Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kaas op Duitse manier in hartjie van VS gemaak
Martin Rost se kase is vir hom soos sy kinders. Hy glo dat ’n mens hulle daagliks moet koester en was, anders kan die proses versteur word. Foto: Conrad Bornman

’n Betowerende mengsel van wetenskap en kuns.

Dit is wat die St. Dairy-produkte van Martin Rost, meesterkaas- en -jogurtmaker, so weergaloos maak.

Dié Bloemfonteiner wat in Duitsland gebore en getoë is, maak in die hartjie van die Vrystaat kaas en jogurt op die Duitse manier: Alles natuurlik.

“Dit is nogal baie uitdagend, want die klimaat hier is nie regtig geskik om dié soort kaas te maak nie,” sê Rost terwyl hy oor sy kaas vryf.

Die kase en jogurt wat hy self in ’n lokaal by die Universiteit van die Vrystaat (UV) maak, bevat geen preserveermiddels, kleurstowwe, kunsmatige bymiddels of gelatien nie en is laktosevry. “Dit is alles baie natuurlik en baie gesond. Dit voed jou liggaam met die stowwe wat nodig is.”

Hoewel daar geen preserveermiddels in is nie, kan sy produkte vir tot ses weke lank geberg word.

“Dit is omdat ek baie skoon werk. Ek ontsmet gedurig al die toerusting en maak seker dat my hande en houers waarin dit gebêre word, gereeld behoorlik skoongemaak word.”

Rost doen alles self en glo omdat sy produkte handgemaak is, is dit meer uniek.

“Ek het ’n baie noue band met die produkte wat ek maak. Ek glo dat jy nie kaas moet maak wanneer jy stres nie, want dit kan aan die melk oorgedra word.”

Op vanjaar se Bloemskou het hy skoonskip gemaak. Hy het eerste, tweede en derde plekke in die afdeling vir vier maande oue kase, vyf weke oue kase, jogurt, dubbelroomjogurt en Quark (’n Duitse verfynde vars kaas) behaal.

“Dit wys hoe goed die kwaliteit van my suiwelprodukte is.”

Rost, wat vroeg in die 50 is, het sy meestersgraad in suiweltegnologie aan die Universiteit van Hohenheim in Stuttgart, Duitsland, verwerf.

In 1981 het hy kaas begin maak en saam met verskeie Duitse kaasmakers gewerk. Vandaar sy groot passie vir suiwel.

In 2014 het dit hom sewe maande geneem om die lokaal by die UV in te rig sodat hy self sy eie kaas en jogurt hier kan maak.

“Ek is baie passievol oor suiwelprodukte. Daarom is dit vir my belangrik om my kennis met studente te deel.”

Kelly Brouwer, ’n student besig met haar honneursgraad in voedselwetenskap, sê dit is ’n voorreg om by hom te leer.

“Ek doen my prakties by hom en dis ongelooflik om by hom te leer. ’n Mens kan sien hy is baie passievol oor wat hy doen,” sê sy.

Oor of Suid-Afrikaners gereed is vir St. Dairy, is Rost baie positief.

“Mense in Duitsland ry tot 60 km om soortgelyke produkte te koop. Daarom glo ek dis belangrik om die verbruiker in te lig en redes te gee waarom ’n mens natuurliker produkte moet eet.”

  • Vir meer inligting oor St. Dairy, gaan na www.stdairy.co.za/site/.

Meer oor:  Vrystaat  |  Kaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.