Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kaap-na-Kaïro-reis: Droom eindig in pyn
Die wrak van die vliegtuig waarin die twee vlieëniers Saterdag dood is. Foto: Facebook/Aviation Tanzania

Die droom van Suid-Afrikaanse tieners wat ’n vliegtuig gebou het om van die Kaap na Kaïro te vlieg om hoop na ander tieners in Afrikalande te bring, het in ’n tragedie ontaard toe die jong stigter van die inisiatief se pa en sy mede-vlieënier se bystandsvliegtuig neergestort het.

Des Werner (49), pa van Megan (17), stigter van die U-dream Global-inisiatief, en Werner Froneman (39), twee kommersiële vlieëniers van Johannesburg, is dood toe die Sling-4-vliegtuig waarin hulle was Saterdagoggend voor 08:00 sowat 30 km van die Tabora-lughawe in Tanzanië neergestort het.

Hulle was deel van die U- Dream Global-inisiatief waarin tieners met die hulp van The Airplane Factory en onder die wakende oog van Denel in Junie verlede jaar ’n prototipe van ’n Sling-4-vliegtuig gebou het om van Kaapstad na Kaïro te vlieg.

Sam Manda, woordvoerder van die U-Dream Global-inisiatief, sê die oorsaak van die ongeluk waarin Werner en Froneman dood is, is nog nie vasgestel nie. Hulle was nié in die prototipe-vliegtuig nie, maar in ’n Sling-4 waarmee daar volgens Manda al talle kere vantevore gevlieg is.

Werner Froneman (39) en Des Werner (49), wat Saterdag in ’n vliegongeluk in Tanzanië dood.Foto: Facebook/U-dream Global

Megan is een van die tieners wat help bou het aan die proto­tipe. Sy is in gr. 12 in die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp.

Werner se vrou, Belinda, was Sondag in trane toe sy oor haar man gepraat het.

“Hy sou die einde van die maand sy 50ste verjaardag gevier het,” het sy gesê.

Sy het Vrydag met hom gepraat en sê hy was in ’n ligte luim. “Hulle sou Maandag in Suid-Afrika aankom en almal het so uitgesien daarna.”

Die U-Dream Global-inisiatief het wêreldwyd opslae gemaak en selfs die BBC het daaroor berig.

Megan, wat ’n vlieglisensie het, het vroeër gesê die doel van die projek is om in verskeie lande in Afrika motiveringspraatjies aan tieners te gaan gee.

“Dit moes wys dat as ’n mens besluit om iets te doen, enigiets moontlik is.”

Die tog van Kaapstad na Kaïro het in Junie vanjaar begin. Daar is 12 000 km gevlieg en Namibië, Malawi, Etiopië, Zanzibar en Tanzanië is aangedoen.

Manda sê die vliegtuig waarin Froneman en Werner was, het as ’n bystandsvliegtuig gedien.

Megan Werner in Junie by haar ouers, Des en Belinda, kort voor die U-Dream Global-span se vertrek na Kaïro.Foto: Adrian de Kock
Megan Werner (17), Driaan van den Heever en Hendrik Kotze op die Kaïro Internasionale-lughawe.Foto: Facebook/U-dream Global
So lyk ’n Sling-4-vliegtuig waarin twee Suid-Afrikaanse kommersiële vlieëniers Saterdag in Tanzanië dood is. Foto: Facebook/U-dream Global

Dié vliegtuig het op pad na Kaïro – in Addis Abeba in Ethiopië – brandstofprobleme ondervind. Die vliegtuig was daar gestrand en Megan, Driaan van den Heever en Hendrik Kotze het alleen in die prototipe na die eindbestemming gevlieg.

Hulle het op 8 Julie, drie weke nadat hulle in Kaapstad opgestyg het, daar geland.

Volgens Manda is ’n ingenieur intussen na Ethiopië om die Sling-4 te gaan herstel.

Froneman en Werner was Saterdag op pad na Malawi, waar Megan, Driaan en Hendrik op hulle gewag het om die laaste skof terug na Suid-Afrika saam aan te pak.

Manda sê die oorsaak van die ongeluk sal deur die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) en die owerhede in Tanzanië ondersoek word.

Dit is nog onduidelik wanneer Werner en Froneman se oorskot na Suid-Afrika gebring sal word.

Megan, Van den Heever en Kotze sou gistermiddag laat van Malawi na Johannesburg gevlieg het.

William Rooken-Smith, president van die Vereniging van Lugdiensvlieëniers, het Sondag sy medelye uitgespreek.

“Slings is goeie vliegtuie en word wyd uitgevoer. Daar is taamlik baie van hulle in die VSA. Dit is nog te vroeg om kommentaar op die oorsaak van die ongeluk te lewer voordat ’n amptelike ongeluksverslag ontvang word.”

Hy het bygevoeg dit is hartseer dat die Kaap-tot-Kaïro-reis deur dié tragiese voorval geraak is.

Tanzanië se lugvaartowerheid het teen Sondagmiddag nog nie op navrae gereageer of ’n verklaring uitgereik nie.

Die Facebook-groep Aviation Tanzania het egter Saterdag foto’s van die wrak geplaas. Luidens die inskrywings het die vliegtuig (ZU-TAF) in die omgewing van Tabora in Sentraal-Tanzanië neergestort en is die lyke van die twee mans na die Kitete-hospitaal gebring.

Honderde boodskappe van medelye het op Facebook ingestroom.

Dèdrè Pieterse, ’n familievriendin, het Froneman en Werner as legendes beskryf.

Maureen Harbor sê Werner was ’n neef van haar. “Hy was so ’n inspirasie vir almal om hom. Hy was gaaf, altyd opgewek en ’n wonderlike ambassadeur vir Suid-Afrika.”

Jane Hay sê wanneer sy saam met Werner gevlieg het, het hy haar “altyd laat voel enigiets is moontlik”.

Werner laat ook ’n 21-jarige dogter, Cindy, agter.

Froneman laat sy vrou, Nadia, en twee kinders van jonger as vyf jaar agter.

Nadia Froneman kon nie vir kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.