskuiwings van apartheid wat op ras gegrond was, is verby. Dit beteken egter nie mense word nie steeds verskuif nie, het prof. Pierre de Vos, grondwetkenner aan die Universiteit van Kaapstad en een van die deelnemers aan die gesprek, gesê.

“Die Grondwet sê dat niemand arbitrêr en sonder ’n hofbevel verskuif mag word nie en ingevolge die PIE-wetgewing kan iemand net verskuif word as ’n hofbevel verkry en al die relevante faktore in ag geneem is.”

Dit sluit in hoe lank hulle op die terrein woon, of daar vroue en kinders betrokke is, of daar met die mense onderhandel is en of alternatiewe verblyf voorgestel is.

“Dit is egter baie moeilik, want aan die een kant is daar eiendomsregte en aan die ander kant menseregte. Hulle het die reg om met menswaardigheid behandel te word.

Die howe probeer die regsproses met grasie en deernis volg deur nie elke keer iemand wat onwettig op iemand anders se eiendom bly, bloot uit te sit of te verskuif nie.”

Hy het benadruk dat elke geval op sy eie meriete hanteer word.

“Jy kan byvoorbeeld nie hof toe gaan en ’n interdik verkry sodat niemand op jou grond mag huis opsit nie, want dan hanteer jy mense as ’n probleem en dit sou nie aanvaarbaar wees nie,” het hy gesê.

“Vandag vind gedwonge verskuiwings plaas waar grondwetlike verpligtinge nie deur munisipaliteite uitgevoer word nie, want dit kos geld om na die hof te gaan. Mense gebruik hul mag om mense sonder ’n hofbevel uit te sit.

“Daar is ’n raamwerk om die mense te beskerm, maar dit werk nie altyd uit nie, want mense gebruik eie reg,” het hy gesê.

Armes word ergste geraak

Thomozama Nomnga, provinsiale koördineerder van Federation of Urban and Rural Poor, het gesê dit is die armstes wat weerloos is teen die verskuiwings.

“Ons praat nie net van armes nie, maar mense wat nie hul eie huise kan bekostig nie. Waarheen gaan hulle as hulle uitgesit word?” het sy gevra.

Uitsettingsbevele en hofbevele is duur om teen te staan en mense weet nie altyd hoe om gratis regshulp te kry nie.

“Die stadsraad sê altyd daar is nie grond beskikbaar nie, maar wat doen hulle om die armes te help?

“Intussen word hulle na die buitewyke van die stad verskuif, wat ver van hul werkplekke in die middestad en hul kinders se skole is.”

Volgens Melanie Manuel, verbonde aan die Informal Settlement Network, word mense wat huur betaal om op iemand se perseel huis op te sit, ook geraak.

“Hulle word daagliks deur uitsettings in die gesig gestaar en wanneer dit gebeur, word hul strukture ook nog afgebreek.

“Die stadsraad sê dan bloot dat hulle nie met hulle ’n ooreenkoms het nie, maar met die huurder van die perseel,” het sy gesê.

Die ‘ontbruining’ van ­dorpe

Gedurende die apartheidsjare het ’n lyn “netjies deur die dorp van Wellington gesny”, en dit was die begin van die “ontbruining van die dorp”, het Herman Bailey, oudburgemeester van Wellington, gesê. Bruin en swart gemeenskappe is na suid van Markstraat geskuif.

“Toe ek as burgemeester toetree, het ek besef dat die mense nodig het om hul stories te vertel.”

Hy het vertel hoe munisipale voertuie voor mense se huise stilgehou en daar aan hulle gesê is: “Meneer so-en-so . . . jy moet trek en teen vanaand uit wees,” het hy vertel.

Van die wit inwoners wat na die vertellings geluister het, het begin huil, want hulle het nie geweet wat in hul eie dorpe aan die gang was nie. “Dit is wat daardie regering aan ons gedoen het,” het hy gesê.

’n Luisteraar het op sosiale media gevra of die uitsettings nie “iets van die verlede is nie” en gesê mense moet “aanbeweeg van die negatiewe”.

De Vos het geantwoord: “Dit is belangrik om te leer uit die foute van die verlede en daarom moet ons daaroor praat. Dit is verkeerd en onregverdig om te verwag dat mense moet aanbeweeg wanneer dit steeds gebeur.”

Meer oor:  Trek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.