Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kalf dood van kameelperd wat ma en kind trap

Die twee maande oue kalf van die kameelperdkoei wat ’n Amerikaanse vrou en haar seuntjie twee weke gelede buite Hoedspruit in Limpopo getrap het, is Dinsdagoggend dood.

Kameelperde in Blyde Wildlife Estate buite Hoedspruit in Limpopo. Foto: Verskaf

Die kleintjie is dood toe werknemers van die Blyde Wildlife Estate haar en haar ma na ’n ander wildplaas geskuif het.

Riaan Cilliers, bestuurder van die landgoed, sê alle voorkomende maatreëls was getref vir die verskuiwing en die ma is sonder enige probleme geskuif.

“Ons is almal baie hartseer oor die kalf se dood.”

Dit is nog nie duidelik wat die presiese oorsaak van die kalf se dood is nie. Veeartse help ook om die oorsaak van die kalf se dood te probeer vasstel.

Cilliers sê die einste kameelperdkoei het twee weke gelede vermoedelik haar kalf probeer beskerm toe sy dr. Katy Williams (35) en haar seuntjie, Finn (3), getrap het.

Hulle was buite hul blyplek op die luukse wildlandgoed toe die kameelperdkoei hulle teen skemer bestorm en getrap het. Verskeie wildsoorte loop vrylik tussen die huise op die landgoed rond.

Ons is almal baie hartseer oor die kalf se dood.

Katy en Finn is steeds in die Busamed Modderfontein-hospitaal in Johannesburg.

Weens beserings aan haar kakebeen kan Katy nog nie praat nie. ’n Span het haar etlike ure lank ná die voorval geopereer.

Sy kommunikeer deur te skryf en het haar man, dr. Sam Williams (36), gevra om almal te bedank wat die gesin ondersteun.

Drs. Sam en Katy Williams en hul seuntjie, Finn (3). Foto: Verskaf

Die omvang van Finn se beserings is nog nie bepaal nie. Hy haal op sy eie asem en sy verdowing word stelselmatig verminder.

Hy moes kort ná die voorval ’n breinoperasie ondergaan het om drukking op sy brein te verlig.

Die Williams-egpaar is post-doktorale navorsingsgenote in natuurbewaring en woon al ’n geruime tyd in Suid-Afrika.

Marina Botha, ’n prokureur en die gesin se woordvoerder, kon nie sê of die egpaar al oor die kameelperdkalf se dood ingelig is nie. Sy het gesê hulle is baie lief vir die natuur en wy hul lewe daaraan.

“Wat gebeur het, is ’n absolute tragedie,” sê sy.

Meer oor:  Dr. Katy Williams  |  Limpopo  |  Hoedspruit  |  Kameelperd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.