Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kaapse drywer rus voor lang pad, toe tref petrolbom
Die nooddiens ER24 het Sondagoggend dié foto uitgestuur van ’n vragmotor wat op die N1 buite Touwsrivier aan die brand gesteek is. Foto: ER24

’n Kaapse vragmotorbestuurder wat Sondagoggend erg gewond is in ’n petrolbomaanval terwyl hy geslaap het, sterk tans aan in die waakeenheid in ’n hospitaal in Worcester.

Bernard Groenewald van Huddlestone Transport was teen die middag nog in ’n kritieke toestand in die Mediclinic Worcester ná hy op die N1 buite Touwsrivier aangeval is.

Bernard Groenewald
Bernard Groenewald Foto: Facebook

“Hy lyk regtig nie goed nie, maar ons glo dat hy dit gaan maak,” het Ciska, sy vrou, uit die hospitaal gesê.

Groenewald en Ciska se swaer het in twee vragmotors gery en sou na Johannesburg gereis het met vragte wat hulle in Saldanhabaai opgelaai het.

Hulle het aan die kant van die pad afgetrek om te rus voor die lang rit na Johannesburg en is toe om 01:00 aangeval terwyl hulle in hul voertuie geslaap het.

Volgens Ciska is die ruite van albei vragmotors uitgegooi en het die mans glo bottels gevul met ’n vlambare stof na die voertuie gegooi.

“My swaer kon darem wegtrek en het net ’n klein bietjie brandskade gely. Hy het gebel en gevra dat ons dringend die polisie ontbied.”

Groenewald het glo gedurende die aanval uit sy vragmotor geklim en is deur onbekende mans agternagesit en met nog ’n petrolbom gegooi. Hy het brandwonde oor ’n groot deel van sy lyf opgedoen en sy enkel is gebreek.

“Hulle het later weggehardloop, lyk dit my, en wou net moeilikheid maak. Daar is nie aan die vrag gekrap nie, so hulle wou nie steel nie.”

Ciska en Bernard Groenewald van Huddlestone Transport in die Paarl. Foto: Facebook

Die Groenewalds woon in die Paarl en bedryf Huddlestone Transport saam.

Sy sê sy ry dikwels saam met haar man in die vragmotor en het per toeval nie dié keer saamgegaan nie.

Die polisie het die oggend bevestig dat ’n saak van poging tot moord en kwaadwillige saakbeskadiging ondersoek word.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Volgens Ciska het haar man juis by Touwsrivier se kant gestop omdat daar gewoonlik nie aanvalle op vragmotors is, soos byvoorbeeld by die De Doorns die geval is nie.

“Die aanvalle raak nou regtig erg en dit moet onder mense se aandag gebring word, nes die plaasmoorde. Die vragmotors moet kan ry om die kos van die boere af oor die land heen af te lewer.”

vragmotor, aanvalle
Meer oor:  Bernard Groenewald  |  Touwsrivier  |  Vragmotor  |  Aanval  |  Petrolbom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.