Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
K-woord: Nog ’n Bolhuis-bom

Die private speurder Mike Bolhuis se apologie oor sy rassistiese uitlatings en beloftes om brûe te bou van vroeër die week was skaars koud of hy is wéér in die moeilikheid – dié keer weens die k-woord.

Mike Bolhuis Foto: Facebook

In stemopnames wat hy self rondgestuur het praat hy van “enige “f*kker k*ff*r”, “f*kken Arabiere” en verwys hy na ’n senior Pretoriase advokaat en staatsaanklaer as ’n “vetgat”.

Nadat Rapport die speurder, wat deesdae ook die ster van sy eie werklikheidstelevisiereeks is, Saterdag met dié opname gekonfronteer het, het hy beloof om sy taalgebruik voortaan “drasties” aan te pas.

“Dis f*kken stupid en ’n slegte gewoonte. Ek het nie besef ek praat só nie want dit is by my ingeprint. Ek was geskok toe ek besef dit is hoe ek praat. Ek besef nou dat ek nie my perke geken het nie. Believe you me, ek is nou baie versigtig en ek gaan my taalgebruik drasties aanpas en let op wat ek in die toekoms sê.”

Rapport het verlede week berig dat kykNET besluit het om nie voort te gaan met die tweede reeks van Bolhuis se uiters gewilde TV-reeks nie nadat ’n stemopname aan die lig gekom het waarin hy verwys na ’n “gitswart h**tkop” en ’n “n***er”.

Timmie, Timmie?.?.?. Luister Tim. As ons jou bel, luister jy en bly stil.

Die tweede reeks van Bolhuis was reeds vervaardig en beide die vervaardigers en die TV-kanaal sou miljoene in die proses verloor.

Dit het Bolhuis genoop om op ’n sjarme-offensief te gaan om die konteks van sy opmerking te skets.

Hy het aan eNuus (wat vir kykNet se 19:00-nuusbulletins verantwoordelik is) gesê dat hy besig was om ’n saak van seksuele afpersing teen ’n “baie jong student” te ondersoek waarby ’n “Wes-Afrika-sindikaat” blykbaar betrokke was. Hy sê hy het die student uitgetrap oor hy so dom kon wees om te val vir hul truuks en in die proses die afperser ’n “gitswart h***kop” genoem.

“Ek het ’n verskriklike haat teenoor dié sindikate,” het hy verduidelik.

eNuus het ook berig dat MultiChoice en kykNET “nog nie finaal besluit het” of hulle tog sy reeks gaan uitsaai nie.

Skaars was dié mea culpa koud of Bolhuis was weer kniediep in die moeilikheid.

Tim Pretorius, vir wie Mike Bolhuis die gewraakte Whats-App stemnota gestuur het. Foto: Deon Raath

Die keer het sy rassistiese woordeskat uitgebrei om ook die k-woord en “f****n Arabiere” in te sluit met ’n bietjie vrouehaat vir dramatiese effek.

Die tweede WhatsApp-stemnota, wat in Desember verlede jaar opgeneem is, is boonop deur Bolhuis self rondgestuur, so hy kan nie “opportuniste wat hom wil diskrediteer” daarvoor blameer – soos hy Vrydag in ’n mediaverklaring gedoen het nie.

Die stemnota bestaan uit ’n telefoongesprek met Hugo Wolmarans, ’n private ondersoeker wat saam met Bolhuis werk. Hulle bespreek verskeie sake en Wolmarans waarsku Bolhuis drie keer oor sy wilde uitsprake en dat mense hom dalk van crimen injuria kan aankla.

Bolhuis sê oor dié uitsprake dat hy nie bang is nie en reeds deur prokureurs gedreig is.

“Ek het (die prokureursbrief) hier f****n opgeskeur in stukkies. Mooi. Dit het gelyk soos konfetti by ’n troue.”

In ’n stadium word hul gesprek onderbreek toe Bolhuis ’n tweede oproep neem wat ook opgeneem is. Dit klink soos ’n voornemende kliënt.

Bolhuis sê dan vir die beller: “Sit dit vir my op skrif. Maar ek kan jou nou al sê jy is ge-knock. Enige f*kk*r k*ff*r bo in Afrika wat vir jou vra vir geld vir ’n plaas. . . Asseblief tog. Jy kan mos nou duidelik hoor. . .” sê hy hoorbaar geïrriteerd.

Die gesprek met Wolmarans word dan vir ’n tweede keer onderbreek.

Dié keer is dit ene Tim Pretorius by wie Bolhuis inligting wou hê vir ’n ondersoek. Pretorius was ontsteld omdat Bolhuis ’n verklaring op die internet gepubliseer het wat dit volgens Pretorius laat lyk asof hy betrek word by bedrog en korrupsie. Bolhuis trap Pretorius uit omdat hy voorheen met regstappe gedreig het.

Hy stoom voort: “Timmie, Timmie. Luister Tim. As ons jou bel, luister jy en bly stil. As ons jou bel, is dit nie om vir jou te sê, ‘hi, seun, hoe gaan dit met jou?’ nie. Dan is daar k*k. Dan bel jy f*kk*n onmiddellik terug.”

Die tirade duur voort totdat Pretorius die foon dooddruk, maar Bolhuis hou aan praat. Wanneer hy besef die lyn is dood, sê Bolhuis vir Wolmarans: “Nee, (Pretorius) dink hy is slim. Maar ek gaan vir hom die recording stuur.”

Elders verwys hy na die senior staatsaanklaer adv. Rita Viljoen, met wie hy moet werk, as “Rita vetgat Viljoen” en sê hy gaan haar “blaas”.

Bolhuis het Saterdag gesê hy aanvaar volkome verantwoordelikheid, maar sê sy taalgebruik maak nie van hom ’n rassis nie.

“Ek glo vas dat rassisme niks vir die land beteken nie en nie ’n oplossing is nie. Ek wil daarom nie hê dat enige rassiste moet dink dat ek hulle ondersteun of dit op enige manier goedpraat nie,” sê hy.

Hy meen nié sy verskoning spreek hom vry nie en hy het geen verwagting dat sy TV-program sal voortduur nie. “Ek neem volle verantwoordelikheid. Ek het dit aan myself gedoen en aan al die mense wat saam met my aan die program werk. Ek vra wel vir versagting sodat ek dit kan regmaak wat ek verkeerd gedoen het.”

Joe Heshu, MultiChoice-woordvoerder, sê Bolhuis het kykNET en MultiChoice Maandag om verskoning gevra en homself verbind om bewustheid te skep “rakende die lesse wat hy geleer het”. Hy sê die herinstelling van sy program is iets “wat mettertyd oorweeg sal word”.

Meer oor:  Mike Bolhuis  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.