Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kameras hou ook nou ’n oog oor Kaap se ‘diep suide’

Die laaste werk aan die installering van kringtelevisiekameras in die Kaapse metro se gebiede in die “diep suide” is afgehandel.

Die metro sê in ’n verklaring gebiede soos Ocean View, Vishoek, Masiphumelele en Simonstad moes jare sonder die kameras klaarkom omdat Steenberg, waaroor Ou Kaapse-weg loop, die sein na die metropolisie se beheersentrum aan die ander kant van die skiereiland geblokkeer het.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit (regs), sit in die beheersentrum en kyk na beeldmateriaal van die kringtelevisiekameras wat in gebiede soos Ocean View opgeneem is. Foto: Verskaf

Om die probleem te oorkom is besluit om ’n plaaslike beheersentrum op die been te bring van waar die kameras gemonitor en hulp gestuur kan word.

Ná konsultasie met die plaaslike polisie oor die beste liggings is daar in Maart 2019 met die installering van vyf kameras in Ocean View begin. Dit is teen ’n koste van R900 000 voltooi.

’n Paar maande later het lede van die buurtwag opleiding ontvang oor hoe om die beeldmateriaal in die beheerkamer te moniteer. Ná die opknapping van die sentrum kan daar nou met behulp van die tegnologie ’n beter oog oor die gebied gehou word.

Die sentrum kan tans nie 24 uur per dag beman word nie, maar planne word gemaak om hulp-wetstoepassingslede op te lei om dit moontlik te maak. Daar is ook planne om nog twee kameras in Ocean View aan te bring.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê dit is ’n begin, en sal die werk van die buurtwag en van die wetstoepassingsagentskappe van die Kaapse metro vergemaklik wanneer die gebied gepatrolleer word.

“Die kameras maak voortdurend opnames, en wanneer ’n misdaad gepleeg word, sal die polisie vir ondersoekdoeleindes toegang tot die beeldmateriaal kry.”

Daar is ’n moontlikheid dat kameras ook in ander dele in die suide aangebring gaan word, en beeldmateriaal na die beheersentrum of na plaaslike sentrums gestuur kan word totdat die tegnologie toelaat dat die beeldmateriaal regstreeks na die metro-polisie se sentrums gestuur kan word, of daar finansiering is om ’n ten volle toegeruste sentrum op die been te bring, sê Smith.

Die kameras het sedert November ’n aantal voorvalle opgeneem, waarna opgetree kon word. Dit sluit in betreding, dwelmhandel, roof, ’n skietvoorval en bou-rommel wat aan die brand gesteek is.

Twee speurders het ook die sentrum besoek om beeldmateriaal te kry in ondersoeke wat met ’n poging tot moord en moord verband hou.

Meer oor:  Jp Smith  |  Vishoek  |  Simonstad  |  Ocean View
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.