Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kaapse kobra oornag in badkamer
Magna Smit
Magna Smit en Henry Cumpsty. Foto: Verskaf

’n Kaapse kobra wat homself om ’n gordynreling gedrapeer het in die badkamer van ’n huis op ’n plaas in die Paarl en daar oornag het, is Maandagoggend deur ’n slangvanger verwyder.

Magna Smit van die plaas Hou Moed vertel Sondag omstreeks 14:00 het iets in die badkamer geval. Die slang het deur ’n venster gekom. Toe ’n borseltjie van die bad se rand afval, het haar man, Bernard, gaan kyk en besef dis ’n slang. “Hy het die deur net so toegemaak en ’n nota met die woorde ‘oppas’ vir my op die deur gelos,” sê sy.

Die Kaapse kobra om die gordynreling gedrapeer. Foto: Verskaf

Die slang het homself om die gordyn gedrapeer. “Daar het hy vir ure gelê. Ek het selfs op die bad se rand geklim en foto’s geneem. Hy was nie aggressief nie,” sê sy. Omstreeks 19:00 het sy gaan kyk of die slang nie dalk weer by die venster uit is nie. Die slang het toe in ’n asdrommetjie, die tipe wat ’n mens ooptrap, gelê. “Ek het die deksel oopgemaak en gesien daar kyk hy vir my,” sê Smit.

Omdat die slang nie ’n gevaar vir hulle was nie, sê Smit het hulle hom die nag in die badkamer gelos totdat ’n slangvanger, Henry Cumpsty, Maandagoggend die slang verwyder het. “Toe Henry hom vang, het hy tipies kobra so ’n wye kop gehad,” sê sy.

Volgens Smit was sy nie bang vir die slang nie omdat sy die plaaslewe ken.

Cumpsty, wat gereeld slange in die Paarl en omgewing vang, sê dat hy nou weekliks uitgeroep word om veral geelslange in die omgewing te vang. Hulle is op soek na water en kos, en omdat hulle territoriaal is, word hulle baie keer deur ander uit ’n omgewing weggedryf.

Henry Cumpsty, ’n slangvanger, Maandagoggend met die Kaapse kobra. Foto: Verskaf

Johan Marais, slangkenner van die Snake Bite Institute, sê die voorkoms van (geel)slange in die gebied is heel normaal. “Dis ’n natuurlike verskynsel. Elke nou en dan is daar weersomstandighede soos reën, vog of hitte wat ’n rol speel.”

Ook in die Worcester-gebied blyk slange tans volop te wees. André du Preez van Silverfox Snake Rescue sê hy het reeds van September tot nou 141 slange gevang, soos kobras en boomslange. Vrydag het hy by die De Wet-kelder ’n Kaapse kobra verwyder wat in ’n parsbak vol druiwe beland het.

Meer oor:  Paarl  |  Slangvanger  |  Kobra  |  Plaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.