Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kabeldiefstal en vandalisme kos R200 miljoen

Kabeldiefstal en vandalisme by kragstasies en substasies kos Eskom jaarliks ’n beraamde R200 miljoen en is een van die hoofredes vir kragonderbrekings in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaapse bedryfseenhede, sê Eskom.

“Gedurende April 2018 tot Maart 2019 het Eskom 1 091 misdaadvoorvalle in verskillende dele van Gauteng aangeteken,” sê Dikatso Mothae, Eskom-woordvoerder.

“Onwettige verbindings, gepeuter met kragmeters en infrastruktuurmisdade is algemeen in dele soos Klipspruit, Ivory Park, Orange Farm en Winterveldt. Onwettige verbindings oorlaai die stelsels en veroorsaak kragonderbrekings en uitskakelings.”

Kabeldiefstal

Gauteng en die Wes-Kaap staan aan die voorpunt van kabeldiefstal van ondergrondse en oorhoofse kabels.

In die Johannesburg-metro is daar tussen 2017 en 2018 ongeveer 1 644 voorvalle van kabeldiefstal en vandalisme aangeteken, wat City Power, die stad se kragverskaffer, omtrent R13 miljoen gekos het. Daar was sedertdien ’n toename in die misdrywe met 1 865 aangemelde gevalle in die 2018-'19-boekjaar, wat die stad ’n verdere R18 miljoen uit die sak gejaag het.

“Dis vir ons kommerwekkend, want as City Power is dit geld wat ons kan gebruik om die netwerk te stabiliseer en ons dienste aan die inwoners in die metro te verbeter,” sê Isaac Mangena, City Power-woordvoerder.

Gauteng en die Wes-Kaap staan aan die voorpunt van kabeldiefstal van ondergrondse en oorhoofse kabels.

Hy sê dié syfer sluit nog nie die herstelkoste en die algehele ekonomiese verlies van miljoene in nie.

Volgens Mangena ondersoek die polisie elke saak.

Hy sê die metro is besig om ’n geïntegreerde veiligheidsplan in vennootskap met gemeenskappe en die Non Ferrous Metal Crime Combating Committee te finaliseer om hierdie misdrywe te probeer voorkom.

Een van die dinge wat City Power wil doen om kabeldiefstal in die bek te ruk, is om oorhoofse gebondelde kabels (ABC) regoor die metro te installeer.

Kabels van aluminium

“Die ABC-kabel is van aluminium gemaak en dien geen waarde vir kabeldiewe nie, behalwe vir hergebruik in onwettige verbindings. ABC is ook nie maklik om te sny nie, want dit het ’n staalkern.”

Mark Wilson, hoof van die Ekurhuleni-metro se energiedepartement, het vroeër gesê daar word tenders gekry vir nuwe tegnologie om die metro’s te help om die diefstal te voorkom, asook nuwe sagteware wat onwettige omleidings van elektrisiteitsmeters wil hok slaan.

Die ABC-kabel is van aluminium gemaak en dien geen waarde vir kabeldiewe nie, behalwe vir hergebruik in onwettige verbindings.

Volgens Themba Radebe, woordvoerder van die Ekurhuleni-metro, het hulle vier sake vir die gepeuter van kragmeters in die hof in Palmridge en twee in die hof in Vosloosrus.

Eskom het by navraag gesê die kragreus werk saam met die polisie, Gautengse metropolisie en instellings soos Telkom, Transnet, Prasa, die departement van minerale hulpbronne en Gauteng se rampbestuursentrum om die betrokke misdade te voorkom.

“Tog sal Eskom ’n verbetering wil sien in die suksesvolle vervolgings van oortreders,” aldus Eskom.

Die Tshwane-metro het nie betyds op navrae gereageer nie.

Die vervolging van kabeldiewe

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner, sê waar kabeldiefstal vroeër ingevolge die gemenereg bestraf is, is die Strafproseswet in 2015 gewysig om sekere optredes as statutêre misdaad te verklaar. Dit beteken dat die implikasie van ’n misdaad, soos in die geval van kabeldiefstal, baie meer verreikend is as net die blote diefstal en uiteindelik ’n nasionale impak kan hê.

Volgens Curlewis het die wetgewer ’n minimum vonnis van 30 jaar vasgestel vir enige persoon wat aan kabeldiefstal skuldig is, of ’n boete van minstens R100 miljoen vir ’n maatskappy wat hulle daaraan skuldig maak. Die vonnisse is onderhewig aan die regters se diskresie, maar is steeds ’n veel swaarder vonnis as wat in ’n gemeenregtelike diefstal opgelê word.

Meld kragverwante misdaad hier aan
  • Twiet @CrimeLineZA of @SAPoliceService of bel Eskom by 0860 03 75 66/0800 11 27 22 of stuur ’n SMS na 35328 of ’n e-pos na customerservices@eskom.co.za.
  • Johannesburgers kan die City Power-beheerkamer by 011 490 7900/11 of by die tolvrye nommer 0800 00 32 51 bel.

    Meer oor:  Vandalisme  |  Kabeldiefstal  |  Eskom
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.