Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kaapstad-treinspoor vir R1,4 mjd. reggeruk
Fikile Mbalula (regs), minister van vervoer, saam met die Wes-Kaapse LUR vir vervoer, Bonginkosi Madikizela (links), en die Prasa-administrateur, Bongisizwe Mpondo. Foto: Twitter

Kaapstad se besige sentrale spoorlyn gaan ’n massiewe finansiële hupstoot van R1,4 miljard kry om die lyn wat reeds maande lank opgeskort is te herstel, sê Fikile Mbalula, minister van vervoer.

Met die enorme bedrag wat begroot word, sal probeer word om die Kaapse spoornetwerk weer op dreef te kry en weer ’n diens te verskaf vir die derduisende pendelaars wat sedert verlede jaar gestrand is.

Mbalula het Donderdag saam met Dikeledi Magadzi, sy adjunk, Bonginkosi Madikizela, die Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke, en Bongisizwe Mpondo, administrateur van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), die trein van Kaapstad na Langa gehaal.

Mbalula het Prasa se swak administrasie blameer vir die patetiese toestand waarin die spoordienste in Kaapstad homself bevind.

Die sentrale lyn, wat tussen die Kaapstad-stasie en Khayelitsha- en Mitchells Plain-stasie via Langa en Bonteheuwel loop, is sedert November verlede jaar reeds opgeskort omdat die infrastruktuur gevandaliseer is.

Prasa-beamptes wys vir die minister van vervoer, Fikile Mbalula (met die blou pet), hoe gemeenskappe reg langs die spoorlyn bly. Foto: Twitter

As deel van die plan om vandalisme te voorkom, het die departement die groen lig gegee vir die bou van ’n 4 meter hoë betonversperring langs die spoorlyn wat ook die installering van veiligheidskameras sal insluit.

Mbalula sê daar sal stadig maar seker ’n herinstellingsfase van die treindiens op die sentrale lyn wees wat daagliks pendelaars van Langa, Mitchells Plain en Khayelitsha vervoer.

Hy sê die herstelplan sal na verwagting sowat R1,4 miljard kos en sal in fases gedoen word.

“Van Julie af sal busse gebruik word om pendelaars op die sentrale lyn te vervoer as ’n tussentydse oplossing vir openbare vervoer in die geraakte gebiede.”

Mbalula sê teen September sal daar daagliks elke 30 minute treine op dié lyn beskikbaar wees en ’n volle diens sal na verwagting teen April volgende jaar gelewer word met 232 treinreise per dag.

Hy het ook ’n beroep op gemeenskappe gedoen wat langs die spoorlyne bly om te verseker dat hul kinders en diere van die spoorlyne af wegbly.

Mbalula sê van die inwoners het hul plakkershutte reg langs die spoor gebou, wat die treindiens verder belemmer.

“Daar sal voortdurend met gemeenskappe vergader word om hul informele strukture op gevaarlike plekke te verwyder.”

Volgens Mbalula het die mense hiermee saamgestem en beloof om tydens die verskuiwing met owerhede saam te werk.

Mbalula het getwiet dat die regering die frustrasies van pendelaars, wat nou sonder ’n treindiens op die sentrale lyn sit, verstaan.

“Ons verstaan dat pendelaars nou meer moet betaal vir vervoer en twee of meer vervoermiddele moet gebruik om by hul bestemming uit te kom. Ons werk saam met die owerhede. Ons wil die geld terugkry en mens moet in hegtenis geneem word."


Mpondo, die Prasa-administrateur, het beloof dat ’n vloot van 80 busse in die tussentyd gebruik sal word terwyl Prasa die groot herstelwerk aan infrastruktuur aanpak. Die busse sal tussen stasies ry en passasiers per uur bedien.

Hy het benadruk dat hierdie busse nog nie verseker is nie en aangeskaf sal word sodra die departement van vervoer en die nasionale tesourie goedkeuring gee.

Madikizela het verligting uitgespreek dat planne in plek is om die sentrale lyn weer op die been te bring en het pendelaars versoek om geduldig te wees.

Madikizela sê sowat 220 000 treinpendelaars is gestrand gelaat toe die treindiens verlede jaar gestop is en hulle nou alternatiewe vervoer moet gebruik.

“Prasa het onthul dat hulle oor die volgende ses maande met die rehabilitasie van infrastruktuur sal begin en dat dit betonmure van vier meter hoog sal insluit. Ek is baie tevrede met die vordering wat tot dusver gemaak is. Dit is ’n duidelike aanduiding wat die regering kan bereik as ons ons verskille opsysit.”

Meer oor:  Fikile Mbalula  |  Transnet  |  Trein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.