Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kaap reg vir Sewes-toernooi

Sonskyn, vermaak, bier en rugby van vroegdag tot wanneer die son sak.

Dit is op die spyskaart hierdie naweek wanneer duisende rugbyondersteuners Saterdag en Sondag by die Kaapstad-stadion gaan toesak vir die HSBC Cape Town 7’s-toernooi.

“Kaartjies vir die byeenkoms het in rekordtyd uitverkoop,” sê De Jongh Borchardt, senior bestuurder van kommunikasie by SA Rugby.

Jurie Roux, SA Rugby se uitvoerende hoof, sê hulle is ook baie opgewonde met die ekstra kaartjies wat verkoop kon word. “Ons het noukeurig saam met die stadion-operateurs gewerk om bykomende sitplekke in te ruim weens die gewildheid van die toernooi,” sê Roux.

Ongeveer 115 000 mense word verwag.

Die gees by die Kaapstad-stadion is altyd ’n hoogtepunt vir toeskouers. Foto: Getty Images

Die Kaapse stadsraad waarsku motoriste egter dat paaie rondom die Kaapstad-stadion tydelik oor die naweek gesluit sal wees. Die paaie sluit in Vleistraat, Fritz Sonnenbergweg, Stephan Way- en Fort Wynyard-straat.

Mense word aangeraai om hul roete te beplan en waar moontlik openbare vervoer te gebruik.

Daar sal geen openbare parkeerplek by die stadion wees nie, maar daar sal wel parkeerplek in die sentrale dele van Kaapstad wees.

Ná 13:00 op ’n Saterdag en die hele Sondag is die openbare parkeerplek gratis. Betaalparkeerplek is ook beskikbaar by die V&A Waterfront.

Toeskouers kan die gratis MyCiti-pendelbussie gebruik na die stadion vanaf die burgersentrum tussen 08:00 en 22:15, of vanaf die Thibault-plein in Hans Strijdomlaan tussen 09:00 en 22:15. Toernooikaartjies moet getoon word. Vir alle ander MyCiti-dienste word ’n MyConnect-kaart benodig.

Volgens SA Rugby maak die hekke Saterdag omstreeks 09:00 oop en die eerste wedstryd skop om 10:15 af. Die laaste wedstryd is om 19:56 en eindig ongeveer 20:18. Hekke maak ook die Sondag om 09:00 oop met die eerste wedstryd wat om 10:36 begin. Die eindstryd word om 19:30 gespeel. Die trofee-oorhandigingseremonie begin ongeveer om 20:00.

Die Blitzbokke speel Saterdag 12:49 teen Rusland, 16:10 teen Frankryk en 19:56 teen Kenia.

Rugby is egter nie al waarna toeskouers kan uitsien nie. Verskeie kunstenaars, onder andere Paxton Fielies (Idols SA 2017-wenner), Black Tie Ensemble, George Avakian en Jimmy Nevis sal sorg vir vermaak.

Die Kiddies Village en Club V sal van 11:00 tot 19:00 op albei dae van die toernooi oop wees om die jonges besig te hou. Toegang is gratis vir alle kinders tussen die ouderdomme van twee en tien.

Op Sondag tussen 10:30 en 14:00 sal daar ’n winkel, Street Store, in Somersetweg langs die lekkerlooproete wees waar mense klere vir haweloses kan skenk.

SA Rugby verseker daar sal ’n verskeidenheid kos en drinkgoed wees, soos ’n Castle Lager-biertuin, Woolworths en ’n Nando’s. Daar sal ook OTM’e beskikbaar wees.

Geen kos of drinkgoed wat buite die stadion gekoop is, word binne die stadion toegelaat nie, waarsku SA Rugby. Water kan binne die stadion gekoop word.

Geen musiekinstrumente soos vuvuzelas word toegelaat nie en onwettige middels, vuurwerke, sambrele en vuurwapens is verbode.

Toeskouers kan sonnige weer die naweek verwag. Volgens die Suid-Afrikaanse weerdiens gaan Saterdag ’n maksimum van 25°C bereik en Sondag ’n maksimum van 27°C.

Vir alle noodgevalle by die HSBC Cape Town 7’s-toernooi, skakel die noodlyn by 021 430 7389.

Meer oor:  Sewes  |  Blitsbokke  |  Kaapstad Stadion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.