Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kalahari-tragedie: Net sand en as oor ná gru-nag
'n Gebrande stuk hout steek by die sand uit – ’n stille herinnering aan die tragedie van Blinkwater Desert Manor Place-lodge wat hier afgebrand het. Foto: Anena Burger

Die wilde noordewind het die vrolike kinderspoortjies op die rooi duine van Blinkwater vertroostend en met reëntrane uit die hemel weggevee.

’n Paar verkoolde stukkies hout wat plek-plek uit die sand steek en ’n hopie puin is al wat van die brandtragedie in die vroeë oggendure van 16 Augustus in die Kalahari herinner.

In die stilte waarin net die wind oor die vlaktes deur die boesmangras ritsel, kan die fluisteringe van kindergelag nog verbeel word.

By Blinkwater se hek aan die voet van die naambord staan drie spoelklippe, met die Davin-, Carstens- en Bauer-gesinne se vanne en kruise daarop geverf, versigtig gestapel.

Die verbrande oorblyfsels van die Blinkwater Desert Manor Place-lodge is toegestoot. Foto: Anena Burger

Dit is drie en ’n half maande sedert die Blinkwater Desert Manor Place-lodge omstreeks 01:20 daardie noodlottige Sondagoggend in ligte laaie gestaan het.

Binne minute is die lewe van die drie gelukkige jong gesinne verwoes.

Agt mense, waaronder vyf kinders, is op die toneel dood, en twee later in die hospitaal.

Net Wilmien Davin (37) en haar 15 maande oue seuntjie en Madelein Bauer (36) het die brand oorleef.

Madelein se man, Stefan (39), hul jongste dogter, Elré (3) en vermoedelik ook hul oudste, Inge (6), is in die brand dood. Inge se oorskot is nooit gevind nie.

Wilmien se man, Frans (36), en hul kinders, Frans (5) en Iza (3), het ook in die brand omgekom.

’n Hopie puin is al wat oor is van die Blinkwater Desert Manor Place-lodge wat op 16 Augustus in vlamme opgegaan en die lewe van drie gesinne verwoes het. Foto: Anena Burger

Die hele Carstens-gesin, Dané (32), Hendri (38), Pierre-Johan (5) en Magiel (3) is in die brand dood.

Wat net ’n luilekker vakansie ver in die ou Kalahari moes gewees het, het in ’n nagmerrie verander.

Dit is steeds onseker hoe die brand ontstaan het.

So intens was die vlammehel dat skaars iets oorgebly het vir die polisie se gespesialiseerde forensiese kundiges en antropoloë om te bepaal wat die brand veroorsaak het.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die ter plaatse ondersoek is afgehandel, maar die ontleding van die materiaal wat uit die puin ingesamel is, gaan voort.

Die seil op die dam, wat 'n ent weg van die lodge gestaan het, het weens die hitte van die vlamme gesmelt. Foto: Anena Burger

“Dit kan nog baie lank duur. Daar kan nie ’n tyd aan gekoppel word nie aangesien die aard van die ondersoek in dié geval geweldig ingewikkeld is.”

Intussen is die puin van die afgebrande lodge op die duin toegestoot.

Letsels van die tragedie is nog hier en daar te sien, soos die stuk gesmelte seil wat gespan was oor die dam wat ’n ent weg van die lodge gestaan het.

Ook die braaiplek wat nie in die brand verwoes is nie, is verwyder.

’n Verdorde bossie fynbosblomme lê neffens die klipstapel by die hek, waar dit met meegevoel en eerbied neergesit is.

En soos jy deur die sand van die hartseer af wegbeur, gryp en klou die haakbostakke soos seer herinneringe aan jou klere asof om te sê: “Vergeet hul nie. Nooit nie.”

* Burger het oor die brandtragedie berig. Dit was haar eerste besoek sedertdien aan die toneel van die tragedie.

Meer oor:  Wilmien Davin  |  Kalahari-Tragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.