Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kaapse fietsren se drie tragedies

Twee mans van Mbombela (Nelspruit) en ’n voormalige Zimbabwiese boer is die naweek in die Kaapstad-fietsren dood.

Ulrich Arrenbrecht (41), ’n vlieënier van die Mango-lugdiens wat onlangs met sy jong gesin na Kaapstad verhuis het, is dood nadat hy op die M3 naby Constantia teen ander ryers gebots en geval het.

Ulrich ArrenbrechtFoto:

Ian Garden (69), ook van Mbombela, is naby Smitswinkelbaai dood verklaar nadat hy ’n hartaanval gekry het.

Jeremy Glover (71), wat as roetebeampte diens by die ren gedoen het, is dood nadat ’n fietsryer tussen Llandudno en die Twaalf Apostels-hotel in hom vasgery het.

Des Warden, ’n vriend en oudkollega van Arrenbrecht, het gesê die ongeluk het kort ná die wegspring gebeur, “voordat die massa fietsryers begin uitdun het”.

“Almal het nog ’n hoë spoed gehandhaaf en een ou het beheer verloor. Dit het gesneeubal en in ’n spul ongelukke ontaard.”

Ruby Arrenbrecht het gistermiddag gesê haar man het die ­lewe gelééf.

Jeremy Glover Foto:

Hulle het mekaar in 2010 by ’n wedstryd in die Wêreldbeker-sokkertoernooi ontmoet.

Sy het gesê Ulrich, die pa van hul tweejarige seuntjie en pasgebore babadogtertjie, was ’n passievolle vlieënier.

“Ons het graag gereis. Van my beste herinneringe is ons reise na Indië, Viëtnam, Mosambiek, Namibië, die Kalahari, Oostenryk, die Mafia-eiland in Tanzanië, Australië en die Krugerwildtuin – waaroor hy mal was,” sê sy.

Hulle het op ’n reis na Buenos Aires verloof geraak.

“Ulrich het ten volle liefgehad en sy lag was aansteeklik – dit het ’n hele kamer opgehelder. Hy was die menslikste en barmhartigste mens wat ek geken het.”

Ian Garden

Garden was “almal se kits- beste vriend”, sê eerw. Allan Booth van die Nelspruitse Metodistekerk, waaruit Garden Vrydag begrawe sal word.

“Ian het nou net meer as 100 bome by die Nelspruit-gholfklub geplant en het na die gholfbaan omgesien,” sê Booth.

Tombie Pappas, ’n vriendin, sê Garden het sowat 18 maande gelede ’n hartvatomleiding ondergaan, maar sy dood was ’n skok omdat hy so ’n fikse mens was.

“Ian was baie sportief en het aan padwedlope deelgeneem voordat hy begin fietsry het,” sê sy. “Hy was ’n fantastiese, familievaste man en ’n absolute gentleman. Sy dood is ’n absolute tragedie.”

Glover was voorheen in die Britse leër en het saam met sy vrou ’n wildplaas in Zimbabwe bedryf.

Daar is op die plaas beslag gelê en hulle het alles verloor. Sy vrou is sowat ses jaar gelede aan kanker dood.

Hy sou later vanjaar as president van die Helderbergse Sun­rise-rotariërklub bevestig word. Die Rotariërs het van die punte langs die roete beman.

Glover is na die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal gehaas. Sy breinskade was egter so erg dat hy laatmiddag dood is.

Brian de Villiers, een van dié vrywilligers, sê hy het vroeër op die plek gestaan waar Glover getref is. Glover het van ’n koffiepouse teruggekeer en met hom plekke omgeruil.

’n Fietsryer, glo ’n dokter van Constantia, het Glover getref. Hy het die teer kop eerste getref en erg begin bloei.

Dr. Kirsten Peacy, ook ’n Rotariër, het die bloeding met handdoeke probeer stop. Glover se ribbes het ook deur sy longe gesteek. Hy het blykbaar bloedverdunners gebruik wat die bloeding sou vererger het.

Glover is na die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal gehaas. Sy breinskade was egter so erg dat hy laatmiddag dood is.

Die fietsryer wat in hom vasgery het, was aanvanklik bewusteloos, maar kon later self in ’n ambulans klim.

Glover word deur twee volwasse seuns in Engeland oorleef.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.