Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kaapse damvlakke daal skerp

Damvlakke oor groot dele van die Wes-Kaap het die afgelope week skerp gedaal, terwyl ’n hittegolf tot Donderdag kan duur en dit verder kan laat afneem.

Intussen het die provinsiale regering weer gewaarsku dat die nodige reënval in die komende seisoen dalk nie in alle streke gaan uitsak nie.

Die vlak van die Voëlvleidam tussen Gouda en Wellington het die afgelope week van 78,6% tot 76,8% gedaal en was verlede jaar dié tyd nog 80,1%. Dié foto van die dam wat aan Kaapstad voorsien, is Sondag geneem.Foto: Samuel Walters

Teen Maandag het die gemiddelde damvlak in die provinsie van 55,6% tot 53,9%, teenoor 51,2% dié tyd verlede jaar, gedaal.

Die gemiddelde vlak van Kaapstad se damstelsel het ook van 74,2% tot 72,6% afgeneem, terwyl dit in dieselfde tydperk verlede jaar op 62,6% gestaan het.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het in ’n verklaring gewaarsku dat voorlopige weervoorspellings steeds daarop dui dat sommige streke nie voldoende reënval gaan ontvang nie.

Hy het ’n beroep gedoen op die hele provinsie om water te bespaar. “Ons moet ons waterverbruik permanent verminder omdat dit ’n beperkte hulpbron is en die vraag aanhou groei.”

Die Karoo bly die grootste bron van kommer, met die gemiddelde vlak van die damme in die Gouritsrivier-opvangsgebied wat op slegs 15,5% staan, ondanks die reën wat die afgelope tyd daar uitgesak het.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.Foto: Verskaf

Die vlak van die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die Wes-Kaap, het die afgelope week van 65,7% tot 64,3% gedaal. Die dam was verlede jaar dié tyd nog 48,3% vol.

Die vlak van die Benede-Steenbrasdam het van 82,5% tot 79,8% afgeneem en die vlak van die Voëlvleidam van 78,6% tot 76,8%.

Verder het die vlak van die Bergrivierdam van 89,7% tot 87,8% gedaal en die vlak van die Wemmershoekdam van 79,4% tot 77,5%.

In die noordweste van die provinsie het Clanwilliamdam se vlak skerp gedaal van 60,7% tot 56,4%, terwyl dit verlede jaar dié tyd 63,6% was.

Aansienlike reënval het die voorafgaande sewe dae in sekere dele van die Karoo uitgesak en van die damme se vlakke het al begin styg.

Dit sluit in die Leeu-Gamkadam, waar die vlak van 0% tot 19,2% toegeneem het en waar 4,2 mm reën gemeet is. Die dam was dié tyd verlede jaar nog leeg.

By die Calitzdorpdam is 23,4 mm reën gemeet en die vlak het teen Maandag van 8,3% tot 8,4% gestyg.

By die Gamkadam naby Beaufort-Wes is 37 mm reën gemeet en die vlak staan op 18,2%, terwyl dit die ooreenstemmende tydperk verlede jaar leeg was.

Die Gamkapoortdam naby Prins Albert se vlak het ook van 0% tot 1,8% toegeneem, met 16 mm reën wat die voorafgaande sewe dae gemeet is. Dié dam was verlede jaar ook dolleeg.

By die Floriskraaldam naby Laingsburg is 8 mm reën gemeet en die vlak het effens van 10,5% tot 10,1% gedaal.

By die Oukloofdam naby Prins Albert is 12,4 mm reën ook gemeet en die vlak het op rondom 1,7% gebly.

Die Kammanassiedam naby Oudtshoorn se vlak het van 2% tot 1,9% gedaal, en 10 mm reën is gemeet, terwyl die vlak verlede jaar 3% was.

Die Stompdriftdam se vlak het op rondom 5,6% gebly en 5,8 mm reën is gemeet, terwyl die vlak verlede jaar op 4,6% gestaan het.

Die Miertjieskraaldam, suid van Ladismith, is steeds leeg. Dit was verlede jaar dié tyd slegs 1,4% vol.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Hittegolf  |  Damvlakke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.