Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Kampeerders in Lambertsbaai gevra om te gaan

Kampeerders wat nog die laaste bietjie van hul vakansie in die Lambertsbaai-kampterrein wou geniet, is Maandagaand, nog voordat pres. Cyril Ramaphosa sy aankondiging van die nuwe inperkingsregulasies afgesluit het, gevra om die terrein te verlaat.

“Hy was nog nie eens klaar gepraat nie, toe kom die oordbestuurder met ’n luidspreker en sê ons word versoek om teen die volgende dag 16:00 uit te wees,” sê Irene Matthee, ’n kampeerder.

“Die volgende dag was daar so 30 van ons wat geweier het om te gaan omdat Ramaphosa niks gesê het van kampterreine wat gesluit word nie.”

Daar was later net so tien staanplekke wat beset was. Matthee en haar peetkind, Christo Crafford, en sy gesin was van hulle.

“Van die beamptes het ons later gedreig en gesê hulle gaan die water en elektrisiteit afsit sodat ons nie langer kan bly nie, al wil ons,” sê sy.

Die munisipaliteit het die volgende dag in ’n brief aan kampeerders gesê: “Dit was ’n moeilike besluit, maar ’n noodsaaklike besluit om te verseker dat ons geen kanse met mense se lewens waag nie. Ons besef dat dié besluit ongerief mag veroorsaak en u vakansieplanne kan omverwerp.”

Anthony Mlata, woordvoerder vir die munisipaliteit, het Vrydag aan Netwerk24 gesê die meeste kampeerders het gehoor gegee aan instruksies om die terrein te verlaat, maar daar was enkeles wat gesê het hulle sal slegs oppak as hulle ’n uitsettingsbevel kry.

’n Groot groep beamptes, onder wie wetstoepassingsbeamptes, konfronteer Irene Matthee voor haar kampplek in die Lambertsbaai-woonwapark. Foto: Skermgreep

’n Video op sosiale media wys hoe ’n groot groep beamptes, onder wie wetstoepassers, Matthee en haar familie aansê om teen Woensdag om 9:00 uit te wees.

Matthee sê volgens regsadvies het sy hulle gevra om ’n uitsettingsbevel te bring, anders gaan sy nêrens heen nie. ’n Video van dié gesprek is wyd op sosiale media versprei en is meer as 60 000 keer gekyk.

Intussen het van die ander kampeerders wat wou aanbly, ’n prokureursbrief aan die munisipaliteit laat skryf waarin hulle aanvoer dit is onwettig om kampeerders te dwing om uit te trek.

Mlata sê hy weet van die brief, maar wou nie daarop kommentaar lewer nie.

Matthee sê sy en haar gesin, asook Crafford en sy gesin en nog familielede op ’n derde kampplek, het Donderdag opgepak en huis toe gery.

“Die omstandighede was net so sleg,” sê Crafford.

“Dit was onsmaaklik en onplesierig. Ek sal nie weer daar gaan uitkamp nie. Die mense op die dorp en selfs die personeel in die kampterrein was wel uiters vriendelik en behulpsaam.”

Matthee sê sy sal weer in Lambertsbaai gaan kampeer, want ondanks die konfrontasie met die munisipale werkers het sy ’n heerlike tyd op die dorp gehad.

Ons tree proaktief op om te verseker dat ons niemand se lewe in gevaar stel nie en voldoen aan wetlike vereistes.

Die kampeerterrein is na verneem word nou dolleeg.

“Die munisipaliteit het die besluit geneem vir die veiligheid van ons inwoners en besoekers,” sê Mlata. “Ons het net ses Covid-19-hospitaalbeddens in die twee hospitale in ons omgewing. Ons wil mense beskerm en hulpbronne spaar,” sê hy.

Die munisipaliteit het volgens hom onderneem om alle kampeerders se geld terug te betaal, wat baie van hulle volgens hom aanvaar het.

Hy sê ons leef in ongekende tye en die feit dat die Cederberg-gebied as ’n brandpunt geïdentifiseer is, maak dat strenger maatreëls nodig is, soos om die Lambertsbaai en Elandsbaai-kampterrein asook die Clanwilliamdam-oord te sluit.

“Ons tree op in die beste belang van die mense van die Cederberg. Ander munisipaliteite soos dié in Mosselbaai en Hartenbos neem hul eie besluite, en kampeerders in Lambertsbaai moenie voel daar word onregverdig teenoor hulle opgetree nie.

“Ons tree proaktief op om te verseker dat ons niemand se lewe in gevaar stel nie en voldoen aan wetlike vereistes.”

Sommige kampeerders het gesê hulle is hartseer omdat dié vakansie hul enigste tyd as familie bymekaar was en dat hulle net een keer ’n jaar saam met hul kinders en kleinkinders kan kuier.

Dr. John Hayes, enigste algemene praktisyn op die dorp wat alle Covid-19-pasiënte in die omgewing sien, sê hy het nog nie ’n enkele positiewe persoon uit die woonwapark gesien nie.

Hy sê hy het self ’n slegte ervaring met munisipale beamptes gehad toe hulle glo op hom gevloek en skel het nadat hy Crafford se dogter vir middeloorontsteking in die kamp behandel het.

“Hulle het vir my gesê ek hoort nie daar nie en was baie aggressief,” sê Hayes, voormalige voorsitter van Lambertsbaai se sakekamer.

Meer oor:  Lambertsbaai  |  See  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Kampeer  |  Covid-19  |  Sluiting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.