Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kaapstad loop deur onder oorstromings

Die Hugenote-tonnel was Donderdagmiddag vir verkeer gesluit ná ’n kragonderbreking terwyl swaar reën oor die hele Kaapse metropool uitgesak het.

Só het dit Donderdagoggend voor ’n skool in Melkbosstrand gelyk. Foto: Mauricette Smith/Facebook

Paaie was sedert vroeg die oggend oorstroom, dakke het by ’n onderneming afgewaai en bome is ontwortel.

Niemand is tot dusver dood nie.

Charlotte Powell, woordvoerder van die Kaapstadse rampbestuursentrum, het Donderdagoggend gesê oorstromings is aangemeld in die volgende informele nedersettings: BM Section, Green Point, Town 2 en Taiwan in Khayelitsha en die Masicindane- informele nedersetting in Strandfontein. Die wind het dakke afgeruk in Asanda Village in die Strand.

“ ’n Paar paaie in die metropool is oorstroom. Rampbestuurbeamptes assesseer die situasie en die paaie word deur die paaie- en stormwaterafdeling skoongemaak.”

Teen 15:30 het sy gesê oorstromings is aangemeld in informele nedersettings in Khayelitsha, Langa, die Strand, Strandfontein, Philippi, Kensington en Atlantis.

In dié stadium is sowat 500 strukture geraak.

Noodbeskutting is nog nie beskikbaar gestel nie. Die afdeling vir informele nedersettings assesseer die situasie en deel kospakkies uit, sê Wayne Dyason, woordvoerder van Kaapstad se wetstoepassingsafdeling.

Daar is ook kragonderbrekings in Bridgetown, Athlone.

“Tegnici is besig om die krag te herstel. Talle bome is ontwortel in Kenilworth, Parow Industria en Goodwood en dit geniet aandag, sowel as paaie binne die metropool wat oorstroom is.”

Melkbosstrand het deurgeloop onder oorstromings. Foto: Mauricette Smith/Facebook

Die reën het tot dusver geen noemenswaardige impak op verkeer in die stad gehad nie. Maxine Bezuidenhout, woordvoerder van die Kaapse verkeersdienste, sê motoriste bring hul kant. “Hulle bestuur met hul hoofligte aan. Daar is op die oomblik geen groot voorvalle op ons paaie nie.”

Voorlopige syfers dui daarop dat die kouefront broodnodige reënval bring vir die stad, wat steeds gebuk gaan onder ’n droogte.

Volgens Kate Turner van die Kaapse Weerkantoor het grootskaalse reën sedert Donderdagoggend in belangrike opvangsgebiede van die Kaapse damme geval.

Donderdagoggend is die volgende neerslae gemeet (die lesings is tussen 08:00 en 09:00 geneem en weerspieël net die voorafgaande twee uur se reënval, sê Turner):

  • Saldanha 25 mm;
  • Villiersdorp 17,8 mm;
  • Franschhoek 16 mm;
  • Bellville 16,2 mm;
  • Slangkop (Kommetjie) 16 mm;
  • Kaappunt 9,8 mm;
  • Kenilworth 11,2 mm;
  • Mitchells Plain 11,6 mm.

Edward Engelbrecht, ’n weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê sedert Mei was daar meer kouefronte in die Wes-Kaap as in die ooreenstemmende tydperk in 2017, en hulle beweeg ook effens verder noord in.

“Ons verwag effens hoër as normale reënval dié winter, maar dit beteken nie dat dit die droogte sal breek nie.”

Meer oor:  Charlotte Powell  |  Kaapstad  |  Oorstromings  |  Kragonderbreking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.